Vir Mark en Adrienne de Beer, die eienaars van ’n kleinsakeonderneming in Springs, is hulle terugkeer na Suid-Afrika die einde van ’n voortslepende nagmerrie. Die egpaar was vir meer as drie maande lank in Bocas del Toro – ’n stad in Panama – gestrand.

Die De Beers se ontstoke geliefdes het verlede maand die vinger na die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gewys ná verskeie mislukte pogings om Mark en Adrienne na Suid-Afrika te laat repatrieer. 

Maar vandag – een maand ná geliefdes se pleidooi om hulp – is dit vir die egpaar ’n “enorme seën” om weer by die huis te wees.

“Ek kan nie vir jou sê hoe dankbaar en verlig ons is nie. Dis soos ’n swaar las wat van ons skouers gelig word – ons hoef ons nie meer dag en nag oor ons ouers te bekommer nie,” sê Cassandra Mouton, die egpaar se dogter.

Mark en Adrienne het Suid-Afrika oorspronklik op 6 Maart vir ’n idilliese vakansie in die Karibiese See verlaat. Maar nadat die coronaviruspandemie ook verwoesting in dié distrik begin saai het, is alle vlugte met onmiddellik effek gestaak en alle grense gesluit.

Mark en Adrienne saam met die groep Suid-Afrikaners wat gerepatrieer is. Foto: Verskaf
De Beers
Mark en Adrienne de Beer net voor hulle repatriasie in Panama. Foto: Verskaf

Cassandra sê dit is eindelik ’n poging van die regering in Panama om haar ouers, tesame met nog minstens 23 ander Suid-Afrikaners, te repatrieer wat geslaag het.

“Die hele proses het byna agt dae lank geneem,” verduidelik sy.

“Die groep Suid-Afrikaners is eers na Panama geneem waar hulle tyd deurgebring het. Hulle is daarna na São Paulo – Brasilië se grootste stad – gevlieg waar hulle op die lughawe oornag het. Hulle is daarvandaan reguit na Suid-Afrika.” 

Cassandra sê die groep is na ’n hotel in Bedfordview geneem waar hulle minstens ’n week lank in kwarantyn geplaas is. “Die groep was eindelik nie twee weke lank in kwarantyn nie omdat hulle saam as ’n groep afgesonder het.” 

Die trane het vlak gelê toe hulle mekaar die eerste keer in soveel maande weer sien, sê sy. Maar van drukkies was daar geen sprake nie . . . 

De Beyer
Mark en Adrienne. Foto: Verskaf

“Dit was ’n groot verligting. En natuurlik was ons emosioneel – mens het vir so lank gesukkel om hulle terug by die huis te kry dat ons skoon oorweldig was toe ons mekaar weer vir die eerste keer sien,” sê sy.

“My ma het nog so ewe opgemerk dat selfs nie eens die winterkoue vir haar ’n probleem is nie. Sy was net so ongelooflik bly om weer tuis te wees – hier waar sy alles ken en waar haar vriende en familie is.”

Die egpaar is intussen terug na hulle huis in Springs waar hulle hulself steeds afsonder. Cassandra sê die res van die familie kon nog nie ’n draai gaan maak nie.

“Ons probeer maar so ver moontlik hou by die reëls oor die inperking hier – selfs al is dit hoe moeilik,” sê sy. “Maar ons almal sien uit na daardie eerste groot kuier waar ons vir die eerste keer in ’n baie lang tyd net weer almal saam sal wees.”