“Sy moes die een of ander besering aan haar neus gehad het, want daar was bloed in haar neusgate,” het die privaat forensiese deskundige, dr. Reggie Perumal, getuig.

Hy word steeds deur die staatsaanklaer, adv. Louis van Niekerk, onder kruisverhoor geneem in verband met sy bevindings in die nadoodse ondersoek op Susan Rohde.

Perumal het Donderdag volgehou Susan het twee keer bloed gesluk en dat dit ’n “aktiewe proses” was wat daarop dui Susan het nog geleef toe sy die bloed, gelykstaande aan omtrent ’n koppie vol, gesluk het.

Dit sou volgens hom nie noodwendig tot naarheid by haar gelei het nie.

Van Niekerk het dit aan Perumal gestel dat hy onbewustelik ten gunste van die beskuldigde leun.

“Ek is so objektief soos ek kan wees,” was sy reaksie daarop.

Die raaisel oor die japon

Hoekom is geen stoelgang aan Susan se japon gevind as sy gekleed was, soos Rohde getuig het nie?

Perumal het gesê sy enigste logiese gevolgtrekking is dat iemand in die badkamer daarin getrap en dit op daardie manier in die kamer beland het.

’n Stoelgangmerk voor die badkamer en aan Susan se liggaam is deur Van Niekerk op die skerm vertoon. Perumal het toegegee die sleepmerke van die stoelgang kon ook plaasgevind het as Susan sonder haar japon aan op haar boude na die badkamer gesleep is.


Henri van Breda & Oscar Pistorius

Perumal het 'n indrukwekkende lys van hoëprofiel-sake wat op sy curriculum vitae verskyn, waaronder dié van Henri van Breda (wat in 2015 byna sy hele gesin in hul huis met 'n byl uitgewis het) en die Paralimpiese kampioen, Oscar Pistorius, wat sy meisie, Reeva Steenkamp, in 2013 in sy badkamer doodgeskiet het. 

Al het Perumal op die lys van getuies vir Van Breda verskyn, het hy nooit tydens die opspraakwekkende moordverhoor getuig nie.

Hy het wel Van Breda se regspan van raad voorsien, waaronder sy mening dat Van Breda se broer, Rudi, nog beduidend kon beweeg nadat hy met ’n byl aangeval is. Die staat het die teenoorgestelde bevind: dat Rudi slegs in ’n geringe mate kon beweeg.

Tydens Oscar Pistorius se moordverhoor sou hy ook as 'n kundige getuie vir die verdediging optree. Hy is egter nooit geroep om te getuig nie. Volgens Perumal was hy tydens 'n besoek aan die moordtoneel by die herwinning van ’n koeël of koeëldoppie betrokke.

Perumal het dit ’n projektiel genoem, na sy mening afkomstig van ’n Black Talon, en hy het getuig dit was duidelik dat een van die projektiele "deur die liggaam (Reeva) getrek" het.


Die saak duur voort.