Maar nou het die droomvakansie van ’n egpaar van Springs, aan die Oos-Rand, in ’n voortslepende nagmerrie ontaard. 

Mark en Adrienne de Beyer, die eienaars van ’n kleinsakeonderneming, is al byna drie maande in Bocas del Toro, ’n stad in Panama, gestrand weens die coronavirus-pandemie – en pogings om die egpaar terug te bring na Suid-Afrika, het keer op keer misluk.

’n Ontstoke dogter van die egpaar beskuldig nou die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) dat nie genoeg gedoen word om haar ouers – en ook ander Suid-Afrikaners in die buiteland – te repatrieer nie.

“Ons is siek van bekommernis – en die ergste is om nie te weet wanneer hierdie nagmerrie gaan eindig nie,” sê Cassandra Mouton, hul dogter. 

“Dit eis ’n enorme tol op ons om nie te weet of hulle werklik oukei is of wanneer hulle weer sal kan terugkeer huis toe nie.” 

Die egpaar het Suid-Afrika op 6 Maart verlaat. As deel van hul vakansie sou hulle glo Adrienne se suster besoek het wat hulle byna twee dekades laas gesien het.

Hulle was net in Panama toe daar sprake kom van ’n inperking, maar is glo verseker dat hulle sou kon terugkeer huis toe met die vlugkaartjies wat reeds bespreek was.

Maar enkele dae voor 27 Maart – die datum waarop hulle sou terugkeer – is Mark en Adrienne in kennis gestel dat hul vlugte gekanseller is weens die verbod op reis en die sluiting van grense.

“Hulle was natuurlik vreesbevange. Hulle het lank vir die vakansie gespaar en het geweldig daarna uitgesien. Maar hulle het hulself nie op bykomende uitgawes voorberei nie – en nie geweet hoe lank hulle aan daardie kant aan die lewe sou moet bly nie,” verduidelik sy.

De Beyer
Mark en Adrienne. Foto: Verskaf

Cassandra sê haar ouers is “baie gelukkig” dat hulle vir tyd en wyl in dieselfde gastehuiskompleks as Adrienne se suster kan tuisgaan. Maar albei moes los werkies opneem om onvoorsiene uitgawes te dek: Mark werk in die boubedryf en Adrienne help met tuinwerk.

“Hulle was reeds genoodsaak om hul spaargeld te gebruik. Maar dis nie genoeg nie. Die wisselkoers maak hulle dood. Selfs net iets soos ’n brood kos vier keer meer as wat dit hier in Suid-Afrika kos,” vertel sy.

Die egpaar moes al vier keer opdok vir nuwe vlugkaartjies om terug te keer na Suid-Afrika, maar dié vlugte is glo elke keer gekanselleer. En, beweer Cassandra, die egpaar het nog geen terugbetalings vir die gekanselleerde vlugte ontvang nie.

“Hulle is deel van ’n groep van omtrent 25 mense. Daar word beloftes gemaak, maar niks daarvan realiseer nie,” sê sy.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Mexico City, die naaste ambassade aan waar hulle gestrand is, het bevestig hulle het kontak met Dirco gehad en dat sowel Mark as Adrienne op die lys is van Suid-Afrikaners wat daar gestrand is. Maar sy hande is tyd en wyl afgekap, hou die ambassade glo vol, en die groep Suid-Afrikaners sal eers moet wag tot die land se lughawens weer open.

Dis die onsekerheid wat haar en haar drie sibbes na waansin dryf, sê Cassandra. 

“Ons probeer om hulle elke dag te bel. Die konneksie is gelukkig goed genoeg dat ons dikwels sommer video-oproepe kan maak. Maar dis vir ons almal geweldig erg – ons gesin is baie na aan mekaar en sien mekaar minstens een keer per week. En nou – met hulle gestrand aan daardie kant – weet ons nie wanneer ons weer om een tafel sal kan sit nie.” 

  • ’n Woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het nie Vrydag onmiddellik gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.