Bevind jy jou deesdae in die Kaap, voel dit asof inwoners hulle voorberei op die eindtyd.

Op kantoor, in skole, aan etenstafels en op straat hoor jy die angs in Kapenaars se stem: Dag Zero kom nader . . . Paniekbevange vra mense mekaar: Wat gaan ons doen?

“Ek was Saterdagoggend vyf oor agt by ’n groot supermark, toe hardloop daar vroue by die deur in met paniek op hul gesig, reguit na die rakke waar die water gewoonlik staan. Maar dis nie meer daar nie. Een storm op my af en skree byna: ‘Waar’s die water?’ ” vertel Sandra le Roux* van die Kaapse voorstad Panorama.

In groot supermarkte word 5 L-bottels met water sedert vroeër vandeesmaand uitverkoop sodra dit afgelewer word – dié word nou opgegaar in huise oral in die Skiereiland. Soek jy ’n groot plastiekhouer om grys water op te vang of in afwagting van die ontwykende reën, moet jy ver soek – dit is by baie winkels uitverkoop.

Boorgate word gesink, slim kontrepsies word deur Jan Rap uitgedink om elke laaste druppel te spaar en al wat watervrye sjampoe of handreiniger is vlieg van die winkelrakke af.

Terwyl Kapenaars hulle voorberei op Dag Zero – na verwagting in April – wanneer die stad weens die voortslepende droogte nie meer genoeg water vir sy sowat 4 miljoen inwoners sal hê nie, beraam die owerheid desperaat noodplanne.

Wanneer Dag Zero die Kaap tref, sal die munisipaliteit rye staanpype opstel en elke staanpyp sal twee krane met tuinslange hê, verduidelik Xanthea Liebenberg, die stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en afvaldienste.

Daar sal 200 punte in die stad wees wat 24 uur per dag oop sal wees, terwyl die weermag en die polisie deurentyd ’n wakende oog sal hou. Inwoners sal elk 25 L water per persoon per dag by dié waterpunte kan kry en sal hul eie houers moet gebruik.

“Daar sal beamptes wees om te keer dat mense die stelsel misbruik, maar omdat hierdie operasie so enorm is, sal inwoners eenvoudig bedagsaam en pligsgetrou moet optree om seker te maak almal word so min moontlik verontrief,” sê Xanthea.

Maar hoe voel dit om sonder water in die krane te wees, en hoe dan gemaak?

Iemand wat maar te goed weet hoe om water uit die spreekwoordelike klip te probeer tap, is die Afrikaanse skrywer Dibi Breytenbach.

Dié regsgeleerde en skrywer van spanningsromans soos Saliger, Vrediger en Heiliger en haar gesin het ’n jaar lank sonder water in hul krane geleef op die dorpie in KwaZulu-Natal waar hulle woon.

Tussen Mei 2016 en Mei verlede jaar was hul krane meestal leeg en moes hulle toustaan vir water.

‘As jy eers in die situasie is, dan cope jy en raak jy vindingryk’

“Die dag toe ons hoor daar is geen water meer nie, was die hopeloosste en hulpeloosste wat ek al ooit gevoel het. ’n Mens voel totaal buite beheer,” vertel Dibi. En dan sê sy vertroostend: “Die wonderlike ding is egter dat mense besonder aanpasbaar is . . .”

“Daar is nie nog so ’n gelykmaker soos wanneer ’n mens moet toustaan vir water nie. Almal is dieselfde: dokter, dominee, straatveër en werklose. Almal is eindelik net mens. En dors. Dit bring ’n mens terug aarde toe,” vertel Dibi.

“Dit was beslis nie maklik nie, maar ook nie onmoontlik nie. As ’n mens eers in die situasie is, dan cope jy en raak jy besonder vindingryk ook. Die kinders was staatmakers. Hulle het nooit gekla nie en self water aangedra wanneer dit nodig was."

Dibi Breytenbach en haar kinders, Iancke en Euan, waardeer elke druppel nadat hulle ’n jaar sonder kraanwater moes leef.

"’n Mens is geneig om hulle te onderskat. Ek kan nie sê dat ons ooit gewoond geraak het daaraan nie, maar ons het wel geleer om dit te verduur en te hanteer. So iets is uitsonderlik traumaties vir die gemeenskap se psige en mense vergeet dit nooit.”

Sy vertel noudat die droogte in dié streek gebreek en daar weer water in die krane is, “is ons steeds suinig met water”.

Selfs vandag nog, vertel Dibi, staan sy soms snags op en draai ’n kraan oop net om seker te maak daar is regtig weer water. En dan draai sy dit weer styf toe.

Sonder lopende water verg iets soos wasgoed was fyn beplanning terwyl ’n mens jou waterrantsoen probeer rek.

Hier's my waterwenke

Dibi deel die praktiese waterlesse en -wenke wat sy self noodgedwonge moes leer en toepas toe Dag Zero op haar tuisdorp aanbreek.

  • Water is herbruikbaar. Wanneer jy self water by ’n waterpunt moet afhaal, wil en moet jy die maksimum myle uit die minimum water put.
  • Ons het ’n kampstort gebruik wat met ’n dompelpomp werk wat aan ’n battery gekoppel is, maar ’n mens was net so skoon in ’n skottel. Elke gesinslid het sowat 3 L water per dag gekry om mee te stort. Water is warm gemaak in ’n kastrol op ’n induksieplaat.
  • Ons het ’n groot skottel in die stort gesit en ’n 25 L-plastiekemmer met ’n deksel by die toilet. Jy het in die skottel gestaan en stort en daardie gebruikte water is dan toiletemmer toe. Weens die seep ontwikkel die water in die toiletemmer ’n klankie wat heeltemal geneutraliseer word deur ’n eetlepel bleikmiddel in die water te gooi.
  • Toilette is gespoel net wanneer dit werklik nodig was. Dit is aanvanklik grillerig, maar ’n mens raak gewoond daaraan. Baie belangrik is om nie toiletpapier in die toilet te gooi as jy nie beoog om dit onmiddellik weg te spoel nie. Dit veroorsaak die allergrusaamste blokkasies wat huweliks-, gesins- en openbare vrede tot die uiterste kan beproef omdat daar geen water is om dit mee weg te spoel nie.
  • Ons het Ecobins – sulke klein asblikkies met opwipdeksels – gekoop waarin enige toiletpapier gegooi is wat nie dadelik gespoel is nie. Daar is dan later diskreet daarvan ontslae geraak in die groot buiteasblik. Sanitêre produkte is glad nie gespoel nie.
  • Klere is gewas net wanneer dit werklik nodig was. Ek het twee 50 L-asblikke met roldeksels gekoop en in my waskamer gesit. Hulle het ek een keer per week volgemaak. Een het ek gebruik vir waswater en die ander vir afspoelwater. Ek het steeds met my wasmasjien gewas, maar op sy handwasfunksie. Maandae en Dinsdae het ek witgoed gewas en die water teruggetap in die asblik en afgespoel met water uit die ander asblik. Woensdae en Donderdae het ek ligte goed gewas en Vrydae en Saterdae donker goed op dieselfde manier.
  • Vir klere wat net “gedra” is maar nie vuil was nie, het ek Stasoft met ’n bietjie water in ’n sproeibottel verdun, dit daarmee bespuit en in die tuimeldroër gegooi. Ek doen dit nou nog. Dit lyk skoon en jy ruik soos ’n blommetjie.
  • Sekere klere soos jeans en langbroeke kan jy oornag in ’n Ziploc-sak in die vrieskas sit voor jy dit weer dra. Dit vries alle reuke dood. Eintlik hoef jy maande lank nie jou jeans te was nie.
  • Die geiser is afgeskakel, want dit sou kon uitbrand sonder watertoevoer.
  • Wanneer daar geen water in die pype is nie, kan die deurvloei van lug veroorsaak dat daar steeds verbruik geregistreer word. Hou die stopkraan dus toe.
  • Wanneer die water opraak, is ’n skottelgoedwasser ’n nuttige plek om vuil skottelgoed in te bêre tot vanaand wanneer jy moet skottelgoed was.
  • In die handwasstadium het ek twee 5 L-skottels in die wasbakke gesit. Die skottelgoed het ek met kookwater gewas (met dik rubberhandskoene aan) en afgespoel in water waarin ek witasyn gegooi het. Die asyn neutraliseer die skottelgoedseep wat alkalies is en het tot gevolg dat jy meer skottelgoed met minder water kan afspoel.
  • Ek het my potte en panne in dubbellae tinfoelie uitgevoer. Dit het skottelgoedwaterverbruik mooi verminder.
  • Gebruikte skottelgoedwater is deur ’n sif in die toiletemmer gegooi – die sif om te verhoed dat kosdeeltjies in die toiletwater beland en dit sleg laat ruik.
  • Waterlose handreiniger, Jik en Dettol is belangrik. Ons het in ons badkamer ’n klein skottel – sowat 3 L – met Dettolwater gesit waarin ons ons hande afgespoel het. Wanneer daar nie water is nie, is dit allerbelangrik om skoon te leef. ’n Mens kan nie ’n omgekrapte maag bekostig wanneer daar nie water is om die toilet mee te spoel nie. 
* SKUILNAAM; FOTO’S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, HOMEIMPROVEMENTPAGES.COM.AU, VERSKAF