Die oostelike dele van die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Gauteng sal veral die uitwerking van deurlopende hoë temperature voel.

Wees gewaarsku, ’n hittegolf is ’n ernstige saak, want benewens die ongemak wat dit by mens én dier veroorsaak, kan dit ook lewensgevaarlik wees.


Ontwatering, hitte-uitputting en sonsteek is maar net drie van die grootste risiko’s wat hoë temperature inhou.

Oorverhitting, veral vir diegene wat reeds met hart- of asemhalingsprobleme sukkel, lewer ook ’n stewige kwota komplikasies.

Die kwesbaarste mense is veral bejaardes ouer as 75, babas en jong kinders, diegene wat mobiliteitsprobleme ervaar (byvoorbeeld weens ’n beroerte of parkinsonsiekte) en mense wat alkohol of dwelms misbruik.

Aktiewe mense, hetsy diegene wat sport in die hitte beoefen of wat fisiek hard in die buitelug werk (byvoorbeeld arbeiders), moet ook versigtiger te werk gaan tydens ’n hittegolf.

Wat is 'n hittegolf?

Die weerdiens verduidelik 'n hittegolf as volg: Wanneer die maksimum temperatuur by 'n spesifieke dorp 5 °C of meer bo die gemiddelde temperatuur van die "warmste maand" vir daardie spesifieke plek meet, en die toestand vir minstens drie dae voortduur.

Vasgevang in 'n warm motor tydens 'n hittegolf

Oorlewingswenke
  • Trek die gordyne of hortjies voor vensters toe (tuis of by die werk).
  • Bly binnenshuis indien moontlik en vermy oefening gedurende die warmste deel van die dag.
  • As jy nie ’n waaier of lugreëling binnenshuis het nie, kan jy selfs jou voete in ’n houer met water sit. Nat handdoeke oor die skouers of om jou kop sal jou ook help om af te koel.
  • Vul ’n spuitbotteltjie met water en spuit dit sporadies rondom jou.
  • Neem gereeld ruskanse as jy buitenshuis moet werk.
  • Moet nooit kinders, verswaktes of troeteldiere in ’n toe motor los nie.
  • Maak seker jy neem genoeg vloeistof in, selfs al is jy nie dors nie.
  • Vermy drankies met kaffeïen en alkohol en drink eerder water, lae-vet melk, vrugtesap of smoothies.
  • Eet kleiner maaltye en verkieslik meer gereeld. Berei vars kos waarvoor jy nie ’n stoof hoef aan te skakel nie om die hitte te help verminder. Tamaties, komkommers, appels en waatlemoen is uitstekende bronne vir hidrasie.
  • Dra lospassende, liggewig, lig in kleur-klere. Linne en katoen absorbeer sweet en laat jou liggaam beter “asemhaal”. En sit ook jou sonbril op wanneer jy buite moet wees.

Diere

  • Maak gereeld seker dat jou diere toegang tot vars water buite, sowel as binne jou huis het.
  • Jy kan hulle selfs ’n koel bad of stort gee om hulle te help afkoel.
  • As jy jou hond vir ’n stappie moet neem, is dit beter om teeroppervlakte te vermy. Dit kan hul pootkussinkies brand. Kies liewers koers gras toe.
  • Wees gewaarsku: Pugs en Persiese katte loop ’n groter risiko van oorverhitting.
  • Sit gerus ook water in ’n houer in jou tuin vir ander diertjies, voëls en selfs insekte. As jy nie ’n vlakkerige houer het nie, kan jy byvoorbeeld ’n klip binne-in die houer sit sodat die kleiner diertjies in en uit kan klim.

Bronne: mnn.com, alimentsduquebec.com, nhs.uk, medicinenet.com