Dit is ’n tweegeveg in die ware tradisie van die Wilde Weste. ’n Kroeg, ’n jare lange vete, ’n straat vol mense wat afwagtend kyk wie die volgende skuif gaan maak . . . Maar dis die Pretoriase Moot dié – die woonbuurt Villieria, om presies te wees.

Dis waar die manne hul ysterperde by die watergat in Pierneefstraat kom afsaal om die dag se stof uit hul moeë kele te was. Dié watergat – die Picasso’s Pub and Pizzeria – is die middelpunt van ’n verwoede stryd.

Op die aanval die afgelope 10 jaar is ’n omgesukkelde buurman wat sê hy is keelvol vir die nagtelike geroesemoes; vir die fuiwers wat leë bottels voor sy erf strooi en sy hek toeparkeer.

Op die verdediging is die eienaar van die kuierplek met sy houding wat soos iets uit die Wilde Weste-flieks lyk: “I ain’t gettin’ out of Dodge . . .”

Dinge het al so warm geraak dat die hooggeregshof in Pretoria onlangs ’n bevel uitgereik het wat Jacques van der Merwe (52) verbied om die klante van Picasso’s te konfronteer en te dreig. En die beleërde kroegbaas? “Ek wil maar net vrede hê,” sê die 57-jarige Johan Botha met ’n skewe grinnik. “Die kroeg is my enigste inkomste – een waarmee ek vir my gesin moet sorg.”

Hy vertel hy het al telkens probeer om die strydbyl te begrawe. Maar vergeefs. Wanneer hy weer sien, daag die polisie by sy pizzaplek op omdat Jacques gekla het oor die lawaai. Selfs gesondheidsinspekteurs het al “ná ’n anonieme wenk deur ’n gemeenskapslid” by die kroeg ingestap.

“Dis vernederend om so in die middel van dié drama te staan. Hy vertel my klante hulle sal almal hel toe gaan. My onderneming ly onder die vals klagte wat Jacques by die owerhede indien. Toe sleep ek hom maar hof toe.

“Nou wil ek net hê die geskil moet tot ’n einde kom,” sê Johan.

Die vooraansig van die kroeg wat soveel onenigheid veroorsaak. Foto: E.R. Lombard.

Toe ons vir buurman Jacques bel, klink hy sommer uit die staanspoor opgeklits. “Ek is nog nie eens opgewarm nie,” sê hy. “Kom ek stel dit so: Ons is nog nie naastenby by die wegspringstreep nie . . .”

Buite Picasso’s sit ’n man vandag wydsbeen in die saal. Hy het maar onlangs van die vete gehoor, sê dié motorfietsryer. Die straat is in twee kampe verdeel: dié wat hier kuier, en dié wat sê dis g’n plek vir ’n kerkmens nie. Binne lag Johan uitbundig oor al die aandag wat die kroeg kry.

Hy het die kuierplek in 2008 met sy neseier by ’n vriend gekoop, vertel hy. Binne ’n week het Jacques ingestorm met die woorde: “Ek is jammer jy het die kroeg gekoop, maar ek gaan sy deure vir jou sluit.”

Kuiltjies keep Johan se wange. “Dis nou al 10 jaar, en hier sit ek steeds.”

Die vorige kroegeienaar, Gerrie de Villiers (57), laat hoor: “Die drama kom al jare. Ek het Jacques eenmaal aan sy kraag gegryp en hom oor die pad gesleep. Johan hanteer dit baie beter.”

­Jacques van der Merwe se huis in Pierneefstraat kyk reguit op die kroeg uit; daarom pla die geraas by die kroeg hom vreeslik, sê hy. Foto: E.R. Lombard.

Johan vertel Jacques het eers gekla oor die harde musiek. Later oor mense wat voor sy huis parkeer of laatnag drankbottels voor sy erf gooi. Hy het glo op Johan se klante geskree en selfs gedreig om sy pistool te gebruik.

“Ek het opgehou om musiekgroepe na die kroeg te nooi. Volgens my lisensie mag ek tot tweeuur soggens drank verkoop, maar ek probeer deesdae om ná eenuur nie meer te verkoop nie. Als om hom tegemoet te probeer kom.”

Maar volgens Johan stel niks sy buurman tevrede nie. “Ek en my gesin was ’n paar jaar gelede met vakansie toe ek ’n oproep kry dat ’n gesondheidsinspekteur uit die bloute by die kroeg opgedaag het. Al fout was ’n gebreekte teël in die kombuis, toe maak ek dit maar reg.”

Johan erken klante hou weens ’n tekort aan parkeerplek op die sypaadjie voor Jacques se huis stil. Onlangs is betonversperrings opgerig om dit te verhoed. “Jacques sê dis die munisipaliteit wat dit opgerig het, maar ek dink hy het ’n ongesonde vendetta teen die kroeg.”

Volgens Johan is die leë drankbottels wat voor sy buurman se erf beland nie oor sý kroegtoonbank verkoop nie. Jacques sit glo heeltyd op ’n groen plastiekstoel onder ’n koelteboom op die uitkyk na iets om oor drama te maak.

Selfs in die middel van ’n werkdag is die kroeg ’n gewilde uithangplek onder Pretorianers – veral wanneer ’n groot sportwedstryd op TV gewys word. Foto: E.R. Lombard.

“Hy vertel my klante hulle sal almal hel toe gaan. My klante voel hul privaatheid word geskend. Hy’t selfs slegte uitsprake oor die kroeg in ’n kerkblaadjie gemaak.

“Dis ’n kroeg, nie ’n kleuterskool nie. Ons gaan soms kuier, veral as daar ’n sportgeleentheid is, maar ons gaan nie daarop uit om die lewe vir hom moeilik te maak nie. Ek kan egter nie aanhou klante verloor omdat die polisie hulle verjaag oor ’n klagte nie,” sê Johan.

“Ek wens hom net goeie dinge toe, maar wil graag hê dit moet met my onderneming ook goed gaan.”

In hofstukke ontken Jacques hy koester ’n wrok teen Picasso’s. Tog het regter Jonas Mosopa tydelik gelas dat hy nie die klante mag intimideer of vals klagte by die polisie indien nie.

Jacques erken hy het al die polisie en metropolisie en selfs die munisipale gesondheidsdepartement gebel oor die lawaai. Maar hy ontken hy “doen alles in sy vermoë” om die kroeg se sake te belemmer.

Hy ontken Johan se bewerings dat hy die kameras op sy erf gebruik om die bewegings buite die kroeg te monitor. “Ek kan nie verstaan hoekom Johan eis dat ek my lewe in gevaar stel deur my veiligheidskameras te verwyder nie.”

’n Bordjie is ook aangebring. Foto: E.R. Lombard.

Oor die bewerings dat hy met klante van die kroeg argumenteer en gedreig het om ’n pistool te gebruik, sê hy: “Dit is hoorsê, en die bewerings het geen substansie nie.”

Wat sê die ander inwoners van Pierneefstraat oor die oorlog hier in die “wilde weste” van Pretoria?

“Ek sal nie ontken dat die geraas soms erg raak nie, maar mense het ’n uitlaatklep nodig,” sê ’n 65-jarige vrou wat ook al 10 jaar in die straat digby Picasso’s woon. “Wanneer hulle na ’n groot sportwedstryd kyk, raak ek skoon jaloers. Maar ek sit nie my voete daar nie; ek is ’n Christenvrou.”

Sy was nog nooit regtig ontsteld oor die kroeg nie. “Dalk is dit omdat ek en my man half doof is,” spot sy. “Ek verstaan nie hoekom dit vir Jacques so pla nie.”

Ook die 28-jarige Jessica Coetzee, wat sowat 50 m verder woon en “graag die kroeg besoek”, vertel die musiek was nog nooit vir haar onuithoudbaar nie. Volgens haar is Johan nie onredelik nie en sal hy op versoek die musiek sagter stel. “Die enigste probleem is dat mense soms hul rommel of leë bottels in ons tuin gooi.”

Die betonstrukture wat klante van die kroeg verhoed om op Jacques se sypaadjie stil te hou. Foto: E.R. Lombard.

Winston Mabena (23) huur al ses jaar lank ’n woonstel bo die kroeg. Volgens hom is daar wel soms baie lawaai, maar dis nie die kroeg se skuld nie. “Dis mense wat soms dronk raak en buite lawaai wanneer hulle die kroeg verlaat,” verduidelik hy.

“Ek het in ses jaar nog nooit gevoel ek moet die eienaars van die kroeg konfronteer nie. Dis werklik nooit so erg nie.”

Oor een ding stem almal saam: Die laaste skote in dié tweegeveg is waarskynlik nog lank nie afgevuur nie. Want hier in Pierneefstraat is daar altyd kans op nog ’n High Noon by die watergat.