Rohde het Donderdag vir die vierde dag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig. Hy verskyn op aanklag van moord en regsverydeling. Die staat beweer hy het sy vrou, Susan, op 24 Julie 2016 in hul hotelkamer op die Spier-landgoed vermoor terwyl hy beweer sy het haar eie lewe geneem.

Onder kruisondervraging het Rohde getuig sy skoonpa, Neville Holmes, het hom die oggend van 24 Julie 2016 gevra of hy Susan doodgemaak het.

Hy beweer iemand moes sy skoonpa met dié se aankoms by Spier vertel het hy is vir Susan se dood verantwoordelik omdat Holmes kwalik 'n uur ná sy aankoms die hotelkamer binnegekom en die badkamer ondersoek het.

Adv. Louis van Niekerk, die staatsaanklaer, het ook weer die staat se forensiese deskundige, dr. Akmal Coetzee-Khan, se bevindings geopper en voer aan Rohde moes 'n verskoning uitdink om van die beserings aan Susan se liggaam te regverdig.

'Mishandel'

Rohde was duidelik ongelukkig oor die implikasie dat hy Susan mishandel het na aanleiding van Kahn se opmerking in Oktober 2017 in die hof dat die merke en kneusplekke aan Susan se lyk met dié van 'n mishandelde vrou ooreengestem het. 

Hy het aan die hof gesê die polisie moes net sy skoonma, Diane Holmes, en skoonsuster, Angela Norton, bel om uit te vind dit is nie die waarheid nie.

Die knoop in die koord

Adv. Louis van Niekerk het Donderdagoggend vroeër aan Rohde gesê die staat gaan aanvoer sy getuienis is 'opgemaak'.

Jason Rohde demonstreer hoe hy Susan by die deur uit die pad geskuif het. Foto: YouTube-skermgreep (News24)

“Daar is geen teken van enige knoop aan Susan se nek of agter haar nek nie,” het Van Niekerk in reaksie op Rohde se getuienis aangevoer dat daar ’n stywe knoop in die koord was.

“In kort, jou weergawe kan nie die waarheid wees nie,” het Van Niekerk aan Rohde gesê.

Die saak is tot Maandag uitgestel.