Sy het die nuus Dinsdag op Instagram aangekondig en vertel Tobi het die jawoord verlede week voor haar Griekse familie gevra. 

“Ons bly al meer as vier jaar saam, ons het twee pragtige honde, ’n ongelooflike onderneming . . . en bo dit alles . . . het Tobi verlede week op een knie neergesak en my gevra om met hom te trou – voor my familie,” het die donkerkop, wat op 26 jaar ’n multimiljoenêr en wêreldberoemd is, geskryf. 

“Ek het natuurlik ja gesê om die res van my lewe saam met my heel beste vriend deur te bring,” het sy verder laat hoor.

“Ons is nou al vyf en ’n half jaar saam en ek kan nie wag vir die vele jare en herinnerings wat nog voorlê nie. Ek is so lief vir jou.”

Kayla is in 2016 deur die Amerikaanse nuustydskrif Time aangewys as een van die 30 invloedrykste mense op die internet. Sy en Tobi het in 2017 onderskeidelik die 40ste en 41ste plek beklee op die Australiese lys rykstes onder 40. 

Tobi is na raming sowat R552 miljoen sterk, terwyl Kayla se waarde op sowat R756 miljoen geraam word.

Haar rykdom is hoofsaaklik te danke aan haar oefenprogram, bekend as Bikini Body Guide, wat sy en Tobi in 2012 opgebou het. Die program duur 28 minute per sessie en duur 12 weke. 

Kayla se aanhangers deel veral op Instagram foto’s van voor en ná hul 12 weke om die uitwerking van die oefenprogram op hul voorkoms te wys. 

Honderdduisende van haar 9,4 miljoen aanhangers het op Instagram die paartjie gelukgewens met die nuus van hul verlowing. 

Haar groot diamantring het ’n vierkantige vorm en word met ’n witgoudband afgerond. 

Kayla het al op Instagram vertel haar gesin lyk soos dié in die Griekse flieks waar almal heeltyd saamkuier. 

En met so 'n agtergrond kan haar aanhangers, wat hulle “Kayla’s Army” noem, waarskynlik ’n vet, Griekse troue verwag.