Hoewel Demi-Leigh Nel-Peters Maandag in die vroeë oggendure net soos Margaret Gardiner in 1978 die Mej. Heelal-kroon verower het, het dié twee skoonheidskoninginne nié dieselfde kroon gedra nie.

Demi-Leigh, is in 2017 met die Mikimoto-kroon gekroon. Die kroon, wat in Japan gemaak is deur ’n amptelike juwelierswareborg van die kompetisie, word as een van die mooiste Mej. Heelal-krone geag.


Die kroon beeld ’n feniks uit wat herrys en dit simboliseer status, mag en skoonheid. Dit bestaan uit 500 diamante van sowat 30 karaat. Daar is ook 120 seepêrels in die kroon. Die kroon, wat sowat R3 435 250 ($250 000) werd is, is in 2002 vir die eerste keer gebruik.

Sedert dié skoonheidskompetisie in 1952 begin is, was daar al 10 verskillende Mej. Heelal-krone.

Romanov Imperial-huwelikskroon
Die heel eerste kroon wat in 1952 gebruik is, staan bekend as die Romanov Imperial-huwelikskroon. Dié kroon het voorheen aan ’n Russiese tsar behoort. Die kroon bevat glo meer as 1 500 diamante.

Die Christiane Martel-kroon
In 1953 is ’n kroon van bronsmetaal gebruik om die wenner te kroon. Dit is een van die mees ongewone krone wat tot nog toe gebruik is. Daar was nie ’n enkele diamant of kristal in sig nie.

Die Ster van die Heelal-kroon

’n Skitterende kroon met ’n ster aan die bokant is van 1954 tot 1960 gebruik. Die kroon het uit ongeveer 1 000 pêrels wat in goud en platinum geset is, bestaan. Die kroon, wat meer as 500 g weeg, is sowat R6 869 500 ($500 000) werd.

Die 10de herdenkingskroon

’n Spesiale kroon moes die 10de bestaansjaar van die Mej. Heelal-kompetisie herdenk. Die kroon is die eerste een wat uit rynstene bestaan het. Die kroon wat ’n ligte geel kleur gehad het, is net in 1961 en 1962 gebruik toe Marlene Schmidt van Duitsland en Norma Nolan van Argentinië die onderskeidelike wenners was.

Die Sarah Coventry-kroon

Dié kroon, wat ’n vroulike figuur met ’n septer in die middel het, word beskou as die kompetisie se beroemdste kroon. Die kroon staan ook bekend as die “Die Dame” of “Die Koningin se Kroon”. Ieda Maria Vargas van Brasilië was die Mej. Heelal wat vir die eerste keer met die kroon gekroon is. Die kroon is tot in 1972 gebruik.

Die kandelaar-kroon

Die kroon, wat van 1973 tot 2001 gebruik is, was soortgelyk aan die Sarah Coventry-kroon. Dit is effens aangepas sodat die kroon gemakliker kon pas. Die vroulike figuur was steeds deel van die ontwerp, maar is subtieler en fyner as die vorige kroon. Die kroon is vir die laaste keer deur Denise Quiñones van Puerto Rico gedra.

Dit is ook die kroon waarmee Margaret Gardiner in 1978 gekroon is.

Die Mikimoto-kroon is van 2002 tot 2007 gebruik ná die borgskapsooreenkoms met Sarah Coventry tot ’n einde gekom het.

Die CAO Fine Jewelry-kroon

Die kroon is net in 2008 gebruik en het bestaan uit meer as 1 000 edelgesteentes waarvan 44 diamante was. Die stene se kleure wissel van wit en ligpienk tot ’n ligte cognackleur en bestaan uit 18-karaat-wit- en geelgoud. Die kroon se waarde is sowat R1 648 680 ($120,000).

Die Vredeskroon

Van 2009 tot 2013 is die kroon, met sintetiese stene, gebruik. Maar dié 1 371 stene was 416 karaat. Witgoud en platinum is vir die kroon gebruik. Die robyne in die middel het glo die Mej. Heelal-kompetisie se bewusmakingsveldtog vir MIV/vigs gesimboliseer.


Die Diamond International Corporation -kroon

Dié kroon wat deur die Diamond International Corporation gemaak is, is sowat R4 121 700 ($300 000) werd. Dit is in 2014 vir die eerste keer gebruik toe Paulina Vega van Colombia die titel gewen het. Dit het glo meer as 3 000 uur geneem om die kroon, wat uit 311 stukke van diamante bestaan, te vervaardig. Vyf stukke blou topaas, 33 stukke kristal, 198 stukke van blou saffier en 220 gram goud is ook deel van die kroon.


Bronne: www.rappler.com; www.latestpageantnews.com