Tot onlangs het die meeste Suid-Afrikaners nog nooit van Angelo Agrizzi gehoor nie – nou is hy nie net ’n bekende naam nie, maar ook ’n werkwoord en ’n woordspeling.

As jy iets ontbloot, “Agrizze” jy. Karakters kan “Agreasy” wees en mense se palms kan “Agrease”.

Vergeet van ’n miernes oopkrap – die fris geboude man in die pak en das het sommer ’n krat slange losgelaat toe hy Jacob Zuma en ’n rits dienende ministers tydens sy dramatiese getuienis vir die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping geïmpliseer het. 

Agrizzi-spoghuis
Angelo Agrizzi se herehuis in Fourways, Johannesburg, is op meer as een webtuiste geadverteer, maar later verwyder. Foto: Privateproperty.co.za

Dié fluitjieblaser, die 51-jarige Angelo, is die voormalige bedryfshoof van Bosasa, die maatskappy wat na bewering jare lank geknoei het met tenders vir spyseniering, veiligheid en ander dienste vir staatsdepartemente en -maatskappye. 

Angelo beweer die verwydering van ’n gewas aan sy hart het by hom ’n ­gemoedsomkering ontketen.

Toe hy verlede jaar by die dood omdraai, het hy glo besluit om die beweerde ongerymdhede by sy voormalige werkgewer aan die groot klok te hang.

“Ek was in ’n koma, en toe ek bykom, het ek en my gesin ’n besluit geneem dat ons sou skoonmaak waar ons voorheen foute gemaak het,” het hy aan die kommissie gesê. 

“Skoonmaak” het beteken om te ontbloot wat na bewering onder die leier­skap van Gavin Watson by Bosasa aangegaan het.

Dié grootbaas het na bewering opdrag gegee dat miljoene rande omkoopgeld in ruil vir winsgewende tenders aan staatsamptenare betaal word. 

Maar Angelo het oënskynlik ook voorheen baat gevind by sy maatskappy se stewige inkomste.

Agrizzi
Agrizzi se woning van binne. Foto: Privateproperty.co.za
Agrizzi
Die voorportaal van Agrizzi se luukse woning. Foto: Privateproperty.co.za

Hy het minstens een Ferrari bestuur, in ’n herehuis in Fourways, Johannesburg, gewoon en besit glo ’n vakansiehuis in Italië. 

Hy was bereid om dit alles op te offer in die naam van die waarheid, het hy in sy getuienis vertel.

Hy is nou in veilige bewaring, en gerugte het geloop dat hy Italië toe sou vlug nadat hy sy getuienis op 29 Januarie afgehandel het. 

Intussen is sy “rooi karre”, soos wagte in sy veiligheidskompleks in Fourways sy sportmotors noem, weg en lyk sy ruim vyfslaapkamerhuis verlate.

Die lewe soos Angelo dit geken het, het verdwyn die dag toe hy die nes oopkrap . . .Maar wie ís die omstrede uitprater – en wie was hy voor hy uit die skadu getree het? 

Angelo is in Germiston, Gauteng, in ’n werkersklasgesin van Italiaanse afkoms gebore en getoë.

Hy het aan die Hoërskool Germiston skoolgegaan en moes van 14 jaar af deeltyds werk om sy skoolopvoeding en studie te betaal. 

In 1986 het hy vir ’n spysenierings-diploma van drie jaar by die Witshotel­skool ingeskryf en nauurs as ’n sjef in ’n restaurant gewerk, skryf hy in sy ver­klaring aan die Zondo-kommissie. 

“Ná my eerste jaar van studie het ek ’n prys as die beste student ontvang. Toe besef ek ek kan nie terselfdertyd werk en studeer nie; daarom moes ek my studie verlaat.”

Hy het by die restaurant vas­gebyt en kort voor lank het die ambisieuse jong man begin opgang maak.

In 1989 is Angelo as ’n projekbestuurder van grootmaatspyseniering by ’n gasvryheidsmaatskappy aangestel, en ’n rits bevorderings in die bedryf het gevolg. 

Sy verhouding met Bosasa het in 1999 begin toe dit nog as Dyambu Operations bekend was.

Hy is in ’n taamlik “bisarre aanstelling” as bemarkingskoördineerder aangestel, sê hy.

Gavin Watson het volgens hom die pos “net daar” vir hom aangebied.

Agrizzi
Angelo en sy vrou, Debbie, op een van haar plakboekbladsye. Foto: Facebook/Debbie Agrizzi.

“Tot my verbasing en voor ek op die aanbod gereageer het, is ’n maatskappydas en -baadjie aan my oorhandig. Ek het my werk bedank en vir Gavin begin werk.” 

Toe was hy en sy vrou, Debbie, al nege jaar getroud en het die egpaar al twee kinders, Giancarlo en Natasha – tans besig met haar meestersgraadstudie in internasionale verhoudings by Wits – gehad. 

Die Agrizzi’s is glo ’n hegte, godsdienstige gesin. In die sosiale media deel Debbie en Natasha aanhalings soos “Met God is alles moontlik” en “Jesus is my heel beste vriend”.

Debbie se blad bevat foto’s van wat skynbaar haar man in sy jare as ’n jong sjef is. Sy het ook ’n dubbelblad vol foto’s van hul troue gedeel.

Op een kyk ’n bruidegom met roos­kleurige wange stralend na sy bebrilde bruid.

’n Onlangse kiekie toon die egpaar met hul arms om ­mekaar buite ’n Ferrari-museum, met Angelo wat sy vrou op die voorkop soen. 

Debbie maak ook graag self plakboeke en het ’n blog hieroor wat sy “Scrapping and More” noem.

Agrizzi
Debbie maak graag plakboeke en het hierdie versameling troufoto’s in die sosiale ­media gedeel. Foto: Facebook/Debbie Agrizzi.

Daarop deel sy gereeld foto’s van kunstig versierde bladsye wat met piepklein papierblomme en ander tierlantyntjies versier is. 

Die lot van die Agrizzi-­huis lyk on­seker. Luidens berigte is die eiendom op die Helderfontein­landgoed vir R13,4 miljoen in die mark en het dit op ’n hand vol eiendomswebtuistes as “te koop” opgeduik, maar is dit weer ver­wyder nadat Angelo gevra is hoekom hy trek. 

’n Sekuriteitswag het aan die Sunday Times gesê mense het die huis kom besigtig.

“Die klere is weg en die rooi karre is klaar uit,” het hy ­by­gevoeg. 

Volgens die Private Property-advertensie het die huis ’n “karaktervolle argitek­toniese styl met ’n Franse tema, moderne geriewe en ’n omgewings­vriendelike vooraansig”.

Dit is op 1 500 m² geleë en het vyf en ’n half badkamers, vyf leef­vertrekke, drie motor­huise, ’n uitgelêde tuin en soutwaterswembad. 

Ná die berig het ’n duidelik geïrriteerde Angelo volgehou hy verkoop nie om te emigreer nie en het net beplan om vir ’n vakansie na sy huis in Italië te gaan.

“Dit is net ek en my vrou wat in die huis woon. Ons het beplan om na ’n meenthuis te trek, maar omdat ek in ’n getuiebeskermingsprogram is, gaan ek nou in ’n hotel tuis.” 

Giancarlo Agrizzi het ook blykbaar sy ouers se huis op sy boeke gehad. Volgens die webtuiste van die Hamp­tons Realty Group in Johannesburg is hy “die jongste lid van ons uitvoerende span”.

Hy het ingestem om vir mense die ­eiendom te wys voor dit skynbaar van die mark gehaal is.

Agrizzi
Die Agrizzi’s se dogter, Nata­sha, is besig met haar meestersgraad. Facebook/Giancarlo Agrizzi.
Agrizzi
Hul seun, Giancarlo, en sy vrou, Nikita, saam met hul eersteling. Foto: Facebook/ Giancarlo Agrizzi

Giancarlo het ’n meestersgraad in politieke wetenskap van Wits en het sy loopbaan as uitvoerende hoof van die ANC-koukus in Gauteng begin, “waar hy gesonde sakebeginsels en -praktyke gevestig het wat steeds tot verhoogde doeltreffendheid en werksaamhede bydra”, lui die Hamptons se webtuiste.

Sy amptelike titel by die eiendomsgroep is besturende direkteur en ­mede-eienaar.

Terwyl sy pa in die getuiebank gesit en die land se magtigstes van korrupsie beskuldig het, het Giancarlo se vrou, Nikita, die lewe geskenk aan hul twee kind. 

Want dit maak skynbaar nie saak hoe opspraakwekkend Angelo Agrizzi se stellings voor die kommissie was nie, die lewe gaan aan. 

Ekstra bronne: The Sunday Times, The Citizen, City Press, News24