Rieka is Maandagmiddag oorlede nadat sy en haar kollega en vriendin Monichia Hendricks-Ess (30) deur ’n motor op die R316 tussen Bredasdorp en Caledon getref is. Albei vroue is op die toneel dood. 

“Sy kon goed leiding neem en het my en ons jonger boetie, Charl Francois, so mooi ondersteun. Sy het al Charl Francois se rugbywedstryde op skool bygewoon, sy het dit selfs in haar dagboek aangeteken. Ek kon enige tyd haar raad gaan vra het en gaan haar so mis as ek eendag moet kinders hê,” sê Katrien.

Die du Toit-sibbe op Katrien se troue. Foto: Versk
Die du Toit-sibbes op Katrien se troue. Foto: Verskaf

Rieka (30), Katrien (28) en Charl Francois (25) het grootgeword op ’n plaas op Villiersdorp waar hul ouers, Sonja en Charl du Toit (albei 53), geboer het. 

Katrien is in September 2020 met Dean Godfrey getroud, en Rieka het reeds haar eie kinders se stootwaentjie en bababedjie uitgesit vir wanneer dié twee eendag kinders gaan hê. 

Rieka en Katrien op laasgenoemde se troudag in 202
Rieka en Katrien op laasgenoemde se troudag in 2020. Foto: Verskaf

“Sy wou nog altyd vroeg getrou en kinders gehad het. Sy was baie lief vir kinders, en ek glo onderwys het goed gepas by dit wat sy uit die lewe wou hê.” 

Dis vir haar die moeilikste om oor Rieka as ma te praat, sê Katrien. Rieka en haar man, Jurgens, het twee jong dogters, Maja (5) en Emma (4).

Charl Francois, Sonja, Rieka, Katrien en Charl by
Charl Francois, Sonja, Rieka, Katrien en Charl by Maja as baba. Foto: Dehan Engelbrecht/Verskaf

Jurgens se stem is kalm toe hy praat oor hoe hy en Rieka mekaar ontmoet het.

“Ek was op pad terug Caledon toe vanaf my tannie se begrafnis in die Strand. Ons het toe by ’n restaurant in Caledon gestop, en Rieka was daar saam met ’n groep vroue. Een van hulle wou my graag aan Rieka voorstel en sy het toe. Die vriendin was mal oor ’n portret van ’n engel in my huis, en ons is toe soontoe sodat Rieka daarna kon kyk. Toe het sy my nommer op Facebook gevra en so het ons bymekaargekom,” vertel hy. 

Rieka en Jurgens was ses jaar getroud. Foto: Versk
Rieka en Jurgens was ses jaar getroud. Foto: Verskaf

Rieka was baie lief vir haar man en het altyd vertel hoe lekker hy haar laat lag. Dit maak haar hart bly dat Jurgens ’n groot ondersteuningsnetwerk het, sê Katrien. “Sy ouers bly net in die pad af en is so goed vir die kinders. My ouers sal ook so mooi na hulle kyk, en die dogters gaan lekker op die plaas kan kuier, by oupa se trekkers en ouma se tuin.” 

Die familie het vir Maja en Emma ’n plekkie in die huis ingerig met kersies en van Rieka se goed. 

“Gereeld dwaal Maja, en as ek weer ruik, het sy van haar mamma se parfuum aan. Klein Emma vra kort-kort hoekom haar mamma dood is. Sy stuur vir Rieka stemboodskappe op WhatsApp en sê sy moet ’n lekker dag hê daar by liewe Jesus,” vertel Katrien. 

Rieka het haar dogters ongelooflik baie liefgehad en wou net die beste vir hulle hê. Op Maja se verjaardag in Januarie vanjaar het sy als in pienk skakerings getooi. En die planne vir Emma se wilde diere-partytjie vir haar vierde verjaardag in April was reeds gemaak.

Rieka het die mooiste partytjies gereël, vertel Ka
Rieka het die mooiste partytjies gereël, vertel Katrien. Hier is Maja en Emma op Maja se verjaarsdag in Januarie. Foto: Verskaf
 

“Sy was goed met organisering, begrotings, beplanning en roetine hou. Sy kon streng wees, maar haar hart was so groot vir ander se nood.”

En haar liefde vir organisering maak dinge vir die familie ietwat makliker. 

“Ons hoef na niks te soek nie. Rieka het volgens die boek gelewe en alles goed nagevors. Alles is op sy plek, haar kaste is so netjies. Die kinders se tas vir swemlesse is gepak en daar is genoeg van hul medisyne en roompies,” vertel Katrien. 

Selfs Rieka se tuin getuig van haar liefde vir struktuur. Elke roos se naam is aangeteken. 

Sy was lief vir die lewe en haar heengaan laat ’n groot leemte in haar geliefdes se lewens. 

“Sy kon mooi sing en klavier speel. Sy het koor gesing op skool, en ons het altyd gelag oor die prys wat sy in matriek gekry het omdat sy nooit ’n koorklas misgeloop het nie,” sê Katrien. 

Katrien voeg ook by: “Rieka was lief vir grimering en haar lipstiffies van MAC, altyd sulke helder pienk kleure.”

Rieka was ook baie lief vir Charl Francois se vrie
Rieka was ook baie lief vir Charl Francois se vriendin, Marietjie (links), vertel Katrien. Foto: Verskaf

Op Facebook het Charl Francois die woorde van Amanda Strydom se liedjie "Slippers van satyn" gedeel ter nagedagtenis aan Rieka. "Dit beskryf Rieka baie goed," skryf Katrien in ’n WhatsApp-boodskap aan Huisgenoot. 

Bowenal was haar suster ’n plat-op-die-aarde mens, onthou Katrien.

“Sy was eenvoudig in haar drome, sy het eenvoudig aangetrek en eenvoudig geëet. Maar sy kon eenvoud so goed doen.

“En sy kon lekker slaap. Ek is bly dat sy nou vir ewig kan slaap sonder enige bekommernisse.”

  • Rieka se begrafnisdiens vind Saterdag, 13 Maart by Die Woud op Caledon plaas.