“Maar hulle soek al sy hele lewe lank na hom,” vertel sy. 

Willem Coetzee, ’n toesighouer by ’n sekerheidsfirma, het sedert geboorte nooit sy pa, Willem Jacobus Britz, se familie ontmoet nie. Hy het hom onlangs tot die Facebookgroep Waar in die Wêreld gewend om hulle op te spoor.

Hy het aan Huisgenoot vertel sy ma, Maria Magrieta Cornelia Coetzee, het glo sy pa 38 jaar gelede in Parys in die Vrystaat doodgemaak terwyl sy met Willem swanger was.

ma
Willem se ma, Maria Magrieta Cornelia Coetzee, se begrafnisbrief. Foto: Verskaf

“Ek wil net weet of hy regtig bestaan het,” het Willem, wat saam met Juanita in Springs bly, vroeër aan Huisgenoot gesê. “Ek het al by die polisie op Parys probeer uitvind, maar daar is glo geen rekord oor die voorval nie.  

“Al wat ek uit my ma kon kry tot haar dood vier jaar gelede was dat hy op haar swanger maag gespring en sy hom toe met ’n mes doodgesteek het." 

Nadat Willem in Mei met Huisgenoot oor sy verlange na sy pa se familie gesels het, het Juanita die Huisgenoot-artikel op Facebookgroepe gedeel. “Ek het geweet sy familie sou nog iewers op Parys wees, so ek het dit op Facebookgroepe daar geplaas,” verduidelik sy. 

Mense het Juanita gebel en gehelp met kontakbesonderhede van mense wat Willem se pa se familie daar ken. 

“Sy pa was een van 13 kinders. Vier lewe nog en ons het ’n man se kontakbesonderhede gekry wie se suster getroud is met Willem se pa se broer,” sê Juanita. 

Woensdag het Willem die eerste keer kontak gemaak met sy pa se familie wat deesdae op "Parys en ook wyd verspreid" woon.

“Hulle is ’n groot familie. Ons het al sedertdien met nog niggies en tannies van hom kontak gemaak,” voeg Juanita by.

springs
Willem en sy vrou, Juanita. Foto: Verskaf

Hulle beplan om mekaar binnekort op ’n groot familiedag te ontmoet, sê sy. “Toe een familielid hom oor die foon meedeel dat hulle hom al sy hele lewe lank soek, het hy in trane uitgebars."

“Ek het verander van iemand wat nie geweet het waar ek inpas of wie ek is nie en gedink het niemand wou my hê nie tot iemand wat oornag ’n uitgebreide familie bygekry het,” sê Willem. 

“Ek het my eie mense, en hulle het na my ook gesoek, hulle wou my hê en hulle het my met liefde en ope arms ontvang,” vertel hy aan Huisgenoot. Hy sê hulle het nie geweet wat sy van is of sy presiese geboortedatum nie.

“Hulle het dus ook gesukkel om my te soek,” sê hy. 

“Donderdag was die beste dag van my lewe. Ek het met ooms en tannies en niggies gesels op WhatsApp. Hulle is ’n nou familie en ek is nou deel daarvan. Dis hoe my pa dit sou wou hê,” sê Willem.