Teen hul slaapkamermuur op Somerset-Wes het hy die dag voor sy verdwyning op ’n stuk papier met swart pen geskryf: “Be anxious for nothing . . . let your request be made known to God.”

En dié woorde uit Filippense 4 is presies wat haar man vir haar te midde van die pandemie sou gesê het as hy nou hier by haar was, glo Valerie Rose-Latsky.

Maar nou moet sy elke dag alleen met die kommer en angstigheid saamleef nadat Michael Johan Latsky (43) een middag ’n draai met sy fiets gaan ry en nooit weer terug­gekom het nie.

Die Bybelvers wat hy die dag voor sy verdwyning ne
Die Bybelvers wat hy die dag voor sy verdwyning neergeskryf het. Foto verskaf

Nou, twee maande ná die rekenmeester se spoorlose verdwyning vroeg in die inperking, is die onsekerheid oor wat geword het van die aantreklike donkerkopman met wie sy ’n jaar gelede ge­­troud is byna ondraaglik.

“Ek weet nie van die een dag na die volgende of Michael lewend is of nie. Soms voel ek hy leef nog en ander kere dink ek ek moet die werklikheid konfronteer dat sy liggaam op daardie berg lê,” sê sy.

Sy verwys na die berg by die walvis-­uitkykpunt op Gordonsbaai in die Wes-Kaap waar Michael se fiets ’n dag ná sy verdwyning gekry is.

Die polisie het haar gevra om ’n skoen en ’n pantoffel van hom daarheen te bring en hul polisiehonde daaraan laat snuffel.

“Hulle het net een keer opgegaan. Die polisie het hul snuffelhonde saamgevat en niks gekry nie. Hulle moet net weer ’n keer gaan soek,” pleit sy.

In die vier jaar dat sy Michael ken, het Valerie hom nooit depressief gesien nie. “Maar hy was bekommerd oor die inperking. Hy het van die huis af gewerk, en ek kon hom oor die telefoon hoor.

“Hy het my ook kom vertel van dié en daardie een wat hom nie kan betaal nie omdat hulle weens die inperking nie hul geld kan kry nie.

“Ek dink dit was dalk die rede hoekom hy later daardie dag ’n tweede keer gaan fietsry het,” vertel sy. Dié rit was teen vyfuur die middag op Donderdag 14 Mei.

“Wanneer hy fietsry en sweet, voel hy beter wanneer hy by die huis kom, sê sy. Dan voeg sy by: “Hy het altyd huis toe gekom. Ek wil nie bespiegel soos die mense in die sosiale media nie. Dit maak baie seer.”

Die eerste ding wat sy soggens doen, is om die Bybelvers hardop te lees wat Michael neergeskryf het op die laaste dag wat sy hom gesien het.

“Dít en al die mense wat vir my en Michael bid, dra my,” sê Valerie oor die foon uit haar huis in Robin Hills, Randburg, waarheen sy twee weke tevore terug­getrek het. Ná ses uitmergelende weke waarin sy vergeefs op nuus oor haar vermiste man gewag het, kon sy nie meer die alleenheid verduur in die woonstel op Somerset-­Wes waar hulle as pasgetroudes saam ingetrek het nie.

“Ek kon nie meer daar sit en niks doen nie. Ek moes net hierheen terugkom en ’n werk soek en besig bly,” sê Valerie, ’n skoonheidsterapeut.

In dié moeilike tyd wou sy ook naby haar twee volwasse seuns, Warren en Michael, en haar hegte vriende in die Goudstad wees. Valerie het ook ’n dogter, Michelle Valerie van Rooyen, ’n voor­malige Mej. Bikini Suid-Afrika, wat in San Diego, Kalifornië, woon.

“Michael se ma is oorlede,” vertel Valerie. Sy pa, Mike, en dié se tweede vrou, Ansie, woon in Tergniet naby Mosselbaai en het ’n gastehuis. Sy een suster, Leonie, is ’n onderwyseres en die ander een, Deseree, ’n dokter. Albei woon in Krugersdorp.

In Randburg word Valerie deur haar herinnerings aan Michael omring, want dit is hier waar die vrygesel en enkelma van drie se paaie gekruis en hulle liefde by mekaar gevind het. Hulle het mekaar op Facebook ontmoet en is gou deur hul Christelike geloof saamgesnoer. Albei is lidmate van die Hillsongkerk.

“Ek sal nie sommer ouens op my Facebook toelaat nie, maar ek het gesien Michael is ’n uitgesproke Christen. Ons het baie oor die Here gepraat en mekaar eers drie maande later ontmoet.”

Op haar skootrekenaar het sy pas weer Michael se toespraak opgespoor wat hy in November by hul huweliks­onthaal in Randburg gelewer het. Hulle het ’n seremonie daar vir hul familie en vriende in die Goudstad gehou nadat hulle op
6 Julie verlede jaar tydens ’n intieme seremonie op Gordonsbaai getroud is.

Die egpaar is in 2019 getroud. In sy toespraak het
Die egpaar is in 2019 getroud. In sy toespraak het Michael gesê Valerie se “passie vir Jesus” het vir hom uitgestaan. Foto verskaf

Michael het vir die gaste van hul eerste afspraak in 2016 in die Spur in North­gate vertel.

“Ek onthou watter wonderlike teenwoordigheid sy gehad het. Wat vir my uitgestaan het, was die vonkel in haar oë en die passie vir Jesus.”

Dit het hom net vier maande geneem om Valerie die jawoord by die Protea-­hotel in Wanderers te vra, het hy verklap.
Vir hul wittebrood was hulle saam met die aartappelboerprediker, Angus Buchan, op sy It’s Time-toer na Israel.

Vir hul wittebrood was hulle saam met Angus Buchan
Vir hul wittebrood was hulle saam met Angus Buchan op sy It’s Time-toer na Israel. Foto verskaf

“Michael is so ’n dierbare ou, ’n ekstrovert wat met almal gesels,” beskryf Valerie haar man. “Hy is baie goedhartig en saggeaard. Dis hoekom ek met hom getrou het. Hy was romanties ook. Vrydagaande was date night. Ons het soms vir aandete uitgegaan. Ander kere het ons sommer in die straat onder die straatlig gedans.”

Kort voor Michael se verdwyning was hulle saam by die uitkykpunt, een van sy gunstelingplekke op aarde met sy prentjiemooi uitsig op Valsbaai.

Valerie stuur ’n foto op WhatsApp wat sy daar geneem het met die byskrif:

“Michael sit by die walvisuitkykpunt in Gordonsbaai saam met ons miniatuur-­pommer, Pom Pom, omtrent ’n week voor hy verdwyn het.”

Michael en die egpaar se pommer, Pom Pom, by die w
Michael en die egpaar se pommer, Pom Pom, by die walvisuitkykpunt op Gordonsbaai waar Michael se fiets gekry is. Foto verskaf

Die oggend van 14 Mei het hulle saam gaan fietsry, nog voor negeuur volgens die inperkingsregulasies wat toe gegeld het.

“Toe hy by die huis kom, het hy sy camouflage shorts aangetrek saam met ’n swart hoodie. Hy het steeds sy fietsry-­skoene aangehad,” onthou sy.

Michael het gewoonlik van Somerset-­Wes, deur die Strand en Gordonsbaai na dié punt toe gery. Dan het hy al met die kronkelpad langs die see tot in Rooiels gery voor hy teruggedraai het huis toe.

Sy het aanvaar hy sou dieselfde roete volg toe hy teen vyfuur daardie dag weer gaan fietsry het. Twee uur later het sy bekommerd begin raak.

“Dit was seweuur en hy was nog nie by die huis nie. Agtuur was hy steeds nie daar nie. Toe besef ek iets is fout. Ek
het hom by die Somerset-Wes-polisiekantoor as vermis aangemeld.

“Die volgende dag het hulle laat weet iemand het ’n fiets by die polisiekantoor op Gordonsbaai ingedien. Toe ek dit sien, het ek geweet dis Michael s’n. En dadelik was ek op my senuwees, want die fiets kos R120 000, en hy sou dit nie sommer net so laat lê nie. Die dag daarna is hulle met die honde teen die berg op.”

Nou, twee maande later, bly haar kwelvrae steeds onbeantwoord.

“As hy lewe, waar is hy? Ek het al stories gehoor van mense wat ’n mental breakdown het. Ek het gehoor van ’n man wat sy motor parkeer en in ’n plakkerskamp gaan woon het, en hulle het hom daar onder hul vlerk geneem.

“Dalk het hy in die berge sy kop gestamp en weet hy nie eens wat sy naam is of waar hy bly nie. Ander dae dink ek dit is al twee maande. Hy het in die berge geval en is daar. Dan moet ek daardie werklikheid aanvaar.”

Intussen bly die onsekerheid aan haar knaag en word sy genadeloos tussen hoop en wanhoop rondgeslinger. Sy is dankbaar vir al die steun van mense.

“Die konstante onsekerheid kan jou denke oorneem,” erken sy. “Maar dan onthou ek net God is in beheer. Hy weet presies waar Michael is en op die regte oomblik, glo ek, sal ons die inligting kry wat ons nodig het.”

’n Rukkie nadat ons gegroet het, laat Valerie per e-pos weet: “Iets betekenisvols: Michael het nog nie weer geld uit sy bankrekening onttrek sedert hy verdwyn het nie.” En dan: “In hierdie onsekere tyd waarin alles heeltyd verander, is God ál wat konstant bly . . .”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe