Teen ’n wye draai in die pad wat teen die berghang tot by Kampsbaai se strand afkronkel, nestel daar aan die een kant ’n imposante wit gastehuis. En aan die oorkant van Theresa-rylaan in die gesogte Kaapse kusbuurt lê ’n ruim gesinswoning uitgestrek. 

Hier is die seelug vars en die uitsig asemrowend. Maar al lyk dit dalk soos ’n stukkie paradys, word die vrede glo al jare lank versteur deur ’n gevloek, ’n geskree en die gebrul van motorfietse. 

Dié “geraasbesoedeling” het Trevor Foster (67), die eienaar van die gastehuis, al tot trane gedryf. Dis so erg, beweer hy, hy het dit al selfs oorweeg om sy eie lewe daaroor te neem. Hy het daarom besluit om regstappe teen die vermeende lawaaimaker, sy buurman Clem Kirst, te doen.

En nou, ná ’n interdik, hofaansoeke en teen-aansoeke van albei buurmanne, meer as 300 video-opnames van die beweerde rusverstoring en ’n uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad, is die strydbyl nog nie begrawe nie. 

Trevor Foster is al jare in 'n bitter stryd met sy
Trevor Foster is al jare in 'n bitter stryd met sy buurman gewikkel. Foto: Misha Jordaan

Beskuldigings vlieg steeds heen en weer oor Theresa-rylaan, nes die briewe tussen Trevor se prokureur en Clem s’n.

“Clem leef hier asof niemand anders hier leef nie,” sê Trevor, ’n voormalige geoktrooieerde rekenmeester, aan Huisgenoot. “Hierdie is die laaste jare van my lewe en hy het ses jaar daarvan gesteel.”

Op sy beurt beskuldig Clem vir Trevor in hofstukke dat hy ’n obsessie met hom en sy gesin het.

“Die klaer wil my keer om ’n gewone gesinslewe op my eiendom te lei,” voer hy aan.

“Ek woon saam met my vrou en twee seuns wat agt en 11 jaar oud is. Ons het honde. Soms blaf hulle. Ek het motors en motorfietse wat ’n geraas maak. “Soms is die seuns stout en skree ek op hulle om hulle te dissiplineer. Soms skree ek op die honde om hulle te laat ophou blaf. “Ons lei gewone lewens waarop ons geregtig is. Om daardie lewens te lei, veroorsaak onvermydelik geraas.” 

Clem Kirst van Kampsbaai meen die interdik teen ho
Clem Kirst van Kampsbaai meen die interdik teen hom is onredelik. Foto: Skermgreep

Maar so vasbeslote is Trevor om rus en vrede en bowenal stilte vir hom, sy gaste en die buurt te verseker dat hy al deur die jare R1,4 miljoen aan regskoste opgedok het.

“Die ding het ’n lang aanloop gehad,” vertel hy by sy gastehuis, Camps Bay Villa. 

Hy het in die vroeë 1980’s die lappie grond aan die voet van die Gewelberge gekoop met geld wat hy by sy ouers geleen het, en ’n paar jaar later het hy die huis hier laat bou. Hy het in vrede hier gewoon tot byna ses jaar gelede, sê hy.

Clem en sy vrou, Sharmn, het pas in Desember 2014 oorkant hom ingetrek, toe Trevor as ’n gebaar van goeie buurmanskap vir hulle ’n bottel wyn neem. “Sharmn het na die deur toe gekom en gesê ek moet die een of ander tyd oorkom,” vertel hy van hul eerste ontmoeting.

“Toe ek daar by die voordeur staan, het ek hom diep in die huis gesien, maar hy wou nie uitkom nie,” sê hy oor Clem.

Die eienaars van dié twee huise sit al vir jare la
Die gevegsfront: Tussen dié twee huise met hul onverbeterlike uitsig op die see speel die veldslag tussen Trevor en Clem af. Foto: Google Street View

Dieselfde maand nog het Trevor een oggend agtuur wakker geskrik van harde tromslae. Die Kirst-gesin het toe nog die huis gehuur en Trevor het die huiseienaar gevra om hulle te versoek om die vensters en deur toe te hou terwyl hulle tromme speel. 

Vier maande later het Trevor glo een nag om eenuur wakker geword toe Clem en sy vrou van ’n aandjie uit tuiskom en hy na bewering kliphard skree: ‘Is jy reg vir my?’ Toe hoor hy ’n motor met ’n brullende enjin wegjaag en teen vieruur, met Clem se terugkeer, is Sharmn se naam glo hard uitgeroep, beweer hy in hofstukke.

Een Sondagmiddag, ook in 2015, het Trevor glo gehoor hoe Clem vermoedelik sy jongste seun vloek. 

In November daardie jaar het Trevor die polisie gebel toe daar harde musiek uit Clem se huis opklink, want hy was bekommerd dat dit sy gaste sou steur. Met die gaste se terugkeer, beweer Trevor, het Clem hom uit sy huis skreeuend uitgevloek. 

Nog ’n ontstellende voorval was toe werkers by die gastehuis Clem na bewering ’n rassistiese aanmerking teenoor ’n tuinman in sy diens hoor maak het.

“Maar toe ek hoor hoe hy vir een van sy seuns sê hy gaan hom in die bad verdrink as hy nie ophou skree nie, was dit die einde,” beweer Trevor. Dit het hom laat besluit om ’n interdik teen Clem te kry.

Ná ’n aanvanklike gesukkel om ’n hofdatum vir sy aansoek te kry, is ’n tussentydse interdik in September 2018 toegestaan. Dit het Clem verbied om hom aan enige geraasbesoedeling skuldig te maak, te skree of kragwoorde te gebruik wat Trevor of sy gaste raak. 

Clem het dit nie teengestaan nie en die interdik is in Februarie 2019 bekragtig.

Net ’n maand later het Trevor gekla dat Clem hom nie by die hofbevel hou nie en meer as 300 video’s van die geraas, wat hy tussen Junie 2018 en Julie 2019 opgeneem het, saam met ’n nuwe aansoek by die hof ingedien. 

Trevor ontbied sekerheidsdienste of die polisie wa
Trevor ontbied sekerheidsdienste of die polisie wanneer hy meen Clem maak hom skuldig aan geraasbesoedeling. Foto: Skermgreep
Trevor en Clem het oor die jare menigte kere kop g
Trevor en Clem het oor die jare menigte kere kop gestamp. Foto: Skermgreep

In September verlede jaar het ook Clem ’n hofaansoek gebring om die interdik teen hom ter syde te stel. Hy het aangevoer dat hy aanvanklik onbewus daarvan was tot hy ’n afskrif daarvan in sy posbus gekry het. 

Albei se aansoeke is in Julie vanjaar deur regter Hayley Maud Slingers van die hand gewys, en die interdik teen Clem is steeds van krag. 

Hy berus hom by die uitspraak, sê Trevor, maar die hele debakel het fisiek en emosioneel sy tol geëis. Hy sukkel met ’n hartkwaal en in Maart 2019 was sy bloeddruk so hoog dat hy medikasie moes neem.

“Ek wou al twee keer my eie lewe neem,” sê hy. Kort voor hy eindelik in 2018 ’n hofdatum gekry het, het die gesloer vir hom ondraaglik geword. “Ek was gereed om van ’n gebou af te spring.”

Die tweede keer was in Maart 2019 toe Trevor se gaste moes aanhoor hoe Clem glo vir sy vrou skree om haar “f***** werk te doen”. 

Hy onthou hoe moedeloos hy was toe hy die voorval by die polisiekantoor in Kampsbaai aangemeld het. “Ek het vir hulle gesê ek gaan voor ’n bus inspring. Op daardie oomblik het daar ’n bus verby gekom, maar ek kon dit nie doen nie.”

Daarna het hy by ’n sielkundige om hulp gaan aanklop. “Ek het ineenstortings gehad. Ek het begin huil terwyl ek met gaste praat. Ek kon nie funksioneer nie.” 

Meer onlangs

In die drie maande sedert die hofuitspraak het die situasie verbeter, maar dis hoofsaaklik omdat die Kirst-gesin nou op ’n ander eiendom woon, verduidelik Trevor. Hulle kom steeds die honde op hul erf kosgee, en dan is die gefluit vir die honde en die gebrul van die motorfiets vir hom ’n doring in die vlees.

“Clem probeer my intimideer,” meen hy en sak terug op die rusbank, sy oë stip op die panoramiese uitsig.

Ook die helder spreiligte voor Clem se huis wat saans by die gastehuis inskyn, pla hom. Hy beskou dit en sy buurman se veiligheidskameras, wat ook Trevor se bewegings vasvang, as “sielkundige oorlogvoering”.

Trevor se prokureur het ’n brief aan Clem se prokureur gestuur om onder meer te vra dat hulle die kwessies oor die spreiligte en veiligheidskameras buite die hof probeer oplos, maar hulle wag nog op terugvoer.

Die spore van kommer dat dit nog nie die einde van die sonde met die bure is nie, lê op Trevor se gesig uitgekerf toe hy sê: “Ek is klaar, ek is gebroke. Ek kan dit nie langer oorleef nie.”

In hofstukke ontken Clem dat hy enige rassistiese aanmerkings gemaak het. Hy voer ook aan dat ouers op hul kinders mag skree en dat dit reg oor die wêreld gebeur. Oor die bewering dat hy glo gesê het hy gaan sy seun in die bad verdrink, sê hy hy kan nie die voorval onthou nie.

“Ek is ’n liefdevolle pa en sal nooit ernstig dreig om so iets te doen nie.”

Clem het aan Huisgenoot gesê hy respekteer die hofuitspraak en sal daarby hou.

“Die bitterheid is ongelukkig, maar ons vertrou die verhouding kan mettertyd herstel word. Ons wil net hê die video-opnames van ons en ons gesin se bewegings moet ophou.”