Hierdie saak word steeds ondersoek, het ’n polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, bevestig.

“Die soektog en ondersoek duur voort. Ons vra die gemeenskap wat weet waar hy hom bevind om ons te kontak.”

Michael se fiets is gekry en aan sy vrou, Valerie, terugbesorg. Hulle is op 23 November verlede jaar getroud by Christ Church Blairgowrie in Johannesburg. Hy is ’n lidmaat by die Hillsong-kerk in Somerset-Wes.

By navraag wou die kerk niks oor Michael sê nie.

“Ek het met Michael se vrou gepraat, en sy het gevra om jou na die Pink Ladies toe te verwys en hulle sal jou inligting gee,” was past. Jurgen Humer se reaksie.

“Ons hou aan bid vir sy veilige terugkeer,” voeg hy by.

Die Pink Ladies het egter nie op navrae oor Michael gereageer nie.

Michael is glo die laaste keer by die walvis-uitkykpunt in Gordonsbaai gesien, waarna hy spoorloos verdwyn het.

Hy is laas in sy fietsryklere gesien – ’n swart fietsrybroek, swart-en-blou fietsryhemp en swart skoene. Hy het ’n grys valhelm opgehad, lui ’n kennisgewing van die Pink Ladies.

“Speurders volg alle leidrade op,” sê kapt. Van Wyk.

Michael John Latsky en sy vrou, Valerie, op hul troue in November verlede jaar. Foto: Facebook/Valerie Rose
  • Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, speurder Elaine Pillay by Somerset-West Speurtak bel op 021-850-1344.

Ekstra bron: netwerk24.com