Die top-eetplek in die Britse hoofstad is toe . . . ’n foprestaurant!

Jy lees reg.

’n Plek waar niemand nog geëet het nie – omdat dit nie bestaan nie – is onlangs as die gewildste restaurant in Londen aangewys. So iets was seker te wagte met dié dat fopnuus so algemeen geraak het. Blatante wolhaarstories opgedis as die reine waarheid is volop in die sosiale media en word ongelukkig soos soetkoek opgeëet.

Dis dié dat ’n Britse joernalis, ’n poetsbakker van formaat, besluit het om te toets hoe ver hy die kullery kan voer. Oobah Butler (26), ook ’n akteur en komediant, het dit reggekry dat sy beskeie woonplek, ’n onversorgde buitegebou en agterplaas in Suid-Londen, op die reiswebtuiste TripAdvisor as Londen se toprestaurant aangewys word.

“As ek my tuin in Londen se beste restaurant kan omskep, is absoluut enigiets moontlik”

“As ek my tuin in Londen se beste restaurant kan omskep, is absoluut enigiets moontlik,” skryf hy oor sy sosiale eksperiment op die nuuswebtuiste vice.com.

En nou het sy verbysterende toertjie wêreldwyd die nuus gehaal. As Oobah, wat hom ook al in ’n verspotte Sacha Baron Cohen-agtige uitrusting by die pretensieuse Paryse Modeweek in Frankryk as ’n Italiaanse ontwerper voorgedoen het, nog nie bekend was vir sy eiesoortige eksperimente nie, is hy beslis nou.

Lank voor hy hom op sulke eksperimentele “speurwerk” begin toespits het, het Oobah die pot aan die kook help hou deur vals resensies op webtuistes soos TripAdvisor te skryf. Restauranteienaars sou hom £10 betaal om goeie dinge oor hulle kwyt te raak, al het hy nog nooit by hulle geëet nie.

So raak hy toe behep met dié eetplekke se internetgraderings en sien sy “resensies” het hul lot help bepaal. “En toe kry ek dié openbaring: Is ’n foprestaurant dalk moontlik in die heersende klimaat van disinformasie en die samelewing se bereidwilligheid om absolute s***** te glo? Net daar word dit toe my missie: Ek sou my tuin- huisie deur vals resensies, mistiek en nonsens in Londen se bes gegradeerde restaurant omskep,’’ skryf hy op sy blog oor die kreatiewe eksperiment.

Eers moes hy die naam vir sy “eetplek”, The Shed at Dulwich, se bestaan verifieer en dit gelys kry by TripAdvisor, die gewildste toerisme-webhulpbron in Amerika, met sowat 200 miljoen gebruikers daar en in Brittanje.

Sommer met ’n sogenaamde “burner”, ’n goedkoop, weggooibare selfoon van R180, maak hy toe in April verlede jaar ’n rekening vir sy “restaurant” by die webdiens oop. Die adres was byna ’n haakplek, want skeptiese feiteverifieerders en aspirantgaste sou hom vroeg reeds kon ontmasker.

“Ek het immers tegnies gesproke nie eens ’n voordeur nie,” skryf hy op sy blog.

Toe gee hy net sy straatnaam in die Dulwich-buurt aan, g’n straatnommer nie, en verklaar The Shed tot ’n restaurant waar jy “net op afspraak” kan eet. Twee vlieë met een klap, want so kry sy eetplek toe ’n klankie van eksklusiwiteit.

Hy het ’n webtuiste ontwerp, ewe met ’n spoggerige spyskaart: al die geregte genoem na emosies of gemoedstoestande, soos Lust, Empathetic, Comfort en Contemplation. Natuurlik ook kiekies: Saam met ’n beroepsfotograaf het hy ’n reeks fopfoto’s geskep waarin hulle onder meer bleiktablette, skeerroom en selfs van Oobah se ledemate na watertand-fynproewerskos laat lyk het.

“Met die konsep, logo en spyskaart onder die knie, het alles begin vorm kry. Ek het my TripAdvisor-vorms ingedien,” vertel hy.

En sowaar, binne ’n maand daarna, in Mei, kry hy ’n e-pos: “Ons is bly om jou mee te deel dat jou lystingsversoek goedgekeur is en op ons webtuiste is vir almal om te sien. Die TripAdvisor-span.”

Maar nog konkelwerk het voorgelê. In daardie stadium was The Shed heel laaste, 18 149ste, op die webdiens se gewildheidslys van Londense restaurante. Oobah het toe verskeie vriende, familielede en bondgenote gevra om kamma-resensies vir sy restaurant te skryf.

Almal moes uiteenlopend wees en van verskillende rekenaars af gestuur word om bedrognaspeuringstelsels te flous. Die meerderheid “resensente” het The Shed volpunte gegee, maar Oobah-hulle het ter wille van geloofwaardigheid ook plek-plek iets onvleiends ingevleg.

As dié wat so oor sy “fynproewerskos” gekwyl het net die groter prentjie kon sien! Ja, dis sy voet!

Soos een vrou wat gekla het oor ’n vlek op ’n kniekombersie, maar desondanks vyf sterre toegeken het. En kort voor lank het dit, soos hy dit stel, “begin handuit ruk”. The Shed het ál vinniger teen die graderingslys uitgebeur, verby die 15 000- en 10 000-kerf . . . tot in die 100’s teen Augustus verlede jaar.

Daardie weggooibare selfoon het ál meer begin lui en sy altyd hoflik-verskonende reaksie soos “ons is volbespreek vir die volgende ses weke” of “ons het ’n doopgeleentheid” het net smulpape se lus aangevuur om daar te eet.

Hy het die misterie verder aangewakker met kriptiese vrae soos of die inbellers sus en so ken (wat kastig wel plek gekry het) en hoeveel Instagram-volgelinge hulle het. Maar op ’n dag het Oobah gedink sy doppie is geklink toe hy van TripAdvisor ’n e-pos kry met die opskrif “Inligtingsversoek”. Toe nie: The Shed het die vorige dag 89 000 kykslae aangeteken en die versoek was bloot vir nog inligting vir voornemende klante.

“’n Restaurant wat nie bestaan nie is die hoogste gegradeer in een van die wêreld se grootste stede, op waarskynlik een van die internet se mees vertroude resensiewebtuistes”

En wraggies, in November 2017 word The Shed nommer een op die webtuiste se lys van gewilde Londense restaurante.

“’n Restaurant wat nie bestaan nie is die hoogste gegradeer in een van die wêreld se grootste stede, op waarskynlik een van die internet se mees vertroude resensiewebtuistes,” som Oobah dit op.

Hoe op aarde? Op pad na die topstatus het hy reeds besef: “Die afspraakvereiste, gebrek aan ’n adres en die algemene eksklusiwiteit was so aanloklik dat mense se gesonde verstand hulle in die steek gelaat het.”

Volgens Oobah was The Shed twee weke lank nommer een, en beelde op ’n internetargiefdiens bevestig dat dit minstens etlike dae lank bobaas was. TripAdvisor se reaksie op Oobah se pypkan van hul hekwagterprosesse? “Die meeste bedrieërs stel net daarin belang om die gradering van werklike ondernemings te manipuleer; daarom spits ons inhoudspesialiste hulle daarop toe.

Gewoonlik is die enigste mense wat vals restaurantlysings skep joernaliste met hul onbesonne pogings om ons te toets. Aangesien daar vir niemand in die werklike lewe enige aansporing is om ’n foprestaurant te skep nie, is hierdie ‘toets’ nie ’n werklike voorbeeld nie,” het hulle botweg verklaar.

Maar daar was wel ’n finale kinkel in Oobah se gekonkel. Kort nadat The Shed nommer een geword het, besluit hy toe om wel sy “restaurant” een aand oop te maak. Hy het sy agterplaas skoongemaak en ’n paar tafels uitgesit, een selfs op die tuinhuisie se dak.

’n Vriend is gevra om “sjef” te speel en akteursvriende is genooi om hulle voor te doen as gaste wat alles vreeslik geniet. En toe het hy oplaas ’n paar besprekings aanvaar. Die werklike klante is geblinddoek tot by hul tafels gelei, kastig as deel van die unieke ervaring, maar eintlik sodat hulle nie te veel van die perseel sien nie.

Kitsmaaltye soos poeiersop, klaarbereide groentelasagne en macaroni-en-kaas is voorgesit. Hy het die hele voorraad vir minder as 31 pond (R550) by ’n plaaslike afslagsupermark, Iceland, gekoop.

Van sy gaste het blykbaar die kloutjie by die oor gebring en is bra omgekrap daar weg, maar ten minste een het gemeen dit was ’n heel sonderlinge, genotvolle ervaring. Hy wou weet of hy en sy maat maar solank vir die volgende ete kan bespreek.

En volgens Oobah het nie ’n enkele gas agterna negatiewe inskrywings op TripAdvisor gemaak nie. Genadiglik was die openingsaand van “Londen se toprestaurant”, The Shed at Dulwich, toe ook sy swanesang.

Bronne: Instagram, vice.com, YouTube, Twitter, AFP, The Washington Post, geniuskitchen.com