Die hof het bevind dat Alberto Sanchez Gomez – ook bekend as die kannibaal van Las Ventas, die streek waar die moord plaasgevind het – was by sy volle verstand toe hy sy ma, Maria (69), in Februarie 2019 vermoor het.

Hy is vandeesweek tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord en ’n bykomende vyf maande vir die onheil wat aan haar lyk gedoen is nadat hy die lyk in stukke opgesny en die kadawer oor ’n tydperk van 15 dae geëet het.

Hy het ook van die stukke vir sy hond gegee om te eet. 

Alberto het sy ma doodgemaak nadat hulle stry gekry het. Hulle het ’n woonstel in Las Ventas naby Madrid gedeel. 

Volgens hofstukke het Alberto sy ma verwurg en haar lyk na haar slaapkamer toe gesleep, waarna hy ’n saag en twee kombuismesse gebruik het om haar in stukke op te sny in ’n poging om van die lyk ontslae te raak. 

Daarna het hy die stukke oor die volgende 15 dae begin eet. Hy het verskeie dele in Tupperware-bakkies in die yskas gebêre. Hy het ook van die oorskot in plastieksakke gegooi en in die asdrom gesit.

’n Polisielid wat op die toneel was, skryf in sy verklaring Alberto het dadelik erken dat hy sy ma vermoor en dele van haar lyk rou geëet het. Soms het hy van die dele gekook en vir sy hond gevoer. 

Op 23 Februarie 2019 is hy by die woonstel in hegtenis geneem nadat ’n vriendin Maria as vermis aangemeld het nadat sy haar vir ’n maand nie in die hande kon kry nie.

Die hof het ook bevind dat Alberto byna R2 miljoen aan sy ouer broer moet betaal as vergoeding vir die sielkundige skade wat hy hom berokken het.

Bronne: CNN, BCC

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe