Terwyl die aarde se waters deur oorbevissing bedreig word, is dié spesie een van die volhoubaarste visspesies wat bestaan, met boerdery daarmee wat wêreldwyd toeneem. Maar dis nie net kurpers se vleis wat gesog is nie: Dié swemmertjies hou heel moontlik nog ’n voordeel in.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
Wetenskaplikes het bevind kurpervel se vog, kollageen en siekteweerstandsvlakke is soortgelyk aan dié van menslike vel. Foto: Gallo Images/Reuters

Navorsers in Brasilië eksperimenteer met ’n nuwe behandeling vir ernstige brandwonde deur die vel van kurpers te gebruik. Dit is ’n onortodokse prosedure wat volgens die navorsers slagoffers se pyn kan verlig én mediese uitgawes kan verminder.

Bevrore varkvel en selfs menslike weefsel word al lank op brandwonde geplaas om dit vogtig te hou en die oordrag van kollageen, ’n proteïen wat genesing bevorder, moontlik te maak.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
Pakke ge­steriliseerde kurpervel by die Universiteit van Ceará in die noorde van Brasilië. Hoewel kurpervel al op knaagdiere getoets is, is Brasilië die eerste land wat dit op mense beproef. Foto: Gallo Images/Reuters

Brasilië se openbare hospitale het egter min varkvel en mensweefsel in voorraad, asook min van die kunsmatige alternatiewe wat maklik verkrygbaar is in meer ontwikkelde lande.

Pleks daarvan is gaasverbande, wat gereeld omgeruil moet word – en dan baie pyn veroorsaak – die norm. Daarteenoor is kurpers volop in Brasilië se riviere en visplase – wat vinnig uitbrei namate die vraag na dié varswatervis met ’n matige smaak toeneem.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
Die vel van ’n kurpervis. Dié varswatervis is een van die volhoubaarste visspesies wat bestaan. Foto: Gallo Images/Reuters

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Ceará in die noorde van Brasilië het bevind kurpervel se vog, kollageen en siekteweerstandsvlakke is soortgelyk aan dié van menslike vel en kan met genesing help.

Navorsers in China het al kurpervel op knaagdiere getoets om die genesende eienskappe daarvan te bestudeer, maar wetenskaplikes in Brasilië sê hul proewe is die eerstes wat op mense gedoen is.

“Die gebruik van kurpervel op brandwonde is ongekend,” sê Odorico de Morais, ’n professor aan die universiteit.

“Die visvel word gewoonlik weggegooi, en daarom gebruik ons hierdie produk om dit in iets te omskep waarby die samelewing kan baat vind.”

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
’n Baba se brandwonde word met dié vis se vel verbind. Foto: Gallo Images/Reuters

Die kurpervelbehandeling kan genesing met ’n paar dae bespoedig en die behoefte aan pynmedikasie verminder, sê die Brasiliaanse navorsers. En al lyk pasiënte wie se ledemate met visvel bedek is dalk soos iets uit ’n wetenskapsfiksiefliek, word die vel vooraf behandel om enige visreuk te verwyder.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
Dokters behandel ’n brandwondpasiënt se arm met kurpervel by die Dr. José Frota-­instituut in Bra­silië. Foto: Gallo Images/Reuters

Tegnici by die universiteit se laboratorium behandel dit eers met verskillende steriliseringsmiddels en stuur dit dan na São Paulo vir bestraling om virusse dood te maak voor dit verpak en verkoel word. Nadat dit skoongemaak en behandel is, kan dit tot twee jaar lank hou, sê die navorsers.

In mediese proewe is die alternatiewe terapie op minstens 56 pasiënte gebruik om tweede- en derdegraadse brandwonde te behandel.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
Die kurpervel bevat baie kollageen, ’n soort proteïen wat genesing by brandwondpasiënte bevorder. Foto: Gallo Images/Reuters

Die Brasiliaanse motorwerktuigkundige Antonio Janio het sy arm erg gebrand toe ’n silinder soldeergas gelek het. Hy sê die behandeling met die kurpervel is doeltreffender as verbande wat elke twee dae vervang moet word.

Die kurpervel word direk op die brandwond geplaas en met ’n verband bedek, sonder dat enige room nodig is. Die visvel bevat baie kollageen, bly langer vogtig as gaasverband en hoef nie gereeld omgeruil te word nie.

Kurpervel kan help om brandwonde te genees
’n Dokter berei die gesteriliseerde visvel voor. Foto: Gallo Images/Reuters

Ná ongeveer 10 dae verwyder dokters die verband en kan die kurpervel – wat teen daardie tyd al uitgedroog is en losgekom het van die brandwond – afgetrek word. “Gebruik die kurpervel. Dis uitstekend,” sê Antonio.

“Dit vat die pyn weg. Jy hoef nie medikasie te gebruik nie.” Boonop is die kurpervel ’n afvalproduk van visboerdery, sê Odorico, en kos die behandeling 75% minder as die sulfadiasienroom wat gewoonlik in Brasilië op brandpasiënte gebruik word.

Die navorsers hoop die behandeling sal kommersieel vatbaar wees, wat ondernemings sal aanmoedig om kurpervel vir mediese gebruik te verwerk. En dan sal die beskeie vissie dalk nie meer net vir sy vleis na waarde geskat word nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe