Rudolph Wolker van Potchefstroom het vroeër 320 kg geweeg. Foto: Gallo Images/OJ Koloti
Rudolph Wolker van Potchefstroom het vroeër 320 kg geweeg. Foto: Gallo Images/OJ Koloti

Op sy swaarste kon hy nie deur ’n deur loop sonder om sy lyf skuins te draai en homself daardeur te dwing nie. Selfs die draaihek by sy kantoorgebou was te klein – hy moes die dubbeldeur-ingang vir rolstoelgebruikers gebruik.

Jare lank kon Rudolph Wolker nie eens in ’n gewone stoel pas nie – hy was so oorgewig dat hy by troues vir hom ’n spesiale stoel moes saam karwei. 

Sy logge lyf het die naald van die skaal op 320 kg laat stilstaan en was vir hom ’n groot vernedering. Maar dit het hom veel meer as net ongemak besorg: Drie jaar gelede, op 38, het dokters voorspel Rudolph sou nie 40 haal nie. 

Sy hart het gelol, sy bloeddruk was gevaarlik hoog en hy moes weekliks pynmedikasie gebruik om met sy geswolle bene oor die weg te kom.

“Ek het geweet ek eet myself dood. Maar elke keer wanneer ek bedroef raak, wanneer ek besef hoe ek myself laat gaan, gryp ek opnuut na kos,” vertel Rudolph (41) vandag.

In sy kas was 10XL-grootte hemde en nr. 60-broeke wat spesiaal vir hom gemaak moes word. Keer op keer moes hy snedige aanmerkings aanhoor. 

“Ek het een keer vanuit ’n kitskosrestaurant gestap en ’n motoris het hardop geskree: ‘Red die walvis!’ Die vernedering het my gebreek, maar tuis het ek my weer aan kos vergryp,” vertel hy.

Toe hy op sy swaarste 320kg geweeg het was sy gewig nie net vir hom ’n vernedering nie, vertel Rudolph: dokters het ook voorspel hy sou nie 40 haal nie. Foto: Verskaf
Toe hy op sy swaarste 320kg geweeg het was sy gewig nie net vir hom ’n vernedering nie, vertel Rudolph: dokters het ook voorspel hy sou nie 40 haal nie. Foto: Verskaf

Toe hy in April 2017 aan sy vrou, Jessica Wolker (29), verloof raak, het hy homself beloof: Hy sal nie voor die kansel staan voor hy nie minstens 100 kg afgeskud het nie. 

Met Jessica se ondersteuning het Rudolph in Augustus daardie jaar ’n geen-suiker- min-koolhidraatdieet begin volg en binne vyf maande 80 kg afgeskud. Ná 18 maande het hy maar 92 kg geweeg – ’n volle 220 kg ligter – en kon hy in Februarie 2019 trou.

“Ek het nog nooit so lig gevoel nie – fisiek, maar ook emosioneel,” vertel Rudolph. “Dit was asof ek vir al die boelies gewys het ek kán; ek was nie meer hul teiken nie.” 

Nes destyds het my eie weerkaatsing in die spieël my weer begin walg – ek was woedend vir myself.

Hy het sy fikse figuur ’n jaar lank onderhou. Maar toe breek die eerste inperking weens die coronaviruspandemie verlede jaar aan – en gou-gou was hy weer meer as 60 kg swaarder.

Maar hy het hom laat verlede jaar opnuut voorgeneem om wéér gewig te verloor– en vandag het hy al 20 kg van dié “lockdown-gewig” weggebrand. Hy weeg nou net meer as 140 kg, steeds ’n volle 180 kg minder as in 2017.

“Nes destyds het my eie weerkaatsing in die spieël my weer begin walg – ek was woedend vir myself. Nou wil ek ander waarsku oor hoe maklik jy weer in daardie patroon vasgevang word.”

Rudolph op sy troudag in Februarie 2019 – meer as 200kg ligter as in 2017 toe hy 320kg geweeg het. Foto: Verskaf
Rudolph op sy troudag in Februarie 2019 – meer as 200kg ligter as in 2017 toe hy 320kg geweeg het. Foto: Verskaf

Só het die kilogramme weggesmelt

Hy het maar nog altyd met sy gewig gestoei, selfs as ’n klein seuntjie, vertel Rudolph toe ons hom by sy huis in Potchefstroom ontmoet.

Maar dis eers nadat hy as ’n bewaarder in korrektiewe dienste begin werk het dat sy gewig begin handuit ruk het. “Ek het nog nooit van iemand gehoor wat so baie soos ek kon eet nie,” vertel hy.

“Maar ek spog nie, ek skaam my dood. Op ’n ‘goeie’ aand het ek minstens twee pizzas, vyf stukke hoender met skyfies en waarskynlik nog ’n hamburger ook geëet. Wanneer ek saans my kop neergelê het, was net papiere oor.” 

Hy het weekliks tot 20 2l-bottels gaskoeldrank gedrink.

“Ek het elke liewe dag pyn ervaar – in so ’n mate dat ek soms nie op my bene kon staan nie. Dis toe ek besluit: Ek wil vir my vrou ’n man wees, ek wil haar wys ek kán dit doen.”

“Ek en my vrou was in baie opsigte emosionele eters . . . Die geringste dingetjie het ons na kos laat gryp. Maar dit was meer as net dit: ons is foodies, ons geniet kos,” vertel hy. 

Voor sy besluit om gewig af te skud, was dokters “doodbekommerd” oor sy gesondheid.

“Ek het elke liewe dag pyn ervaar – in so ’n mate dat ek soms nie op my bene kon staan nie. Dis toe ek besluit: Ek wil vir my vrou ’n man wees, ek wil haar wys ek kán dit doen. En ja, dalk wil ons selfs eendag kinders hê, iets wat nooit ’n moontlikheid vir my sou wees as ek nie gewig verloor nie.” 

’n Familielid het op die bekende 28-dae-eetplan afgekom, en hy en Jessica het in Augustus 2017 weggespring – sonder dieetpille en eetlusdempers. Die dieet sny ongesonde koolhidrate en suikers uit en verklein porsies. Op dag een eet jy byvoorbeeld soggens graankos en laevetmelk, vir middagete hoender en groente en saans ’n bordjie sop met een sny geroosterde brood en kaas – en Rudolph moes sy porsies met ’n 900 ml-bakkie afmeet.

“Ek het myself vir die eerste paar weke behoorlik jammer gekry,” terg hy nou. “Moenie vir my vrou sê nie, maar ek het hier en daar ’n ou ietsie gesteel net om die hongerpyne te stil!” 

Al het dokters hom gemaan dat hy oefening nie moet oordoen nie omdat sy risiko vir ’n hartaanval so hoog is, het hy geweet hy moet aktiewer wees as hy resultate wil sien. Hy het gereeld saam met gesonder vriende gimnasium toe begin gaan en kardio- en gewigoefeninge gedoen. 

En toe smelt die kilogramme weg . . . 

“Omdat ek soveel oortollige gewig saamgedra het, het ek vinnig verbrand – en dit het my aanhou motiveer,” vertel hy.

Rudolph het baie gesondheidsprobleme gehad – daarom het dokters voorspel hy sou nie 40 haal as hy nie iets aan sy gesondheid doen nie. Foto: Verskaf
Rudolph het baie gesondheidsprobleme gehad – daarom het dokters voorspel hy sou nie 40 haal as hy nie iets aan sy gesondheid doen nie. Foto: Verskaf

Met die aanvang van sy gewigsverliesprogram was hy so oorgewig dat hy homself by ’n skrootwerf in sy tuisstad moes gaan weeg, maar ná ses maande kon hy hom vir die eerste keer in sy volwasse lewe weer op ’n gewone badkamerskaal weeg.

“Ek het hard gewerk, want ek wou nie skaam kry wanneer ek voor die kansel staan nie. Ek wou trots voor my vrou staan – as ’n waardige man vir haar,” vertel hy.

Ek het nooit geweet hoe mooi die lewe was nie tot ek een oggend opgestaan en besef het: Ek het nie meer pyn nie; net vreugde.

Toe die egpaar vir hul wittebrood na Thailand vertrek, was hy byna 220 kg ligter. 

“Baie mense het gesê ek sal nie soveel gewig kan verloor sonder ’n maagverkleiningsoperasie nie – hulle was verkeerd, want ek hét. En toe ek gemaklik in daardie klein vliegtuigstoeltjie pas, het ek opnuut besef: Alles was die moeite werd. Want ek sou voorheen nooit saam met Jessica kon vlieg nie.” 

Boonop was sy hartprobleme, vrese vir diabetes en selfs hoë bloeddruk iets van die verlede.

“Ek was ’n nuwe mens in elke opsig – ek is steeds. Ek het nooit geweet hoe mooi die lewe was nie tot ek een oggend opgestaan en besef het: Ek het nie meer pyn nie; net vreugde.” 

Rudolph en sy vrou, Jessica, op hul troudag in Februarie 2019. Foto: Verskaf
Rudolph en sy vrou, Jessica, op hul troudag in Februarie 2019. Foto: Verskaf

Die impak van die pandemie 

Hy het sy doelgewig ’n jaar lank onderhou, maar hy kon nie die impak van die pandemie op sy lewe voorspel nie, sê Rudolph.

“Skielik is jy soos ’n dier vas in ’n hok. Dit bring frustrasie en depressie mee – en dan is dit moeilik om teen die kosmonster te baklei.”

Toe hy skielik nie kon oefen nie, het hy ál meer na kos “begin gryp” – tot hy teen Oktober verlede jaar 160 kg geweeg het.

“Jis, ek het met myself baklei. Ek kon nie glo dat ek dit aan myself gedoen het nie. Het ek nie onthou dat ek jare lank nêrens kon klere koop nie? Dat ek nêrens heen kon gaan nie? Dat my ma selfs die oorgroot klere nóg groter moes maak?” 

Dan sê hy ernstig: “Ek het myself wakker geskud en weer my kop reggekry.” 

“Jis, ek het met myself baklei. Ek kon nie glo dat ek dit aan myself gedoen het nie. Het ek nie onthou dat ek jare lank nêrens kon klere koop nie?”

Hy sny deesdae weer koolhidrate en suiker uit en volg die eetplanbeginsels, maar is minder streng, en hy maak eerder gesonde, volhoubare keuses. 

Vier maande later is hy weer 20 kg ligter, en hy mik om teen einde vanjaar 105 kg te weeg.

“Ek wil hierdie keer nie so brandmaer wees nie en ook nie so vinnig verloor nie. Dié keer sal ek regtig seker maak die ou Rudolph bly in die graf.” 

Hy spaar daarvoor om die los vel aan sy lyf kosmeties te laat verwyder – dokters skat dié weeg ’n ekstra 12 kg. 

“Ek gril maar nog steeds vir myself. Veral wanneer Jessica aan my vat. Dan vra ek haar: ‘Is ek nie vir jou grillerig nie?’ Maar ek is nie – nie vir haar nie. Want die vel is elke dag die simbool van die pad wat ek gestap het. En eendag wanneer dit weg is, sal ek vir myself in die spieël kyk en weet: Ek het my bes gedoen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe