Adv. Louis van Niekerk, die staatsaanklaer, het voortgegaan om dr. Reggie Perumal, ’n privaat forensiese deskundige, onder kruisverhoor te neem oor sy bevindings oor die dood van Susan Rhode op 24 Julie 2016.

Haar man, die sakeman Jason Rohde, word van haar moord en regsverydeling aangekla.

Van Niekerk het ses sake genoem waar Perumal volgens sy curriculum vitae genader is om as deskundige te getuig, maar waar sy kundige mening nie deur die hof as relevant bevind is nie.

Adv. Graham van der Spuy (vir Rohde) het dadelik beswaar aangeteken en gesê die staat is besig om ’n vorm van karaktermoord te pleeg. Maar regter Gayaat Salie-Hlophe het Van Niekerk se versoek gesteun om meer te weet oor die rol wat Perumal in die bepaalde sake gespeel het.

'Onbeskof'

“Dit is onder my aandag gebring dat jy aggressief en onbeskof teenoor ’n lid van die hofpersoneel was. Ek vra jou om jou ooreenkomstig te gedra soos dit van ’n lid van die hof verwag word,” het regter Salie-Hlophe ná ’n kort pouse aan adv. Graham van der Spuy gesê en hom versoek om hofpersoneel met respek te hanteer.  

Van der Spuy het die stelling verwerp en gesê die hof aanvaar die stelling sonder om sy kant van die saak te hoor.

Die res van die dag se verrigtings is gekenmerk deur gereelde teenkanting deur Van der Spuy en die woord “onbillik” het gereeld opgeduik.

'Moontlik verwurg'

Perumal het getuig al die beserings aan Susan se lyf, behalwe dalk die kneusing aan haar gewrig, is waarskynlik deur ’n stomp voorwerp veroorsaak. Volgens hom sou dit ’n skaafmerk gewees het in die geval van kontak met ’n stomp voorwerp.

In ’n verrassende wending het Perumal getuig hy kan op geen manier in die hof sê verwurging met die hand kan bo alle redelike twyfel uitgesluit word nie. Volgens hom kan hy nie ’n bevinding maak ná net een nadoodse ondersoek nie.

Van Niekerk wou van Perumal weet hoekom hy nie in sy verslag genoem het verwurging is wel ’n moontlikheid nie. Hy het toegegee dit was belangrik genoeg om aan die ondersoekspan bekend te maak.

“Jou mening het ’n groot rol in Rohde se borgaansoek gespeel en ook dat die klagtes teen hom laat vaar moet word,” was Van Niekerk se woorde voor die hof vir middagete verdaag het.

Die saak sal Donderdag voortgaan.

Dr. Reggie Perumal se hoëprofiel-sake
Hier is 'n paar sake waarby dr. Reggie Perumal betrokke was.

  • Waseem Agha, wat in 2004 daarvan aangekla is dat hy sy swanger vrou, Aneesa, hul sewe maande oue baba, Zil, en skoonpa, Anand Sukan, laat vermoor het. Hy het na bewering sy gewese motorbestuurder, Bonginkosi David Ndlovu, gehuur om die drietal by hul huis in Durban te vermoor.
  • Veenand Singh (23) is op 13 Julie 2008 by ’n nagklub in Sandton na bewering ’n noodlottige wond deur 'n swaardagtige voorwerp toegedien. Rajiv Narandas is van die moord aangekla. In April 2013 het prof. Gert Saayman, ’n patoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sy “verbasing en teleurstelling” oor Perumal se verslag uitgespreek omdat dit volgens hom “dogmatiese stellings” bevat het wat die hof kon mislei.
  • Plaaslik en in die buiteland: Perumal was ook by die ondersoek rondom die dood van Zimbabwe se adjunk-president Solomon Mujuru (15 Augustus 2011) en die oudkrieketspeler Tertius Bosch (14 Februarie 2000) betrokke. Perumal is deur sy familie genader om die nadoodse ondersoek op hom uit te voer ten einde vas te stel of Tertius aan natuurlike oorsake of vergifting gesterf het.
  • Oscar Pistorius: Perumal was teenwoordig by die nadoodse ondersoek op Reeva Steenkamp wat op 14 Februarie 2013 deur die Olimpiese atleet doodgeskiet is. Brian Webber, ’n lid van Pistorius se regspan, het op 19 April 2014 heftig ontken dat die besluit om Perumal nie vir hul kliënt te laat getuig nie, beslis nie voortspruit uit bespiegeling dat van sy bevindings die staat se saak sal rugsteun nie.
  • Henri van Breda: Perumal (vir Van Breda) het getuig dit was moontlik dat Rudi van Breda ná die gewelddadige bylaanval nog kon beweeg.

Bronne:iol.co.za, pressreader.com, news24.com