Onder die groep mense wat hul weg vanoggend na die gemeenskapsentrum vind, is talle bejaardes. Sommiges word in rolstoele nader gestoot, ander stap met behulp van ’n kierie. 

Die stroom mense raak nie minder nie; steeds kom enigiets van spogmotors tot skedonke aangery om mense hier na Munsieville in Krugersdorp te bring.

Mense was vol lof vir die doeltreffendheid by die
Mense was vol lof vir die doeltreffendheid by die inentingskliniek in Munsieville, Krugersdorp. Foto: Lubabalo Lesolle

Almal is ouer as 60, en almal is hier met een doel: om eindelik hul langverwagte inentings teen die coronavirus te kry. Maar ten spyte van die erns van die saak wat hulle hierheen bring, glimlag die oë wat bo die gesigmaskers uitsteek.

Trouens, hier heers ’n gevoel van gedempte afwagting en vrolike verligting.

Want baie van die besoekers is reeds in hul later jare, en van hulle het in die afgelope jaar selde buite gekom of is vir lang tye van vriende en familie geskei.

“Ek was heeltyd angstig, ek is moeg daarvoor,” sê een vrou met haar aankoms vir ’n gesondheidswerker. Maar vandag breek die oomblik eindelik vir hierdie groepie aan waar die eerste treë geneem word na ’n hoofstuk anderkant die alomteenwoordige vrees vir lewensbedreigende infeksie.

Twee van my nabye vriende is oorlede aan die verdomde virus. As daar net ’n klein kans is dat ek nie so siek soos hulle word nie, dan gaan ek dit vat.

Nes by sommige klinieke, gemeenskapsentrums en apteke elders in die land, mag mense wat ouer as 60 is en reeds geregistreer het om die inenting te kry, nou hier kom aanmeld vir die entstof.

Al die bangmaakpraatjies en samesweringsteorieë oor die covid-entstof pla dié groep min – hulle is net bly dat hulle eindelik beskerming teen die virus kan kry. 

“Twee van my nabye vriende is oorlede aan die verdomde virus. As daar net ’n klein kans is dat ek nie so siek soos hulle word nie, dan gaan ek dit vat,” vertel Sheila Henning (76), ’n oudmakelaar van Rant en Dal in Krugersdorp wat ook haar beurt hier in die ry afwag.

Nes baie van die mense hier is sy deur haar kinders gebring om haar eerste 0,3 ml-dosis van die entstof Pfizer-BioNTech te kry. Oor ’n maand moet sy vir haar tweede dosis kom. 

Die Suid-Afrikaanse inentingsveldtog het in Februarie begin, met gesondheidsorgwerkers bo-aan die lys. Tot dusver is net oor ’n miljoen Suid-Afrikaners ingeënt teen covid-19 en net oor 3 miljoen bo 60 is geregistreer om die entstof te ontvang. 

Mense bo 60 wag geduldig om hul Pfizer-inenting te
Mense bo 60 wag geduldig om hul Pfizer-inenting te ontvang. Foto: Lubabalo Lesolle

Maar die mense hier in Munsieville is vandag maar alte dankbaar hulle kom nou aan die beurt.

“Polio, witseerkeel, pokke . . . dié siektes was gevrees op hul dag, en ons kon dit oorkom danksy inentings,” sê Louis Kok (74) beslis wanneer hy vir sy beurt aanmeld. “Ek glo en hoop met dié sal dit dieselfde wees.”

Hier in die parkeerterrein van die gemeenskapsentrum staan die stoele 1,5 m uit mekaar gepak – streng volgens die sosialeafstand-maatreëls teen die virus.

Jy soek verniet na tekens van ongeduld by die mense wat in die lekker matige wintersonnetjie sit en wag vir hul beurt om die saal in te gaan.

Die is soos belasting betaal, jy moet dit maar net doen.

“Ons het dit ge-time. Dit vat hulle 10 minute, dan kom haal hulle die volgende klomp van ons,” sê Christo Wiid (66) opgewek.

Die afstand tussen die stoele en die gesigmaskers maak dit moeilik vir mense om te gesels, maar vra jy uit, hoor jy dieselfde refrein van dankbare opwinding. 

“Ja, daar is mense wat skepties is oor die entstof,” erken Christo. “Maar ek sê net vir hulle: ‘Kyk hoeveel duisende hier en elders is al ingeënt, en daar is geen merkwaardige probleme nie.’”

Op die volgende stoel in die ry het Frans van den Berg (65) ’n meer filosofiese uitkyk. “Die is soos belasting betaal, jy moet dit maar net doen,” laat hoor hy. Frans is lus vir gesels. Hy vertel hy het danksy verlede jaar se omstrede verbod op die smous van rookgoed eindelik dié lewenslange gewoonte gestaak.

“Ek het net bloot geweier om die belaglike swartmarkpryse te betaal. Ons spaar nou dié geld elke maand. Dis byna R1 200, weet jy,” sê hy met ’n klap op sy knie.

“Nou kan ons lekker wildtuin toe gaan met dié geld,” voeg sy vrou, Bets (63), by, “én ons is meer gerus oor die virus!”

Dan word ons onderbreek, want die groep in die parkeerterrein word inderdaad ná net 10 minute se wag na die saal geroep – nes Christo gesê het. 

Ons vind dat baie mense nie eens weet hulle het hoë bloeddruk of -suiker nie. Ons roep die dokter of ons stuur hulle na die kliniek as dit baie hoog is.

Binne word elkeen se bloeddruk en suikervlak eers gemeet. ’n Gesondheidswerker kyk of elkeen wel op die regering se inentingswebtuiste geregistreer is. Indien nie, word dit daar en dan gedoen.

Min van vandag se besoekers het reeds ’n SMS van die owerhede ontvang om te laat weet hulle kan die entstof kry omdat hulle reeds registreer het.

“Dit was eintlik stil, toe vra ons mense om mekaar te laat weet, en nou kom hulle,” vertel een verpleegster. 

Thsepiso Mogale, ’n gesondheidswerker, toets die mense se suikervlakke voor hulle die inenting kry. “Ons vind dat baie mense nie eens weet hulle het hoë bloeddruk of -suiker nie. Ons roep die dokter of ons stuur hulle na die kliniek as dit baie hoog is.”

Op dié manier word ander gesondheidsraad sommer ook vandag uitgedeel.

Bennett Masinga (68), ’n afgetrede onderwyser van Munsieville, is een van dié wat moet hoor sy bloeddruk is hoog. “Ek gaan elke drie maande na my dokter toe, maar ek het hom gevra om een van my pille te verminder. Dis dalk hoekom dit nou hoog is,” vertel hy. 

Dr. Maritha Fourie gaan sit by hom en vra watter medikasie hy drink en wanneer laas hy by die dokter was. Gelukkig is sy bloeddruk nie gevaarlik hoog nie, en kan hy steeds sy inenting kry.

Dr. Maritha Fourie gesels met Bennett Masinga oor
Dr. Maritha Fourie gesels met Bennett Masinga oor sy hoë bloeddruk. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dis die enigste drama wat ons hier het: mense wat nie weet hulle het hoë bloeddruk of suiker nie,” beaam Maritha.

“As ek verseker is die pasiënt het geen allergieë nie, gee ek soms ’n pilletjie vir die bloeddruk en verwys hulle dan na die kliniek of dokter.”

Hier by die gemeenskapsentrum het daar met Huisgenoot se besoek reeds sowat 2 000 mense die entstof ontvang – gemiddeld 220 per dag. 

Nog ’n verpleegster, Ramatsobane Mahlangu, vertel dis ’n plesier om dit toe te dien. 

“Almal is regtig vriendelik. So af en toe kry ek iemand wat bang is vir naalde . . . meestal mans! Dan steek ek die naald agter my rug weg en steek hulle voor hulle te veel daaroor kan worry,” vertel sy laggend.

Dan kom sit die volgende mens en sy verduidelik weer geduldig: “Jou arm gaan dalk ’n bietjie seer wees, en jy kan dalk bietjie moeg en tam voel.”

Christo Wiid van Krugersdorp ontvang sy eerste cov
Christo Wiid van Krugersdorp ontvang sy eerste covid-19-inenting. Hy sê hy voel rustig en glad nie op sy senuwees nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Almal word gemaan om eers 15 minute te wag nadat hulle die inenting gekry het sodat daar eers gekyk kan word of hulle nie ’n onmiddellike reaksie op die entstof het nie. Eers daarna kan ontvangers huis toe gaan.

“Daar is hy, dis gedaan,” verklaar Pieter Viljoen (67) van Wilropark toe sy wagtyd verby is. “Ons moet maar vanaand ’n vuurtjie aansteek om dit te vier.”

Die dokter lag.

“Ek is nou al drie weke hier en die enigste newe-effek was iemand wat gekla het sy ore jeuk!”

Tog is hier ’n siekeboeg indien iemand wel ’n slegte reaksie sou ervaar. Nou word die brose Hilda Senare (89) in haar rolstoel ingestoot. Sy kan nie meer praat nie en is bang vir naalde, verduidelik haar dogter, Josephine (59).

Twee verpleegsters praat vertroostend met haar voor die naald in haar arm gedruk word. “Sorrie Ouma, sorrie,” sê sy verskonend.

Hilda Senare (89), ’n oudverpleegster, ontvang haa
Hilda Senare (89), ’n oudverpleegster, ontvang haar inenting. Foto: Lubabalo Lesolle

Agterna vertel Josephine: “Ek is ’n verpleegster en my ma was ook een. Natuurlik wil ons die entstof hê. Nou kan ons rustig wees dat my ma beskerm is; ek het al te veel mense sien doodgaan van dié ding.”

So is elkeen wat die saal verlaat dankbaar – en nie een kla oor ’n seer arm nie. 

Daar is ses dosisse in elke botteltjie. Foto: Luba
Daar is ses dosisse in elke botteltjie. Foto: Lubabalo Lesolle

“En kyk, toe was ons wragtig net vir ’n uur besig,” sê Christo toe hy en sy vrou hand aan hand wegstap. En binne ’n uur is daar skielik weer hoop.

Hoe doeltreffend is die entstof?

Volgens studies kan tot 7% van mense wat die Pfizer-entstof kry steeds covid opdoen – maar die entstof is glo 100% doeltreffend om te verhoed dat mense ernstig siek word weens die virus.

Dit sluit die Suid-Afrikaanse variant in. 

Dis 88% doeltreffend in sy doel om te keer dat mense covid opdoen, maar ook glo 100% doeltreffend om te verhoed dat mense ernstig siek word weens die virus.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe