Een van die vyf huise in Montgomery County in die Amerikaanse deelstaat Texas wie se deurklokkies Vrydagoggend omstreeks drieuur gelui is, het ’n sekuriteitskamera bo die deur gehad wat die beeldmateriaal vasgelê het.

Behalwe dat dit lyk asof die vrou kaalvoet is, lyk dit in die video asof daar die een of ander soort boei aan een van haar gewrigte is.

Skermgrepe van die video is wyd deur die polisie versprei en inwoners is gevra om met inligting oor die vrou na vore te kom. In daardie stadium was niemand as vermis aangemeld wat met die beskrywing van die vrou ooreenstem nie.

Die spanning in die Sunrise Ranch-woonbuurt was tasbaar. Was dit ’n siek poets of iemand wat werklik in nood verkeer het?

Een van die inwoners wat anoniem wil bly, sê hulle was vas aan die slaap toe hul deurklokkie Vrydag om drieuur sowat 20 tot 30 keer lui. Maar toe haar man die deur oopmaak, was daar niemand.

“Die mens het soos mis voor die son verdwyn.”

Alesha Simmonds, een van die bure, het ook die video onder oë gekry.

“'n Mens kan sien sy het baie stil probeer beweeg en was beslis gespanne.”

Nog ’n buurman, Kelly Borman, het dit kort en kragtig opgesom: “Iets is verkeerd, niks goeds gebeur ná middernag nie.”

Woensdag is die polisie na ’n woonstelblok in Sunrise Ranch ontbied toe ’n man (49) dreig om homself dood te skiet. Maar toe hulle op die toneel kom, was dit te laat. ’n Enkele skoot het ’n einde aan die man se lewe gemaak. In hierdie stadium word vermoed hy het sy eie lewe geneem. 


Dit was dié oënskynlik onverwante voorval wat tot die opspoor van die "spookvrou’ gelei het nadat die polisie ’n brief gevind het wat deur die man geskryf is.

Die 32-jarige vrou was in ’n verhouding met die man. Die polisie het bevestig dit is sy wat die deurklokkies gelui het nadat sy verlede Vrydag in die vroeë oggendure uit die huis ontsnap het. Nie die man of vrou se naam is bekendgemaak nie omdat sy ’n slagoffer van huishoudelike geweld is.

Die vrou is intussen veilig by haar familie en sal deur die polisie ondervra word sodra sy gereed is daarvoor.

Nóg ’n vermiste vrou

Rachael Denison het die video van die "spookvrou" gesien en het geglo dit is haar suster, Caitlin (19), wat in Januarie vanjaar verdwyn het. Van die merke wat op die vrou se arms sigbaar was, het haar vermoedens versterk.



Caitlin het verdwyn toe sy van Reno in die deelstaat Nevada na Midland in Texas sou vlieg saam met ’n man wat sy pas ontmoet het. Al wat die familie van hom geweet het, was dat Caitlin aan haar suster gesê het: “Die ou laat my vir my lewe vrees.”

Maar vir Rachael en haar familie is dit nie 'n gelukkige einde nie. Die polisie het bevestig die vrou wat die woonbuurt op hol gehad het, is nie Caitlin nie.

Huishoudelike geweld: Hier's hulp

Bronne: dailymail.co.uk, abc7.com, click2houston.com, cnn.com