“Hulle is vreeslik bly om met mekaar herenig te wees,” sê Smiley se prokureur, Latham Dixon.

Ons gaan vanaand vir seker ’n braaitjie hou om ons kind terug te verwelkom
Jan van Wyk

“Ons is in ekstase!” het Jan van Wyk, Smiley se pa, ná die verrigtings in die landdroshof in Pretoria-Noord aan Huisgenoot.com gesê.

“Hy is nou ’n ander laaitie,” het hy gesê oor Smiley, wat reeds by die huis met sy ouers, broers en susters herenig is.

“Ons gaan vanaand (Woensdag) vir seker ’n braaitjie hou om ons kind terug te verwelkom.”

Jan en sy vrou, Judie, het nooit aan hul oudste seun se onskuld getwyfel nie. Hulle het geglo hy het net ’n groot fout gemaak deur homself oor te gee vir onder meer die verkragting van en moord op Anika Smit.

Huisgenoot het vroeër berig Smiley het beweer hy het dit onder dwang gedoen nadat mense by ’n kuierplek gedreig het hom sy familie skade aan te doen as hy hom nie oorgee nie.

Die klagte van moord, verkragting en lykskending teen hom is voorlopig teruggetrek.

Smiley het homself in September 2016 oorgegee en gesê hy het die 17-jarige Anika in 2010 vermoor. Hy het ander bekentenisse gemaak, maar dit later teruggetrek. 

Die geregtelike ondersoek na Anika se dood sal nou weer voortgaan; Smiley is voortaan ’n belanghebbende in die saak.

“Omdat Anika en Smiley in dieselfde skool was (Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord), ken hy baie mense wat haar geken het.

“Dit sal goed wees as hy antwoorde kan help verskaf en kan help om die regte moordenaar op te spoor,” sê Latham.

Dis onduidelik of Smiley van regsverydeling aangekla gaan word.

“Dit is ’n moontlikheid,” sê hy.

“Die staat sal dit moet heroorweeg. Dit kan in die toekoms gebeur.”

Anika se naakte lyk is op 10 Maart 2010 in haar pa se huis gevind. Haar hande was afgekap en is nooit gevind nie.

“Dit is ’n goeie dag vir Smiley en sy gesin. Nou kan die soektog na die regte moordenaar voortgesit word.”