Dr. Akmal Coetzee-Kahn, ’n forensiese patoloog, het getuig “iets was oor (Susan Rohde) se neus en mond geplaas. Aanduidings is dat ’n hand of ’n voorwerp gebruik is.” 

Sy bevinding is gegrond op ’n afwysing van haar neus wat op eksterne blokkasie van die lugweg gevolg het.

Hy sê inmenging het dalk plaasgevind toe mond-tot-mond-asemhaling (deur Rohde) op haar toegepas is, maar die kleur op haar neus en gesig dui daarop dat dit nie die geval was nie.

Foto’s van Susan (47) se longe en hart is in die hof vertoon.

Volgens Coetzee-Kahn wys bloeding wat ooreenstem met tekens van versmoring. Dié tekens van versmoring word gevind waar verwurging met ’n ligatuur of met die hand plaasgevind het.

Drie van Susan se ribbes is gebreek en trauma met ’n stomp voorwerp wys op haar liggaam. Hy gee toe kardiopulmonale resussitasie (KPR) kon teoreties tot gebreekte ribbes gelei het, maar die bloeding aan die kant van haar borskas is atipies.

Daar is meer bloeding in haar weefsels gevind en dit word nie met KPR verbind nie.

Hy skryf dit toe aan ’n fisieke onderonsie soos byvoorbeeld wanneer iemand ’n knie teen die mens se bors sou vasdruk. Dit kan ook deur houe of ’n skop in die ribbe of borskas veroorsaak word. 

Beserings aan haar kopvel toon ook trauma deur ’n stomp voorwerp. 

Die kneusings en skaafmerke aan haar kneukels en gewrig wys sy het teruggeveg. Daar is geen kos in haar maag gevind nie, maar die 100 ml vars bloed wat wel daar gevind is, dui daarop dat sy dit gesluk het.  

Hy het die verskillende kleure bloed verduidelik wat in haar ingewande gevind is. Hy sê die bloed in haar ingewande dui daarop dat trauma voor haar dood plaasgevind het. Coetzee-Kahn vermoed Susan het bloed gehoes en dit toe weer gesluk.

Volgens hom kon dit ongeveer ’n uur voor haar dood gebeur het.

Die twee kneusings op haar bobene wat tekens van herstel getoon het, is volgens sy raming sowat sewe dae voor haar dood deur ’n stomp voorwerp veroorsaak. 

Hy het merke gevind wat ooreenstem met ’n duim aan die regterkant van haar nek en uitgestrekte vingers aan die linkerkant van haar nek.

“My gevolgtrekking is dit was ’n onnatuurlike dood, ooreenstemmend met versmoring ná fisieke verwurging en verlengde lugweg-obstruksie,” het hy getuig.

Hy het merke gevind wat ooreenstem met ’n duim aan die regterkant van haar nek en uitgestrekte vingers aan die linkerkant van haar nek.

Die ligatuurmerk (horisontale merk) strek oor net 60% van haar nek. Daar is ook geen teken/drukpunt van die knoop van die elektriese koord waarmee sy haar na bewering self gehang het nie.

Die skaafmerke aan haar liggaam dui daarop dat sy oor ’n ruwe oppervlak gesleep is. Die mat op die vloer van die slaapkamer van die Spier-landgoed waarin hulle tuisgegaan het, is betreklik grof.

Sy het volgens hom negatief getoets vir dwelms en daar was geen besering aan haar geslagsdeel nie. 

’n Tweede nadoodse ondersoek

Op 1 Augustus het dr. Reggie Perumal ’n tweede nadoodse ondersoek op Susan uitgevoer. Dit was op aandrang van Rohde. Haar liggaam is van Kaapstad na Johannesburg vervoer.

Hy het Susan se tyd van afsterwe as 08:00 op 24 Julie aangedui. Hy het gesê Susan het haarself met die elektriese koord opgehang.

Coetzee-Kahn het dit as ’n bewering, onvolledig en ontoeskryfbaar beskryf.

In Perumal se verslag word na skaafmerke en kneusplekke verwys, maar nie die oorsaak daarvan nie. Volgens hom het sy wel alkohol (0,03/100 ml) in haar sisteem gehad, en Coetzee-Kahn sê dit was onder die toelaatbare vlak om te bestuur.

Perumal se verslag maak melding van ’n diep, nuwe kneusing aan haar tong. Haar ribbes - twee tot vyf aan haar linkerkant en drie tot ses aan haar regterkant - asook ’n gedeelte van haar borsbeen was gebreek.

Die verdediging het kapsie aangeteken toe Coetzee-Kahn aan die hof sê ’n elektriese koord, hoewel dit ’n gladde oppervlak het, sal steeds groewe veroorsaak. Perumal het die ligatuurmerke as glad beskryf. Die verdediging het gesê Coetzee-Kahn is nie ’n elektriesekoord-spesialis nie. 

Coetzee-Kahn het daarop reageer deur te sê elektriese koorde is een van die algemeenste items waarmee hy te doen kry. “My kundigheid het te doen met hoe ’n koord ’n liggaam of vel wond.” 

Nog oor Perumal

Perulmal was ook destyds teenwoordig tydens die nadoodse ondersoek op Reeva Steenkamp, Oscar Pistorius se meisie.

Hy het egter nooit tydens die hofsaak getuig nie en daar was bespiegelings dat sy getuienis sleutelpunte van die staat se saak teen Oscar sou steun. Jan Botha het in sy plek getuig.

Nog oor Rohde

  • Op 28 Julie 2016 het dr. Marianne Tiemensma Jason Rohde ondersoek. Sy het twee oppervlakkige krap- of liniêre merke aan sy rug gevind. Die boonste een was 20 mm lank en 1 mm breed. Die een regs onder was ongeveer 30 mm lank en 1 mm breed. Nie een van die merke het tekens van genesing getoon nie.
  • Rohde is die oggend van 23 Augustus 2016 by die gesin se huis in Randburg in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou. Hy was in daardie stadium die uitvoerende hoof van Geffen International Realty Franchises, ’n afdeling van Sotheby’s.
  • Op 30 Junie 2017 is adv. Louis van Niekerk as die nuwe staatsaanklaer in die saak teen Rohde aangewys.
  • Op 18 Augustus het Rohde vir ’n voorverhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Die saak is tot Maandag 16 Oktober 2017 uitgestel.