Maar eerste in die getuiebank is ’n oudkollega, Brendan Miller, wat aan die hoof van Lew Geffen Sotheby's International Realty se kantoor in die Atlantiese kusgebied staan. In ’n verrassende kinkel het die hof Dinsdag gehoor Rohde se opdraggewende prokureur, Daniel Witz, sal ook getuig.

In hierdie stadium is dit nie seker wanneer Jolene Alterskye haar verskyning gaan maak nie.

11:35

Adv. Louis van Niekerk (vir die staat) neem Brendan Miller onder kruisverhoor na kort teetyd.

'Susan was kalm, sy het nie geskree nie," getuig Miller op Van Niekerk se vraag oor Susan se optrede toe sy die hotelkamer binnegekom het.

Van Niekerk sê sers. Apollis en sers. Adams onthou van die whiskey in Miller se huis. Volgens Van Niekerk het Apollis erken hy het whiskey gevra en dit was rondom 12:00. Adams het nie whiskey gedrink nie. Van Niekerk is klaar met die getuie.

Adv. Graham van der Spuy wil weet of Apollis 'n glas of 'n sopie whiskey gedrink het. "Hy het 'n tot (een eenheid) gedrink." Van der Spuy sê hy het geen verdere vrae vir Miller nie.

"Ek is nie in 'n posisie om enige verdere getuies vandag te roep nie en vra dat ons verdaag tot die volgende hofdatum wat Maandag (13 Augustus) sal wees," sê Van der Spuy.

Hy dui aan dat prof. Gert Saayman dalk sy volgende getuie sal wees. Dit sal oor die naweek bevestig word. Hy mag Daniel Witz tot getuie roep of nie. "Hy sal beskikbaar wees om te getuig," bevestig Van Der Spuy.

Die hof verdaag tot Maandag, 13 Augustus.

Prof. Gert Saayman

Prof. Saayman is 'n patoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Hy het in April 2013 sy "verbasing en teleurstelling" oor dr. Reggie Perumal, privaat-patoloog, se verslag or die dood van Veenand Singh (23) uitgespreek omdat dit volgens hom "dogmatiese stellings" bevat het wat die hof kon mislei.

Veenand is op 13 Julie 2008 by 'n nagklub in Sandton na bewering 'n noodlottige wond deur 'n swaardagtige voorwerp toegedien. Rajiv Narandas is van die moord aangekla.

10:35

Miller het getuig hy het versoek dat die polisie met hom vergader in sy huis in Fresnaye omdat hy nie verdere ontwrigting op kantoor wou hê nie.

Hy sê ’n sers. Apollis, ’n sers. Adams en ’n derde polisieman was teenwoordig. Van Sotheby’s was ook Samantha Bartlett en Simony dos Santos in die huis.

Toe iets te drinke aangebied word, het Apollis gevra vir ’n glas van Miller se Johnnie Walker Blue Label-whiskey.

Regter Gayaat Salie-Hlope wil weet hoekom Miller gesê het die situasie in die Spier-hotelkamer die aand van 23-24 Julie (waar Miller en Alterskye was) was gespanne. Miller sê dit het oor die affair tussen Rohde en Alterskye gegaan. Alterskye het gesê dis verby tussen haar en Rohde en dat hy en Susan besig is om versoen te raak.

09:25

Brendan Miller. Foto: YouTube-skermgreep (News24)

Adv. Graham van der Spuy (vir Rohde) het vir Miller gevra wat Susan daardie aand aangehad het toe sy die hotelkamer binnekom waar Jolene en nog ’n kollega, ene Farrah, ook teenwoordig was. Dit was ná middernag.

“Sy het ’n wit kamerjas aangehad.

Volgens Miller het Susan herhaaldelik Jason se naam gesê, maar nie aan hom geraak nie.

Agtergrond
  • Susan Rohde (45) se lyk is op 24 Julie 2016 in ’n badkamer op die Spier-wynlandgoed naby Stellenbosch gevind. Die miljoenêrspaartjie van Bryanston, Johannesburg, het daar tuisgegaan terwyl hulle ’n konferensie bygewoon het. 
  • Jason, Susan se man, was in daardie stadium die uitvoerende hoof van die eiendomsagentskap Geffen International Realty Franchises, ’n afdeling van Sotheby’s, in die Goudstad.
  • Susan is met die koord van ’n haartang om haar nek gevind. Die staat voer aan sy is met die kaal hande verwurg, terwyl Jason se span sê sy het haar eie lewe geneem.

https://twitter.com/JennaEtheridge/status/917680095229284358https://twitter.com/JennaEtheridge/status/917680095229284358