Die vermiste Stephen Nieuwoudt (19) se lyk is Dinsdag vroegmiddag aangetref.

Huisgenoot het betroubaar verneem 'n vuurwapen is langs hom gekry.

’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur nadat Stephen Sondag laatmiddag by sy ouerhuis op Harrismith in die Oos-Vrystaat weg is.

Volgens ’n plasing wat wyd in die sosiale media versprei is, is hy laas in ’n grys sweetpaktop en langbroek gesien toe hy met sy wit Volkswagen Polo weggeraak het.

Die soektog het Maandag by die plaaslike Platberg-ekopark en botaniese tuine begin nadat sy motor hier gekry is.

Maar dit het Dinsdag tragies geëindig. Stephen het vermoedelik sy eie lewe geneem.

Vriende se huldeblyk aan Stephen. Foto: Verskaf
Vriende se huldeblyk aan Stephen. Foto: Verskaf

Volgens ’n bron op die toneel is hy minder as ’n kilometer van sy motor met die vuurwapen gekry.

Brigadier Motantsi Makhele, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig Stephen se lyk is gekry.

"Hy is met 'n geweerskoot in sy kop gevind. Langs hom was 'n .207-geweer. 'n Geregtelike doodsondersoek is geopen."

Vriende het Dinsdagoggend reeds, nadat die polisie se honde-eenheid by die soektog aangesluit het, vertel hulle vermoed die ergste.

“Ons stres onsself dood,” het Ruan Strydom (19), ’n vriend wat verlede jaar saam met hom in matriek aan die Hoërskool Witteberg was, Dinsdagoggend nog rasend aan Huisgenoot vertel.

“Noudat hulle sy motor gekry het en met dit wat hy laaste op Instagram geskryf het, is ons eers bekommerd. Ons het almal gedink dalk het hy net daar gaan stap om sy kop skoon te kry, maar nou weet ons nie wat om te dink nie. Ons is ’n klompie vriende wat met die lockdown almal saam op ’n WhatsApp-groep was. Ons het besef ons het lanklaas van hom gehoor . . . Al wat ons kon doen gisteraand was om met mekaar te praat en saam te bid dat hulle hom veilig sal vind.”

Dié inskrywing waarna Ruan verwys lui: “Society, you're a crazy breed. I hope you're not lonely without me. Been nice knowing you. Love you.

Hy het vertel dit het onlangs boaan Stephen se Instagram verskyn.


Op navraag Dinsdagmiddag of Stephen se lyk gekry is, het Ruan net bevestig: "Ja."

Hy het die oggend terwyl Stephen nog soek was, vertel die laaste keer wat hulle mekaar nog te midde van die inperking gesien het, was Stephen in ’n goeie luim en als het met hom goed gegaan.

“Hy was nooit ’n hartseer ou nie. Hy was altyd ’n lekker ou as ons kuier. Altyd vol grappe.”

Stephen het volgens Ruan vanjaar aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) studeer, maar het met die inperking by sy ouers, Louie Lu Nieuwoudt en Stephen Nieuwoudt op Harrismith, gewoon.

Hy het glo die Sondag by die huis gery om by ’n vriend te gaan kuier, maar het nooit weer teruggekeer nie.

Die polisie se honde-eenheid en ’n groot groep van meer as 70 vrywilligers het Dinsdagoggend by die soektog in die groot wildreservaat-gebied aangesluit.

View this post on Instagram

Happy Bday JC?? #stayblessed

A post shared by Stephen Nieuwoudt (@__stiffmeister__) on

’n Inwoner van Harrismith met insae in die soektog het Dinsdagoggend nog vertel die hele gemeenskap is geruk en baie bekommerd. Veral nou in die winter.

“Met ons minustemperature en sy kleredrag is dit nie ’n goeie kombinasie nie,” sê sy.

Hardus Myburgh (19), nog ’n vriend, vertel Stephen het ’n baie groot vriendekring gehad en was op skool, waar hy in die koshuis was, baie akademies.

“In die skool was hy altyd stil en baie gerig op sy akademie, maar buite skool was hy ’n ander mens en baie lief vir kuier.”

Miné Clarke, Stephen se suster, wat in Ierland woon, het Dinsdagoggend vroeg op haar Facebook-blad gevra dat almal om negeuur Suid-Afrikaanse tyd vir haar broer sal bid.

“Al het jy dié tyd gemis. Bid asseblief in elk geval.”

Waarnemende skoolhoof

Hannes Oosthuizen, die waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Witteberg, het in ’n verklaring geskryf:

“In herinnering aan Stephen Nieuwoudt . . .

Dit is met innige meegevoel dat ons as Witteberg-gemeenskap kennis geneem het van die afsterwe van Stephen Nieuwoudt, ’n oudleerder wat in 2019 matrikuleer het. Hierdie nuus het ons as gemeenskap geruk, en elkeen wat die voorreg gehad het om Stephen te ken, hetsy as vriend of opvoeder, weet dat sy gelyke skaars is.

As voormalige skolier by Witteberg was hy ’n uitstaande akademikus wat met vriendelikheid en rustigheid gewys het dat hy van die begin anders as die res was. Hy het in 2019 tydens die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen 6 onderskeidings behaal en was ook aangewys as een van die top-50-matrikulante van die Vrystaat.

’n Regverdige beloning vir hierdie jong man wat hard hiervoor gewerk het.

In my eie klas kan ek onomwonde erken dat hy een van begaafdste leerders was wat ek nog kon onderrig. Wat ek die meeste gaan mis, is die kyk in sy oë wanneer hy vyf stappe vooruit redeneer sonder om dit aan almal te openbaar. Sy kennis en denkvermoë was bo-gemiddeld, maar hy het altyd nederig gebly. Die wêreld was beslis oop voor hom.

As oudleerder, vriend, koshuisbroer en as besonderse unieke mens, gaan sy plek nou gemis word. Wittebergers sal altyd, wanneer hulle sy naam teen ons muur van herinnering lees, aan hom dink.

Ons groet jou met baie hartseer Stephen . . .”

  • ’n Familievriendin wat Stephen sr. se foon geantwoord het, was baie ontsteld. "Ons het niks vir die media te sê nie. Ons soek nie sensasie nie. Ons sal ons bedankings op Facebook skryf.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe