Waarskuwing: Die storie bevat sensitiewe foto’s

Lana en haar vriend Mike van der Merwe (60) het op 5 April naby Pontdrif visgevang toe ’n krokodil haar linkerhand gryp en haar in die water intrek.

Lana se linkerhand is net ná die aanval by ’n plaaslike privaat hospitaal behandel en aan haar bobeen vasgewerk sodat die vel wat sy verloor het, kon teruggroei. 

Haar hand is verlede week in ’n operasie van sowat twee uur van haar bobeen losgemaak. “Dit was aanvanklik baie moeilik om nie my linkerhand te kon gebruik nie, maar later het ek begin gewoond raak daaraan en planne bedink hoe ek dinge moes doen.”

Foto: Verskaf.

Hoewel sy baie pyn ná die operasie ervaar het, kan sy tog die snaaksheid daarin raaksien. Sy bieg dat sy nou weer aan haar linkerhand gewoond moet raak.

“My hand is nou so half in die pad, jy weet. Ek is onseker of ek onder of bo die kombers met hom moet slaap,” vertel sy laggend aan Huisgenoot.

Sy lyk nou pure bokser met die verbande om haar linkerhand, met net haar pinkie wat uitsteek. Sy het haar duim, wys- en middelvinger verloor en kan nie haar ringvinger beweeg nie.

“Dit gaan oor die algemeen goed, maar as ek enigsins aan die krokodilaanval dink, voel dit of my hart wil gaan staan.”

Dis ook nie maklik om van die voorval te vergeet nie omdat sy nou meer daarvan onthou, vertel sy. “Ek besef dat ek die krokodil gesien het en dit is asof ek die oomblik teen ’n stadiger pas in my geestesoog sien.”

Lana se hand was ná die ongeluk aan haar bobeen geheg sodat die vel wat sy verloor het, kon terruggroei. Haar oudste dogter, Heidi, het haar gehelp om die wonde te verbind. Foto: Verskaf.

Vir Mike is dit ook nie maklik nie. “Ek is lief vir natuurprogramme op televisie en as ’n mens nou ’n krokodil daar sien, dan kyk jy met ’n effense gril na hom.

“Dis nou nie asof ek my oë toeknyp nie, maar dit het beslis êrens ’n letsel gelos,” bieg Mike, wat etlike jare as natuurbewaarder in die veld en in reservate gewerk het.

Nie net was hy saam met Lana langs die oewer toe die krokodil haar linkerhand gegryp het nie; as held het hy ook agter die groot gedierte in die water ingespring om haar te red.

Foto: Verskaf.

“’n Mens weet nooit wat jy in ’n krisis sal doen nie, maar ek glo my jare se blootstelling aan dieresituasies het sekerlik gehelp,” verduidelik Mike, wie se flink aksies Lana se lewe gered het.

Die opvolgbesoek aan die dokter Dinsdag het egter bevestig dat die veloorplanting onsuksesvol was. “Die dokter het die vel aan my ringvinger afgehaal sodat dit kan skoon word voor ons later ’n volgende veloorplanting probeer,” verduidelik Lana hoopvol.

“My gemeenskap is wonderlik. Selfs van die kinders wat al op hoërskool of uit die skool is, het ná die aanval by my kom kuier.”

Vir Lana, wat nie tot ’n mediese fonds behoort nie, en vir Mike wat help betaal, hoop die koste op.

“Presies wie almal ’n geldjie bygedra het, sal ek nie weet nie,” verduidelik Mike toe hy van die fonds vertel wat hulle gestig het.

Vel van Lana se bobeen is ook oorgeplant op haar linkerhand. Foto: Verskaf.

Die Bybelgenootskap, waar Lana ook uithelp, en talle donasies het al gesorg dat hulle meer as R40 000 kon insamel om haar hospitaalrekenings te betaal. 

Die skoolbestuur het haar drie maande betaalde verlof gegee en sy wil graag terugkeer.

“Daar is niks anders wat ek wil doen as skoolhou nie. Dit is my passie in die lewe."