Behalwe die keer toe Rohde haar hare getrek het . . . 

Dit is van die getuienis wat Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor is tydens Rohde se verhoor. Hy word van die moord op sy vrou, Susan, asook van regsverydeling aangekla.

Jane Newcombe, ’n kliniese sielkundige, het getuig oor gesprekke tussen haar en Susan tydens agt terapiesessies.

Newcombe getuig Susan was allesbehalwe ’n “muis” – sy kom uit ’n agtergrond van plofbare rusies, en kon praat waar en wanneer nodig. Sy sou baie kwaad word, maar 10 minute later het dit oorgewaai. Sy wou hul huwelik laat werk.

Rohde se woede daarenteen was “koue woede”, het Susan aan Newcombe gesê. Hy sou homself onttrek.

Tydens een van die sessies met hul huweliksraadgewer, Carroll Nader, was Susan erg ontwrig. Volgens Newcombe is sy amper in die hospitaal opgeneem, maar het sy geweier. Susan het gevoel sy sal net op die probleem bly fokus, en wanneer sy ontslaan sou word, sou niks verander het nie.

Kruisverhoor

Adv. Pete Mihalik (vir Rohde) vra Newcombe om te bevestig Susan het haar opgesoek nadat sy ’n praatjie oor depressie en selfdood gelewer het. 

Hy vra haar ook oor sommige van Susan se WhatsApp-boodskappe aan Rohde waarin sy onder meer geteks het: “Jy gaan sterf vandag.” Newcombe sê Susan was woedend.

Sy dui aan Susan het tekens van narcisme getoon, maar nie op die vlak van ’n steuring nie.

Kinders

Susan het gereeld met kommer en liefde van hul drie dogters gepraat. Die oudste dogter is 18 jaar oud en die tweeling 16.

Mihalik wil weet hoekom is daar nie enige inligting oor Susan wat haar kinders vir ontbyt of so iets sou neem nie, komende van iemand wat sê sy was baie betrokke by haar kinders.

Selfdood

Nader het aangedui Susan is 'n selfdoodrisiko. Rhode het in sy verklaring van twee geleenthede melding gemaak toe Susan, volgens hom, wel 'n selfdoodrisiko was en onmiddellik berading en hulp moes kry.

Hy het gesê die staat is in besit van die verslag, asook ander dokumentasie wat daarop dui dat sy vrou haar eie lewe geneem het.

Mihalik sê die verdediging het bewyse dat Susan geruime tyd treurig was. Die staat versoek stawende dokumentasie indien dit bestaan.

Valentynsdagkaartjie verklap die affair

Op versoek van haar kliniese sielkundige het sy haar persoonlike geskiedenis op ’n vorm neergepen wat deur Newcombe verskaf is.

Daarvolgens het Susandie 'n Valentynskaartjie gevind. Dit is in Rohde se tas weggesteek. 

“Ek het uitgevind my man, Jason, het ’n affair met Jolene (35), in Kaapstad." Die vonds van die Valentynsdagkaartjie het haar ook baie erg geraak, veral omdat dit in Junie 2015 begin het.

“Ek sukkel nou om dit te hanteer,” het sy gesê.

Die verhoor word Woensdag voorgesit.