In sy gloriedae was hy die lemnaeler, die sportheld wat die wêreld se bewondering afgedwing het met die manier waarop hy sy liggaamlike gestremdheid oorkom het.

Selfs sonder bene was die gewese Paralimpiese atleet die toonbeeld van fisieke krag en gesondheid. Aantreklik, skatryk en beroemd.

Maar dit was voor Oscar Pistorius sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet en in Julie 2016 sy tronkstraf vir moord begin uitdien het.

Dit het gekom nadat Oscar reeds in Oktober 2014 deur regter Thokozile Masipa in die hooggeregshof in Pretoria aan strafbare manslag skuldig bevind en tot vyf jaar korrektiewe toesig gevonnis is. Hy het 12 maande uitgedien voor die vonnis omgeskakel is na ’n straf om verder buite die gevangenis uitgedien te kan word.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe wend die staat hom tot die appèlhof, wat die uitspraak na moord verander.

Masipa het Oscar toe ses jaar vir moord opgelê. Weer het die staat geappelleer. Dié keer teen die “skokkend” en onvanpas ligte vonnis.

Op 24 November is die vonnis van ses jaar tot 13 jaar en vyf maande verleng.

Die vonnis wat hy reeds vir strafbare manslag uitgedien het, is toe ingereken om altesaam die minimum vonnis van 15 jaar te weerspieël. Huisgenoot het in Februarie 2015 onthul dat Oscar se gevangenskap (destyds in die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria) ’n tol van hom eis.

Hy het gewig en spiermassa verloor en glo versigtig geëet omdat hy bang was hy word vergiftig.

Nou is sy hoop om al in 2019 vir parool te kwalifiseer verpletter nadat die appèlhof in Bloemfontein sy moordvonnis verleng het.

Dit beteken Oscar sal eers in omstreeks 2024 vir parool in aanmerking kom en eers einde 2029 vrygelaat word indien hy sy volle vonnis uitdien. Oscar is nou 31 en sal 38 jaar oud wees wanneer hy vir parool in aanmerking kom.

Hy sal ongeveer 43 wees as hy eers vrygelaat word nadat hy sy volle vonnis uitgedien het.

Watter spore gaan die swaarder straf op Oscar laat, en hoe sal die ouer atleet lyk wanneer die seldeur eindelik eendag oopswaai en die wêreld hom weer sien?

Volgens dr. Llewellyn Curlewis, senior lektor in strafprosesreg aan die Universiteit van Pretoria, sal Oscar nou eers in omstreeks 2024 vir parool in aanmerking kan kom.

“Maar parool is ook nie gewaarborg nie,” sê Llewellyn. “Die paroolaansoek word outomaties ná die verstryking van die helfte van die termyn van opgelegde tronkstraf aangehoor. Verskeie faktore, insluitend of die gevangene gerehabiliteer is, word in ag geneem.”

Llewellyn meen sou Oscar hom as modelgevangene gedra, sal dit hoogs onwaarskynlik wees dat hy nie parool sal kry voor sy vonnis verstryk nie.

Hoe voel Oscar en die Pistorius-familie oor die vooruitsig van nog jare agter tralies?

Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Met ons kan dit net op een manier gaan en dit is sleg,” sê sy pa, Henke Pistorius.

“Met Oscar gaan dit onder omstandighede so goed soos ’n mens kan verwag.”

Oscar se omstandighede het glo verbeter nadat hy na die Atteridgeville-tronk buite Pretoria verskuif is. Maar ’n tronk is steeds nie ’n vakansieoord nie.

Volgens kenners kan die langer tronklewe Oscar opsigtelik verouder en kan hy heelwat anders lyk wanneer hy eendag weer ’n vry man is.

Sy emosionele welstand is een van die faktore wat gaan bepaal hoe hy die jare dra wanneer ons hom eendag weer buite die tronk sien. So sê dr. Deon Weyers, plastiese en rekonstruktiewe chirurg van die Life Fourways-hospitaal in Sandton, waar onder meer botoksinspuitings gebruik word om pasiënte se sigbare veroudering te vertraag.

Hy wys daarop dat gevangenes gedurig verhoogde spanningsvlakke verduur en tronke hulself dikwels nie verleen tot goeie of selfs basiese instandhouding van die liggaam nie. Deon meen wel dit tel in Oscar se guns dat hy ’n groot deel van sy lewe baie fiks was en gesond geëet het.

Dis ’n goeie fondament om versnelde veroudering teen te werk. “Die stres van die ervaring (gevangenskap) kan sekerlik tot ’n mate van depressie lei. Gedurige onderliggende stres kan veroorsaak dat die gehalte van die vel afneem."

"’n Mens hoop hy sal nie gewoontes soos rook tydens hierdie stresvolle tyd opneem nie. Dit sal vervroegde veroudering en hardnekkige plooie veroorsaak.”

As Oscar sleg slaap, kan hy prominente sakke onder sy oë en donker kringe ontwikkel. ’n Mens kan ook ’n effense afsakking van die wenkbroue en los vel op die boonste ooglede verwag.

“Plooie om die oë en veral tussen die wenkbroue sal prominenter raak. Aan die onderste helfte van die gesig behoort dalk ’n bietjie vetverlies te wees, veral in die wange en onder die wangbene.”

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit kan plooie om die neus en mond prominenter maak. “Ons kan net vertrou die departement van korrektiewe dienste sal verseker dat die voedingswaarde van kos voldoen aan die vereiste dosisse vitamiene en ander elemente. Maar daar was dalk aanvullings waaraan Oscar gewoond was en wat hy nie meer kry nie. Dit kan ook lei tot vervroegde veroudering wat vergrote porieë en velelastisiteit betref.”

Die skoonheidsghoeroe Hannon Bothma is daaraan gewoond om stylwenke vir die sterre te gee. Sy ontleding stem baie ooreen met dié van Deon.

“Oscar het gelukkig ’n Mediterreense veltipe (wat effens donkerder is en nie so sensitief vir sonlig nie), maar hy sal wel heelwat spierdefinisie in sy wange verloor. Dit sal holler wange veroorsaak"
- Hannon

“Die sogenaamde marionetlyne tussen die neus en mond sal verdiep en die wenkbroue sal sak. Die vel oor die ooglede en die mondhoeke hang ook meer namate ’n mens ouer word.” Hannon dink ook die lewe agter tralies kan daartoe lei dat Oscar prominente holtes en pofferige sakkies onder sy oë ontwikkel.

“Weens min son, stres en ’n swak dieet sal hy bleek word. Die gebrek aan son veroorsaak ook ’n pienk tot rooi skynsel om die ooglede.”

Hannon meen Oscar se reeds hoë haarlyn op sy voorkop sal waarskynlik verder terugskuif wanneer die voorste hare uitval.

“Hy sal ook gryser word.”

‘Die tronk is nie ’n plek waar die manne oogroom aansmeer nie’

Om vinnige veroudering hok te slaan, sal hy die veggees moet wys wat eens van hom die bekende lemnaeler gemaak het, glo die voorkomskonsultant Maureen Grobler van The Beauty Brand in Pretoria.

“Die tronk is nie werklik ’n plek waar die manne oogroom aansmeer nie. Dit is ’n harde, aftakelende omgewing. Alles gaan daarvan afhang of Oscar die besluit gaan neem om nie meer om te gee nie,” sê sy.

Maureen meen hoe Oscar gaan verouder, sal afhang van hoe hy sy omstandighede weerstaan en hoe emosioneel sterk hy gaan wees.

“In die gevangenis is dit ’n kwessie van dwelms en bendes. Die mans se vel, veral hul hande, raak soos leer weens die uitmergelende omstandighede. Daar is nie luukses in die tronk nie.”

Maar oorlewing en nie hoe jy lyk nie is die grootste prioriteit. Sy glo as Oscar sy selfrespek behou, kan hy oor sowat sewe of agt jaar – of wanneer die seldeur ook al vir hom oopswaai – nog goed lyk.

“Oscar kan spierdefinisie behou deur te oefen; hy kan steeds met tye in die son wees, al is dit min.”

Sy sien daagliks in haar werk hoe ’n groot rol persoonlike higiëne speel. Sy familie kan hom steun deur die produkte wat hy nodig het en toelaatbaar in die tronk is vir hom te neem. Veral vitamiene kan vir hom van groot waarde wees.

“Ek kan met alle sekerheid sê hoe hy eendag gaan lyk, sal beslis van sy selfwaarde afhang. Dit is die besluit wat Oscar sal moet neem,” sê sy.

2013
2014
2015
2016
 Foto's: Gallo Images/Reuters, Beeld/Herman Verwey, Gallo Images/Getty Images