Radius Masukume (50) van Kaapstad, nadat hy aangev
Radius Masukume (50) van Kaapstad nadat hy deur twee verkragters aangeval is terwyl hy ’n vrou gered het. Foto: Verskaf

Radius het verlede jaar die nuus gehaal toe hy 'n vrou gehelp het wat helder oordag verkrag is.

“Ek het nog nie gehoor hoe dit met die vrou gaan nie, maar ek wens haar God se seën toe. Wat ek gesien het, moet geen mens sien nie,” vertel die 50-jarige bouer aan Huisgenoot.

Die verkragters is nog nie in hegtenis geneem nie. Hulle het hom verskeie kere met messe in sy gesig en lyf gesteek toe hy hulle wou verwilder om die vrou te red.

“Ek het dit gedoen, want my ouers het my grootgemaak om ander mense te help,” vertel hy. Sy ouers, Jabulani (85) en Lidille (60), is steeds in Zimbabwe waar hy grootgeword het.

“Ek is die pa van ses kinders en sal wil hê iemand moet hulle help as hulle in die moeilikheid is,” verduidelik hy waarom hy so opgetree het. Sy 29-jarige oudste, Tandikile, is 'n winkelbestuurder in Engeland.

Op 10 Oktober verlede jaar het hy verby ’n veldjie in Table View naby Kaapstad geloop en gesien hoe die twee mans helder oordag ’n vrou verkrag. Hy het dadelik gehardloop en die mans verjaag en hulle het hom aangeval.

Paramedici op die toneel wat hom en die vrou behandel het, was baie diep geraak deur wat hy gedoen het.

Chloe Kellerman, wat die wonde verbind het, het dit op die Facebook-blad Keep The Energy gedeel. Dié groep het ten doel om stories van die slagoffers van veral geweld teenoor vroue en kinders, te deel.

In November is hy met ’n spesiale eerbewys beloon toe die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling hom as SA Man van die Jaar vereer het.

“Ek het Johannesburg toe gevlieg vir die prys en in ’n hotel geslaap,” vertel Radius.

Vorige ontvangers van dié prys sluit in die advokaat George Bizos, die entrepreneur en eiendomsontwikkelaar Richard Maponya en die atleet Bruce Fordyce.

“Al het ek nou letsels aan my gesig, sal ek dit weer doen,” vertel Radius.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.