Die 36-jarige Sonnet-Mari is Woensdag in die plaaslike landdroshof tot twee jaar tronkstraf vir haar bedrieglike dade gevonnis.

’n Klerk van die hof het aan Huisgenoot bevestig Sonnet-Mari het verlede week skuld op al 11 aanklagte teen haar erken. Sy is daarna deur landdros Jaco du Plessis tronkstraf opgelê nadat haar pleit aanvaar is.

“Sjoe, daar is baie aanklagte hier,” het die klerk gesê toe sy na die klagstaat voor haar kyk. 

Sonnet-Mari is luidens die klagstaat op aanklagte van bedrog weens die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe skuldig bevind.

Sy het haarself maande lank aan die Oos-Rand as ’n dokter voorgedoen, al is sy nie as dokter gekwalifiseer óf by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (SARGB) geregistreer nie.

Huisgenoot het in November verlede jaar berig hoe Sonnet nie net haar pasiënte ’n rat voor die oë gedraai het nie, ook die man met wie sy ten tyde van haar bedrog in ’n verhouding was.

Sonnet-Mari Brand toe sy uitgevang is. Foto: HPCSA
Sonnet-Mari Brand toe sy uitgevang is. Foto: HPCSA/Verskaf

Sonnet, soos almal haar leer ken het, het aan die begin van verlede jaar kort voor die inperking weens covid-19 sak en pak van die Kaap na Springs getrek nadat sy hom op Facebook ontmoet het.

Hy het destyds vertel hoe sy haarself as ’n neuroloog van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad voorgestel het en alles agtergelaat om by hom te wees. Hy was die een wat haar sou ondersteun toe sy glo weer as dokter wou praktiseer, en het haar gehelp om twee praktyke op die been te kry.

Hy het haar selfs rondgery het met haar huisbesoeke.

Sonnet het in die tydperk ’n ware pulmonoloog, oftewel longspesialis, van Johannesburg se identiteit en praktyknommer gebruik om haar pasiënte te bedrieg. Sy het selfs hoë skedule voorskrifte voorgeskryf.  

Iewers het iemand egter snuf in die neus gekry en haar by die SARGB aangegee om haar te laat ondersoek.

Toe polisielede van die Springs-polisiekantoor  en misdaadintelligensie haar in Oktober verlede jaar saam met lede van die SARGB in ’n lokval gelei het, is sy ontbloot vir wie sy werklik is: ’n fopdokter met geen mediese kwalifikasies van enige aard nie.

Sonnet verlede jaar buite die landdroshof in Sprin
Sonnet verlede jaar buite die landdroshof in Springs. Foto: Gallo/Onkgopotsi Moloti

Die man, wat die aand nog buite in die motor vir haar gesit en wag het, het destyds aan Huisgenoot vertel hy het geen idee gehad wat besig was om te gebeur toe die polisie toeslaan nie.

Sonnet en haar ekskêrel voor die bom verlede jaar
Sonnet en haar ekskêrel voor die bom verlede jaar Oktober gebars het.

Toe Huisgenoot hom Maandag kontak om hom te laat weet sy nou eksmeisie is gevonnis, is hy weer onkant betrap.

“Rêrig? Wanneer het dit gebeur?”

Hy vertel sedertdien het hy die stukke probeer optel en net probeer aangaan met sy lewe.

Sy ma, by wie Sonnet gewoon het toe sy almal belieg het, het wel intussen van die verwikkeling verneem.

“Ek het gehoor sy het skuld beken! Hoeveel jaar het sy toe gekry?” het sy per WhatsApp gevra.

Toe Huisgenoot se joernalis haar sê, was sy oombliklik briesend.

“Ag, asseblief! Hulle kon haar in daardie geval maar net sowel laat aangaan het as ’n dokter. Sy het mense se lewens, veral my seun s’n, verpletter!”

Sy vertel sy probeer om nie te veel met haar seun (nou 38) daaroor te praat nie.

“Ek dink nie ons weet wat regtig in sy gemoed aangaan nie. As ons van haar praat, raak hy buite homself. Ek dink dit was ’n groot trauma vir hom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe