Dié foto van die aktrise Christia Visser is ’n paar maande gelede binne-in die Theewaterskloofdam geneem tydens 'n fotosessie waar sy trourokke gemodelleer het.

“Ek sidder om te dink hoe die dam nou lyk,” skryf die donkerkop-aktrise by haar Instagram-foto.

Christia het Maandagoggend op Instagram die erns van die Kaapse waterkrisis beklemtoon ná sy ’n video op sosiale media gesien het van ’n man wat water mors.

In die video, met die hutsmerk #heycapetownchallenge, gooi die man ’n bottel met 5 liter water by ’n wasbak uit. Daarna draai hy sy kraan oop dat die water loop en drink 'n klein slukkie water vanuit die bottel se proppie.

“Ek het dit uiters ontstellend gevind dat jy in ’n krisistyd soos hierdie steeds mense kry wat die skuld na ras, geloof, politiek of wat ook al sal verskuif,” het Christia geskryf.

“Dink jy die droogte is net ’n sekere persentasie van die land se skuld? Want het jy nie sekerlik ook water gebruik nie?”

Sy meen mense moet water begin oppas as die land ’n toekoms wil hê.

“Ons moet dit saam doen, daar is geen ander manier nie. En as jy dink die droogte is ’n grap, hierdie foto is ’n paar maande gelede in die Theewaterskloofdam geneem. Ja, ín die dam.”

“Neem asseblief die waterkrisis ernstig op. Dit is nie ’n rasse-saak nie, dit is ’n mense-saak,” skryf sy verder.

Die video, wat wyd gedeel is, het ook die Wes-Kaapse premier Helen Zille se aandag getrek.

Dag Zero, wanneer die Kaapse krane gaan leegloop, gaan na verwagting op 16 April aanbreek. Intussen moet mense in Kaapstad hul waterverbruik tot 50 liter per persoon per dag verminder.