Vir demonstrasiedoeleindes het konst. Florence ook Dinsdagoggend 'n soortgelyke japon in die hof aangetrek.
Regter Gayaat Salie-Hlophe het opgemerk die japon sou haar liggaam ontbloot het sonder die japon se gordel in plek. Rohde het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die gordel nie.
Adv. Louis van Niekerk wou ook van Rohde weet hoekom Susan van haar gewone skoonheidsroetine afgewyk het en nie haar ooggrimering verwyder het voor sy bed toe gegaan het nie. Hy het ook vir Rohde gevra hoekom van sy bloed op die bed gevind is.

Rohde het gesê die bloedspatsels was minimaal en hy kan nie onthou of hy in die slaapkamer gebloei het nie. Hy kan ook nie verduidelik hoekom Susan, wat volgens hom gestruikel het op pad terug van sy minnares, Jolene Alterskye, se kamer, nie die skaafmerke aan haar toon en wenkbrou behandel het voor sy bed toe gegaan het nie.

Van Niekerk het aangevoer dis onwaarskynlik dat Susan, wat 'n atleet was, sou gestruikel het. Hy het sy kruisverhoor afgesluit deur te sê die egpaar se struweling het deur die nag voortgeduur en Rohde wou net hê sy moet stilbly . . . en dat hy dit bewerkstellig het deur haar met ’n kussing te versmoor.  
Die saak is tot Woensdag uitgestel.