Die verskrikking het uit ’n dorre woestyn verrys en die lug bo die Horing van Afrika en Oos-Afrika donker gemaak. Dramatiese fotobeelde wys hoe kleinboere veg om hul karige bestaan teen die gulsige indringers te beskerm.

Maar vir elkeen wat jy doodmaak, is daar derduisende ander wat hul plek vat . . .

Terwyl die wêreld in vrees en ongeloof die Chinese coronavirusdrama dophou, saai ’n ander plaag verwoesting in Afrika: sprinkane.

Dis soos twee verskillende rillerflieks wat in die uithoeke van die wêreld afspeel.

Sprinkaanplae is natuurlik niks nuuts nie. Maar die woestynsprinkane wat nou soos lewende tornado’s deur lande soos Ethiopië, Somalië en Kenia woed en alle plantegroei in hul pad verorber, is die ergste ramp van dié aard in 25 jaar.

En wees verseker: Dis net so dodelik soos die coronavirus wat tans die nuus oorheers. Al verskil is dat die sprinkane se strooptog ’n stadiger dood kan veroorsaak – die aftakeling weens honger wat voedseltekorte meebring.

Die swerms kan tot 150 km per dag vlieg. En elke insek vreet daagliks sy eie gewig in kos. Dit klink dalk min, maar daar is ontelbaar baie sprinkane. Net een swerm kan drie keer so groot wees as Kaapstad – 1 200 km² –  met ’n digtheid van 150 miljoen sprinkane per km².

“Sulke swerms is soos veldbrande,” sê Keith Cressman, senior sprinkaanvoorspellingsbeampte by die Verenigde Nasies (VN) se Kos- en Landbouorganisasie.

“As jy dit blus wanneer dit net ’n klein vlammetjie is, is die gevaar verby. Doen jy dit nié, sal die brand aanhou groei tot daar niks meer is om dit te voed nie.”

 ’n Groep mans probeer ’n swerm sprinkane wegjaag
’n Groep mans probeer ’n swerm sprinkane wegjaag van hul weivelde op die dorpie Lemasulani in Kenia.

Kenners meen ’n burgeroorlog en vreemde weerpatrone het die toestande geskep waarin die sprinkaanswerms enorme afmetings bereik het. Die plaag is reeds ver buite beheer, en kenners waarsku ’n nuwe voedselkrisis sal nou waarskynlik ’n menslike tol in Afrika se armste lande eis.

Die broeikas vir die sprinkaanplaag was die woestyn in die suide van Saoedi-Arabië.

Twee siklone het verlede jaar buitengewone reënval in die streek veroorsaak – ideaal vir die aanwas van sprinkane. En omdat die woestyn so onherbergsaam is, het geen mens dit sien gebeur nie.

 ’n Motor ry deur ’n digte swerm sprinkane in Soma
’n Motor ry deur ’n digte swerm sprinkane in Somalië.

“Sonder enige menslike beheermaatreëls was die sprinkane se aanwas 8 000 keer soveel as gewoonlik – en dít binne nege maande,” sê Keith. In die lente van 2019 het die sprinkane in hul miljarde opgestyg.

“Een groep swerms het noordwaarts getrek deur Saoedi-Arabië en Iran. Nog ’n groep het toegesak op die vrugbare aarde van Jemen, waar hulle weens ’n burgeroorlog ongestoord kon vreet en vermeerder.

Daarna is die insekwolke oor die Rooisee na die Horing van Afrika, wat toe pas sy natste seisoen in menseheugenis beleef het.

“Hulle het ’n groen, grasryke Somalië aangetref waar hulle na hartelus kon vreet,” sê Chris Funk, klimaatkenner van die Universiteit van Kalifornië.

Foto: Reuters
Foto: Reuters

Wanneer hulle land, bedek die sprinkane als soos ’n lewende, krioelende tapyt. Wanneer hulle opstyg, doof hulle die lig van die son uit – en laat hulle net dorre veld agter. Teen einde 2019 het die swerms in Somalië sowat 700 km² se weiding en landerye kaal gevreet.

Kort voor ons saktyd het Somalië die plaag tot ’n nasionale ramp verklaar weens die groot bedreiging vir die land se immer brose voedselsekerheid.

In Ethiopië moes ’n vliegtuig van die nasionale lugredery onlangs ’n noodlanding uitvoer nadat ’n swerm sprinkane albei die enjins beskadig het.

En die swerms bedreig nou Ethiopië se vrugbare Skeurvallei – dié land se broodmandjie. Die VN het reeds gewaarsku 8 miljoen Ethiopiërs sal waarskynlik voedselhulp benodig nadat die swerms daar klaar is.

Dis nie blare nie – dis sprinkane! Swerms sprinkan
Dis nie blare nie – dis sprinkane! Swerms sprinkane sak neer op ’n Keniaanse dorpie en bedek elke stukkie ­groenigheid.

In Kenia veg die owerhede teen sprinkane oor ’n gebied van sowat 70 000 ha.

“Dit is ’n groot krisis,” sê Kipkoech Tale, trekplaagbeheerkenner by Kenia se landboudepartement. “Ons het al meer as 20 swerms met insekdoder bespuit, maar daar is nog op pad.”

Intussen het raadop mense in Kenia die sprinkane begin eet wat hul landerye en weiding verwoes. Die insekte smaak glo soos vis en is heerlik as dit met gekapte uie en kerriepoeier gebraai en saam met rys voorgesit word.

Maar smulpape sal nie die plaag kan beheer nie. Daar is eenvoudig te veel sprinkane . . .

Die enigste manier is om die swerms uit die lug te bespuit. Daarvoor benodig Kenia egter sowat R1,2 miljard aan ramphulp – maar tans is net R145 miljoen beskikbaar.

Foto: AP

En met nóg reën wat in Maart verwag word, kan die plaag 500 keer so groot word. Die meeste wetenskaplikes sê dis die mens se skuld: Ons onvolhoubare verbruikersgewoontes veroorsaak die klimaatskrisis, wat gunstige omstandighede skep vir die buitengewone sprinkaangetalle.

“Die verhitting van die Indiese Oseaan het die warm, droë toestande geskep wat Australië se wegholbrande gevoed het. En net so bring oseaanverhitting meer reën na Oos-Afrika,” sê Rachel Cleetus, beleidsdirekteur van die Vereniging van Besorgde Wetenskaplikes.

En dan uiter sy die woorde wat deesdae alte dikwels oor ramptoestande uitgespreek word: “Dit is die nuwe normaal . . .”

In syfers
  • Die grootste swerm wat al met hierdie plaag aangeteken is, was 60 km in deursnit.
  • Woestynsprinkane, die vernietigendste spesie, kom in 60 lande in Afrika, Asië en die Midde-Ooste voor. Naby Upington in die dorre Kalahari kom ’n subspesie voor, maar hulle swerm selde.
  • Een groot swerm vreet daagliks sowat 192 miljoen kg plantmateriaal. Dis genoeg om 35 000 mense te voed.
  • Tussen 2003 en 2005 het sprinkaanswerms skade van sowat R36 miljard in Afrika veroorsaak.
  • Elke “eierdop” wat ’n sprinkaanwyfie lê, kan tot 158 eiertjies bevat.
BRONNE: WIRED.COM. BBC.CO.UK, BUSINESSINSIDER.COM, BUZZFEED.COM
GALLO IMAGES/REUTERS, GALLO IMAGES/AFP, AP IMAGES
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.