Sy is die een wie se naam in ons geskiedenisboeke onthou sal word – die eerste burger in Suid-Afrika wat hier op eie bodem eindelik teen die coronavirus ingeënt is.

Maar toe die verpleeg­suster Zoliswa Gidi-Dyosi op 17 Fe­bruarie met haar kraamsaalrondtes in die Khayelitsha-distrikshospitaal doenig was, was sy nog onbewus van haar toekomstige status. Trouens, sy het die ongewone gewoel rondom haar geïgnoreer, want daar was werk om te doen.

Eers later het sy gehoor pres. Cyril Ramaphosa en die gesondheidsminister, Zweli Mkhize, besoek die hospitaal. “Ek het gedink: ‘O, oukei, dalk is dit hoekom die media hier is,’ ” vertel Zoliswa (42).

Min het dié vroedvrou besef dat sy self in die kollig sou beland as die eerste Suid-Afrikaanse gesondheidsorgwerker wat Johnson & Johnson se covid-entstof ontvang het en naas ons president die eerste ontvanger in die land.

Toe sy gekies is om eerste aan te meld, was sy senuagtig voor die kameras, maar dit was blitsig verby.

“Die naaldprik het ’n klein bietjie seergemaak, maar dis ’n groot eer om my land te kan dien,” sê sy. “My man het gebel en gesê: ‘Jy trend; jy is op televisie,’ ” vertel sy laggend.

Daarna is minister Mkhize en drie van Zoliswa se kollegas – dr. Sa’ad Lahri van die hospitaal se noodeenheid, Mavuyo Mpambani, ’n skoonmaaktoesighouer, en Cwengisa Dadirai, ’n administratiewe klerk – ook ingespuit.

Zoliswa sal oor die volgende ses maande as deel van ’n groep van nege ontvangers waargeneem word om nogmaals die doeltreffendheid van die entstof te toets.

Maar ná die groot gebeurtenis was dit terug werk toe vir die toegewyde suster, en Zoliswa het kort nadat sy ingeënt is ’n baba help verlos.

 Zoliswa in die kraamsaal met die baba wat sy help
Zoliswa in die kraamsaal met die baba wat sy help verlos het kort nadat sy ingeënt is. Sy sê dis moeilik om in hierdie tyd ’n gesondheidsorgwerker te wees. Foto: GCIS

“Dit was ’n gewone werkdag. Ek het goed gevoel ná die inspuiting, en ek voel steeds goed.”

Suid-Afrika is die eerste land wat die Johnson & Johnson-entstof amptelik toedien. Die Suid-Afrikaanse Gesondheids­produktebeheerraad het die entstof goedgekeur ná toetsing verlede jaar waaraan 7 000 Suid-Afrikaanse vrywilligers deelgeneem het.

Kenners het bevind die Johnson & Johnson-entstof is 57% doeltreffend teen die Suid-Afrikaanse 501Y.V2-variant van die virus, teenoor die AstraZeneca-entstof se 22%.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële raadkomitee oor covid-19, vertel dis voordelig dat net een dosis Johnson & Johnson per lands­burger benodig word. “As ons ’n entstof kies wat vereis dat ontvangers twee dosisse kry, sal dit die koste verdubbel, want ons moet twee keer soveel entstowwe koop.”

Vir gesondheidsorgwerkers soos Zo­liswa bring die entstof nuwe hoop. Soos baie hospitale was die Khayelitsha-distrikshospitaal in die feestyd oorweldig. Op die kruin van die tweede golf covid-infeksies was die hospitaal 140% vol.

“Daar was ’n skielike styging in traumaverwante gevalle. Om ’n tekort aan beddens te sien, gesinne wat hul geliefdes verloor . . . Dit was hartseer,” sê Zoliswa.

“Dit is moeilik om in hierdie tyd ’n verpleegster te wees. Die coronavirus raak ons emosioneel, geestelik en liggaamlik. Ons is uitgeput; ons is moeg.”

Ons leef daarvoor om lewens te red en mense te help. Noudat ek die entstof gekry het, voel dit eindelik of daar hoop is.

Gebede en ’n passie om ander te help hou Zoliswa aan die gang. “Ek sê net vir myself mense maak op ons staat. Ons is nou hul enigste hoop.”

Daar is altyd die wete dat sy haar man en drie kinders in gevaar stel bloot deur haar werk te doen. “Ek het ’n groot bottel ontsmetmiddel in my huis wat ek gebruik om al die oppervlakke mee skoon te maak. Ons was ons hande gereeld, en ek sorg dat ek altyd ’n masker dra.”

In haar 12 jaar as ’n verpleegster is die pandemie die skrikwekkendste ding wat sy al ervaar het. “Ek het my tannie in Julie weens die virus verloor. Dit het die dodelike erns van die pandemie tuisgebring.”

Min het dié vroedvrou besef dat sy self in die kol
Min het dié vroedvrou besef dat sy self in die kollig sou beland as die eerste Suid-Afrikaanse gesondheidsorgwerker wat Johnson & Johnson se covid-entstof ontvang het en naas ons president die eerste ontvanger in die land. Foto: WCHS
Zoliswa het kort nadat sy ingeënt is ’n baba help
Zoliswa het kort nadat sy ingeënt is ’n baba help verlos. Foto: WCHS

Sy voel sy en haar geliefdes is veiliger danksy die entstof en moedig ander aan om ’n inenting te kry wanneer hulle kan.

Hoe gouer, hoe beter, sê Zoliswa. “Ons leef daarvoor om lewens te red en mense te help. Noudat ek die entstof gekry het, voel dit eindelik of daar hoop is.”

Status van inentings
  • Suid-Afrika het 9 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof bestel, en tot dusver het sowat 400 000 gesondheidsorgwerkers op die regering se elektroniese inentingsdatastelsel gere­gistreer om die entstof te kry.
  • Kort voor ons druktyd was meer as 2 200 gesondheidsorgwerkers ingeënt. Dit sal 12 weke verg om die oorblywende gesondheidsorgwerkers in te ent.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Bykomende bron: westerncape.gov.za