“Wat gaan aan met die weer?”

Dis ’n vraag wat deesdae gereeld om die braaivleisvure opduik, want dit voel party dae asof ons weerpatrone behoorlik onderstebo is.

Die een oomblik skyn die son, en die volgende oomblik is dit ’n grou dag wat jou na jou wintertruie laat grawe. Daar is een groep mense vir wie dié vraag nie net by praatjies bly nie.

Die weervoorspellers van die Suid-Afrikaanse Weerdiens moet daagliks sin maak van die weerpatrone én voorspel wat volgende gaan gebeur.

Huisgenoot het by die Weerdiens se hoofkantoor in Centurion gaan inloer om te sien hoe dié wetenskap agter die skerms werk.

Met ons aankoms sit die groepie weerkenners rustig voor hul rekenaars en werk – op dié een se skerm is ’n lys data wat vir enigiemand anders moeilik sal wees om uit te pluis, en op daardie een s’n is ’n foto van ’n lugdrukstelsel.

Daar is een groep mense vir wie dié vraag nie net
Daar is een groep mense vir wie dié vraag nie net by praatjies bly nie. Die weervoorspellers van die Suid-Afrikaanse Weerdiens moet daagliks sin maak van die weerpatrone én voorspel wat volgende gaan gebeur. Foto: ER Lombard

Twintig van die land se 64 weervoorspellers werk hier. Mense sê graag dis die Weerdiens se skuld as ’n voorspelling verkeerd is, sê Kgolofelo Mahlangu, ’n senior weervoorspeller, terwyl sy ons rondwys.

“Maar sulke opmerkings is gewoonlik uit onkunde,” voeg sy by.

“Die voorspellers sal byvoorbeeld nooit ’n 100%-waarborg gee dat dit wel op ’n plek sal reën nie, maar eerder sê daar is ’n 30%- of 60%-kans op reën. Die persentasie dui aan hoe groot die moontlikheid vir reën is.” Boonop is reënbuie dikwels gekonsentreerd.

“Ons sal byvoorbeeld ’n sekere kans vir reën in Johannesburg voorspel. Dan kom reën in die ooste van die stad voor, maar niks in die weste nie. Dan sal sommige mense in die weste sê ons was heeltemal verkeerd.”

Mense moet ook onthou weerpatrone kan binne ure nadat ’n voorspelling uitgereik is drasties verander, voeg Kgolofelo by.

“Hoewel ons ons bes doen, kan dit nie altyd voorsien word nie.”

Tornado’s is een van die moeilikste weerverskynsels om te voorspel omdat dit nie geleidelik “aankom” nie.

“Dit gebeur wanneer verskeie faktore op dieselfde oomblik saamloop, soos wanneer die windkolk binne ’n donderstorm ’n spoed van vinniger as 120 km/h bereik.”

die weervoorspeller Vanetia Phakula bestudeer die
Die weervoorspeller Vanetia Phakula bestudeer die weerstelsels. Foto: ER Lombard

Die Weerdiens kan wel raaksien watter naderende storms intense windstrome het wat opwaarts roteer en dus die moontlikheid van ’n tornado inhou.

Hulle kon verlede jaar se twee grootste tornado’s – in Mei in die Bloemfontein-omgewing en in November in die Bergville-gebied in die Drakensberge – korrek voorspel, sê Kgolofelo.

Van insameling tot voorspelling

Die grondslag vir weervoorspelling lê in die waarneming van weerpatrone, sê Hannelee Doubell, kommunikasiebestuurder by die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

“Ons gebruik verskeie metodes en toerusting wat landwyd geplaas is om inligting in te samel.”

Hierdie data sluit onder meer lesings oor reënval, temperatuur, vogtigheid, lugdruk en windrigting en -spoed in wat deur sowat 1 300 weerstasies oor die land ingesamel word.

Daar is 23 weerkantore in die land wat dié inligting versamel en na een van die ses weervoorspellingskantore stuur.

“Gegrond op dié inligting en die toepassing van die beginsels van fisika word rekenaarprogramme en die kundigheid van die voorspellers ingespan om ’n vooruitskatting van die weer te doen,” verduidelik Hannelee die proses.

Tokelo Chiloane werk in die weervoorspellingskanto
Tokelo Chiloane werk in die weervoorspellingskantoor in Centurion. Foto: ER Lombard

Elke weervoorspellingskantoor stuur die vooruitskattings vir hul streek dan na die hoofkantoor hier in Centurion, waar een van die kragtigste rekenaars in die land die inligting saamstel en dan ’n finale voorspelling uitreik.

Kgolofelo en haar kollegas moet dan hul wetenskaplike kennis gebruik om die rekenaar se voorspelling te interpreteer.

Die superrekenaar

Die rekenaar wat die vooruitskatting van die weerpatrone doen, is aansienlik kragtiger as dié waarop gewone mense hul werk doen. Dit verwerk al die ingesamelde data vir voorspellingsdoeleindes, verduidelik Christa Ferreira, wat in die rekenaarafdeling van die Weerdiens se hoofkantoor werk.

Dié yslike rekenaar se boks is sowat 1,6 m breed, 7 m lank en 2 m hoog.

Chris­ta Ferreira by die kragtige rekenaar. Foto:
Chris­ta Ferreira by die kragtige rekenaar. Foto: ER Lombard

Maar dis nog klein teenoor die eerste rekenaar wat die Weerkantoor in 1974 gekoop het: Dit het toe ’n hele vertrek vol gestaan en was maar in staat tot wat tuis- en kantoorrekenaars later met die XP-bedryfstelsel kon doen, vertel Christa.

Die Weerdiens se superrekenaar het ’n totale geheue (RAM) van 224 gigagrepe, waar ’n gewone skootrekenaar wat vir woordverwerking gebruik word gewoonlik net sowat 4 tot 8 gigagrepe RAM het.

Die superrekenaar het 1,7 petagrepe se hardeskyfruimte (1 petagreep is gelyk aan ’n miljoen gigagrepe) en sy verwerkingsvermoë is blitsvinnig. Hy gebruik al daardie krag om die data wat ingevoer word te verwerk om weerstoestande vooruit te skat.

Die weervoorspellers gebruik dan die data wat die rekenaar uitvoer om die weervoorspelling te maak.

“Die rekenaar kan vooruitskattings doen vir tot die volgende 10 dae, maar hoe verder dit in die toekoms is, hoe minder akkuraat kan die voorspellings wees,” sê Christa.

“Daarom word die voorspellings elke ses uur hersien en bygewerk.”

Nie sommer ’n gewone ballon nie

’n Waterstofgevulde weerballon, met ’n radius van sowat 2 m, word elke dag om twaalfuur die middag en weer teen middernag van die Irene-weerstasie in Centurion en ook van al die plaaslike internasionale lughawens opgestuur, vertel Raydall Jardine, ’n eenheidsbestuurder by die Weerdiens. 

 Peter Mabasa (links) en Samson Amusan maak gereed
Peter Mabasa (links) en Samson Amusan maak gereed om die weerballon by die Irene-weerstasie los te laat. Foto: ER Lombard

’n Kartonhouertjie van sowat 15 cm hoog en 10 cm breed is aan elke weerballon vasgemaak, met ’n elektroniese skyf daarin verpak. Die toerusting weeg 150 g en elke ballon en sy skyf kos ongeveer R2 500.

“Dis eintlik ’n klein ‘weerstasie’, ” sê Raydall.

“Die skyf versamel data van die weerpatrone en stuur dit terug na die rekenaarstelsel by die spesifieke weerstasie van waar dit gelanseer is.”

Die ballon bereik sowat twee uur later sy maksimum hoogte – ongeveer 13 km van die grond af. “Dan bars hy, en die houer beland iewers op ’n boer se plaas,” sê Raydall.

“Die inligting wat dit terugstuur, word ook deur vlieëniers gebruik om vooraf te weet wat die weerpatrone is by die lughawe waar hulle gaan land.”

Sien jy daardie storm . . .

Verskillende soorte radarstelsels is op strategiese plekke oor die land geplaas wat die wolke skandeer om te sien of daar swaar reën of hael is. Dit word daar opgerig waar dit die grootste moontlike gebied kan dek.

’n Radarstelsel se waarnemingsvermoë verskil op grond van die soort radar, maar dit het ’n reikwydte van tussen 200 en 350 km.

Sowat 23 weerlig-opsporingstelsels is ook op strategiese plekke in die land geplaas om kwaai naderende weerligstorms “raak te sien”.

Hierdie toerusting het ’n reikwydte van sowat 500 km elk.

Die versekeringsbedryf gebruik ook hierdie toerusting om eise weens weerligskade na te gaan en enige versekeringsbedrog te probeer verhoed.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe