Hardus Prinsloo
Hardus Prinsloo sê sy lewe het in duie gestort in die meer as ’n jaar sedert hy in die middel van ’n transitorooftog beland het. Foto: Verskaf

Weer en weer vra hy homself: Sou die lewe dalk anders uitgedraai het as hy op daardie angswekkende dag ’n ander roete huis toe gery het? Kon hy dalk die koeëlvuur van ’n transitorooftog vrygespring het as hy net ’n paar minute later van sy kantoor vertrek het?

Al dink hy ook hoe gereeld aan hoe anders daardie Desemberdag in 2019 kon afspeel, bly een ding staan: Hy kan niks aan die gebeure van daardie dag verander nie, al wil hy ook hoe graag.

Sy lewe het in duie gestort in die byna een en ’n half jaar sedert hy onwetend in die middel van ’n transitorooftog beland en byna noodlottig gewond is, sê Hardus Prinsloo van Springs.

Hardus Prinsloo
Hardus sterk aan in die hospitaal ná die voorval in Desember 2019. Foto: Verskaf

Ja, daar was die fisieke uitdagings soos die sowat 16 operasies wat hy moes ondergaan. Maar byna erger nog is die verreikende impak van daardie dag: In die tyd sedertdien is Hardus sy inkomste kwyt, hy ly aan kwaai posttraumatiese stres en boonop is daar min of geen hoop dat sy liggaam eendag volkome sal herstel nie.

“Ek het alles verloor,” sê Hardus Woensdag aan Huisgenoot.

Hy was op 13 Desember 2019 – 17 maande gelede – op pad na sy huis in Petersfield, Springs, toe hy in die middel van die transitorooftog beland het, onthou Hardus. 

Hardus Prinsloo
Hardus in die hospitaal saam met sy verloofde, Nicolene Scheepers. Foto: Verskaf

“Ek het by ’n rooi verkeerslig in West Road in Springs stilgehou. Ek het pas gedraai toe ek skote hoor klap – en toe sien ek dit: ’n transitorooftog wat voor my afspeel.” 

Die rowers het op Hardus se voertuig losgebrand. “Die eerste skoot het my in die regterarm getref. Ek onthou die brandpyn en die baie bloed, maar ook die oordonderende geklap van skote – hulle het eenvoudig nie ophou skiet nie,” vertel hy.

Hardus is nog twee keer getref: een keer in sy bors en in sy linkervoet. 

“Ek moes binne milisekondes dink aan ’n plan om myself te probeer red. Daarom het ek, terwyl die motor nog beweeg het, na die passasiersitplek oorgeklim en toe by die ruit van die bewegende motor uitgespring.” 

Hardus Prinsloo
Die wond aan Hardus se regterarm. Foto: Verskaf

Nóg skote is op hom en sy voertuig afgevuur.

“Ek het probeer regop staan, maar het inmekaargesak oor die geweldige skietpyn in my voet. Die oomblik toe ek neerval, toe trek nog ’n koeël oor my kop. Dit sou my in die rug getref het,” sê hy.

Hardus het verwag om te sterf. “Ek het bebloed en in pyn langs die geel lyn in die pad gaan lê en verwag dat hulle enige oomblike die doodskoot sou afvuur. Maar toe, skielik, hoor ek hoe bande skree en hoe die rowers wegjaag.” 

Hardus Prinsloo
Een van die skote het Hardus in sy bors getref. Hier wys hy die letsel meer as ’n jaar later. Foto: Verskaf

Hy is na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton geneem. Dokters het gemeen dis ’n wonderwerk dat hy oorleef het, onthou Hardus. Maar toe kon niemand nog voorspel hoe sy lewe vorentoe in duie sou stort nie.

“Ek moes in die weke en maande sedert daardie voorval minstens 16 operasies ondergaan. Die grootste daarvan was aan my bors en ’n groot klomp was om die skade aan my regterarm te probeer herstel. Die koeël is uit my linkervoet gehaal, maar nog een sit in my linkerskouer vas.” 

Hardus sê die voorval het hom genoop om vandag nog anti-depressante te gebruik. Hy sien ook steeds ’n sielkundige om die trauma van die voorval te probeer verwerk en moet weekliks fisioterapie ontvang.

Hardus Prinsloo
Dié foto wys ’n koeël wat steeds agter sy linkerskouer vasgevang is en nie deur dokters verwyder kan word nie. Foto: Verskaf

“Ek kan steeds nie my regterarm en vingers ten volle gebruik nie. Dokters het dit probeer regstel deur senuwees vanuit my been in my arm oor te plant, maar die skade is te omvattend.”

Tog is sy fisieke gesondheid nie sy grootste kommer nie.

“Ek kon weens die aard van my beserings nie langer as veiligheidsbeampte werk nie. Ek het ander werk gekry, maar is dit intussen kwyt. Die bank het my voertuig kom haal, ons is maande agterstallig met ons huur en ons moes selfs ons mediese fonds kanselleer.” 

Sy verloofde, Nicolene Scheepers (29), probeer die pot aan die kook hou, maar haar inkomste dek nie hul uitgawes nie. Dis daarom dat sy en Hardus hul vierjarige dogtertjie vir eers uit die kleuterskool moes haal.

Hardus Prinsloo
Die letsel aan Hardus se regterarm. Foto: Verskaf

“Ek probeer so hard om weer vir my familie te sorg,” sê Hardus bewoë. “Ek word genooi vir onderhoude, maar daarna hoor ek niks. Intussen stapel die rekeninge op – binnekort sit ons dalk sonder ’n dak oor ons kop. Ek wens ek kon uit die gat klim en na my gesin omsien.” 

Dis waarom hy so sukkel om van dié voorval met sy lewe voort te gaan, sê Hardus. 

“Ek het alles verloor: my gesondheid, my beweeglikheid, my inkomste en my trots. En dit alles omdat ek eenvoudig op die verkeerde tyd en plek was. Nou kan ek net bid dat daar vir ons genade sal wees, want daarsonder weet ek nie hoe ons in die komende maande gaan oorleef nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe