Rohde word daarvan aangekla dat hy sy vrou, Susan, tydens ’n eiendomskonferensie op die landgoed Spier naby Stellenbosch vermoor het. Hy word ook van regsverydeling aangekla.

Die staat voer aan Rohde het sy vrou op Sondag 24 Julie 2016 “onregmatig en doelbewus” doodgemaak deur haar te verwurg of ander geweld op haar toe te pas.

Wat die klag van regsverydeling betref, voer die staat aan Rohde het met die misdaadtoneel gepeuter en die polisie probeer mislei deur vals inligting oor die voorval te verskaf.

Coetzee-Khan, in dié stadium in Vredendal gestasioneer, het reeds meer as 2 900 nadoodse ondersoeke uitgevoer.

Daarvan was ongeveer 100 gevalle waar mense hulself om die lewe gebring het deur hulself te hang, 12 verwurgings waar ’n koord of draad gebruik is, 19 met die hand verwurg en agt wat versmoor is.

Daarbenewens is hy ook ’n gekwalifiseerde ginekoloog en verloskundige.

Coetzee-Kahn het op 24 Julie om 12:45 die misdaadtoneel besoek waar Susan gesterf het omdat die polisie onseker was of haar dood selfdood of moord was.

Rohde het glo gesê sy het die badkamer woedend binnegestorm en die deur agter haar gesluit.

Aan hom is genoem dat die egpaar die nag van haar dood in 'n rusie betrokke was. Rohde het glo gesê sy het die badkamer woedend binnegestorm en die deur agter haar gesluit. Dit was daar waar sy haarself na bewering aan ’n haak aan die badkamerdeur gehang het.

Bloedvlekke is gevind wat verdag voorgekom het.

Ook is aan hom gesê die badkamerdeur moes met geweld oopgedwing word om by haar liggaam te kom. Hy kon nie die inligting met Rohde nagaan nie, want laasgenoemde was nie op die toneel nie.

Susan is om 09:08 deur paramedici op die toneel dood verklaar. Bloedvlekke is gevind wat verdag voorgekom het.

Die ligte in die hof is verdoof sodat foto’s van die misdaadtoneel vertoon kon word.

Rohde het die beskuldigdebank verlaat en gaan sit waar hy nie die groot projektor-beelde kon sien nie, maar hy het wel na die foto’s op ’n skootrekenaar gekyk. Hy het langs die badkamerdeur gesit wat as bewysstuk in die hof geplaas is.

Die media is nie toegelaat om die foto’s af te neem nie.

Coetzee-Kahn het gesê hy het ontlastingmerke op die teëls gesien. Susan se naakte liggaam, met ’n wit kamerjas oor die boonste helfte van haar lyk, was in die badkamer met haar kop na die toilet se kant.

Hy het gesê hy het nie tekens van ligatuur op haar liggaam gesien nie.

Bloed is aan haar voete gevind en ’n groot kneusing aan haar regterbobeen. Susan het nog haar grimering aangehad. Rohde het gekriewel, sy oë herhaaldelik geknip en weggekyk terwyl ’n grafiese foto gewys is.

Coetzee-Kahn het gesê hy het wel ’n ligatuurmerk aan die voorkant en kant van haar nek gevind.

Dit het ’n reguit lyn gevorm. Aan die regterkant van haar nek het dit effens na bo gedraai. Daar was krapmerke aan die regterkant van haar onderkaak en die linkerkant van haar nek. Hy het genoem dit kon moontlik deur vingernaels veroorsaak gewees het.

Bloeding en skawing was teenwoordig aan die boonste lid van haar linkeroog. Dit suggereer trauma deur ’n stomp voorwerp, spesifiek op daardie oog.

Wanneer trauma in die vorm van ’n vuis of hou plaasvind, sal daar soms ’n skaafplek deur die ring aan ’n vinger veroorsaak word.

Coetzee-Kahn sê dit dui op ’n fisieke onderonsie, iets wat nie met selfdood plaasvind wanneer iemand hulself hang nie.

Hy het ’n groot, “groenerige” kneusing op haar dybeen gevind wat besig was om te genees. Dit is die kneusplek waarvan oudkollega Mark Thompson melding gemaak het.

Kneusings vertel 'n storie

Hy het ook getuig dat daar bloedspatsels op Susan se regterooglid gevind is, asook kneusings op haar knie en onderste gedeelte van haar been.

Coetzee-Kahn het gesê die verskillende "ouderdomme" van kneusings wat hy aan Susan se liggaam gevind het, het die gedagte van moontlike mishandelde-vrou-sindroom by hom laat opkom.

Skaafmerke is op albei voete se tone gevind, asook op haar kneukels en gewrig waar kneusplekke ook aangetref is. Hy het dit as verdedigingsbeserings beskou.

Waar het Susan gesterf?

Volgens hom het die kleur van die lyk daarop gedui dat Susan gesterf het toe sy gelê het en nie regop was nie. Tekens daarvan is op Susan se rug gevind. Hy beraam die tyd van haar dood as omstreeks 05:40 die oggend van 24 Julie.

"My skatting is op 95 present van alle gevalle toepaslik," het hy getuig.

Hy het verwys na die moontlikheid dat Susan se liggaam verskuif is en dat dit moontlik die nadoodse bevindings kon vertroebel.

Rooi bloedvlekke is aan die linkerkant van die bed, die duvet, laken en die kussing op die vloer aangetref. Dit het vir hom vreemd voorgekom. Daar was ook stoelgangvlekke voor die badkamerdeur. Susan se kamerjasgordel het van die bed afgehang.

Hy vermoed dit is moontlik die misdaadtoneel van waar Susan se lyk verskuif is.

Coetzee-Kahn het ook genoem dat hy ’n gleufie aan die buitekant van die badkamerdeur gesien het. Dit kan met ’n muntstuk van buite oopgemaak word in geval iemand in die badkamer vasgekeer sou wees.

Moontlike moord of selfdood?

Hy wou nie Susan se dood as selfdood afmaak nie en het die polisie versoek om dit as ’n moontlike moord te ondersoek.

Daarmee saam het hy versoek dat die hake aan die badkamerdeur getoets word om te kyk of dit wel Susan se gewig (52 kg) sou kon dra.

Hy wou ook hê Rohde moes deur ’n dokter vir moontlike beserings ondersoek word vanweë die beserings aan Susan se hand en oog.

Regter Gayaat Salie-Hlophe wou weet of die kamerjas Susan se borste bedek het. Hy het dit bevestig en genoem dat daar ook ’n rooi ligte kombers oor haar liggaam was. Hy weet egter nie wie dit gedoen het nie.

Die nadoodse verslag

Die nadoodse ondersoek het op 26 Junie 2016 plaasgevind.

Coetzee-Kahn het aangedui hy was verbaas om nie tekens van wrywing vanweë die elektriese koord op Susan se nek te vind nie. Die ligatuurmerk is waarskynlik ná haar dood veroorsaak.

Die ligatuurpatroon sal in die geval waar iemand gehang het, opwaarts neig. In Susan se geval was dit horisontaal.

Coetzee-Kahn het getuig dat die hang-aspek van Susan se dood nageboots is, oftewel ge-"stage" is want "jy weet nie hoe dit veronderstel is om te lyk nie; daarom doen jy dit verkeerd. Sy het reeds plat gelê."

Die foto's wat tydens die nadoodse ondersoek geneem is, is ook in die hof gewys. Coetzee-Kahn het gesê verskeie bloedings aan haar nek hou nie verband met die ligatuur nie en is 'n aanduiding van trauma met 'n stomp voorwerp.

Die trauma is hoër op teen haar nek as die ligatuurmerk.

Daar was ook aansienlike afwaartse druk op Susan se nekwerwels. Die trauma is iets wat gewoonlik waargeneem word waar iemand met die hand verwurg word.

Rooierigheid wat te bespeur is aan haar skildklierkraakbeen dui daarop dat die breuk voor haar dood gebeur het. Volgens Coetzee-Kahn is die breuke ’n aanduiding van verwurging deur hande.

Die saak gaan voort.