Só het ’n familievriendin ná aan die oudste dogter (nou 20) aan Huisgenoot gesê nadat die vonnisverrigtinge van die man (nou 40) en sy vrou (ook 40) Maandag in die Pretoriase hooggeregshof na Woensdag uitgestel is.

Regter Eben Jordaan het die slotbetoë aangehoor en sal sy beslissing oor hul lot Woensdag maak.

“Ons almal wil sien dat reg en geregtigheid geskied. Ons wil nie sien dat een van die twee skotvry hiervan afkom nie. Die kinders wil net aangaan met hul lewens nou,” het die familievriendin gesê.

Advokaat Jennifer Cronjé, vir die staat, het luidens mediaberigte aangevoer lewenslange tronkstraf van 25 jaar sal nie lank genoeg vir die man wees nie. Sy het ook aangevoer die vrou moet ook nie met ’n té ligte vonnis oorsien word net omdat sy ’n “mishandelde vrou” was nie.

Benewens albei se mistroostige agtergrond het die sielkundige Bronwynn Stollarz ter verswaring getuig die pa is ’n “sadistiese psigopaat”.

Die oudste seuntjie het in ’n verklaring gesê hy wil sy ouers nooit weer sien nie en hulle moet “lank” tronk toe gaan en dit hulle skuld is dat hy en sy sibbe vandag of in weeshuise of pleegsorg is. Volgens die familievriendin is die oudste broer en suster in pleegsorg en die drie jongste kinders in die kindershuis.

Die egpaar is in Augustus deur regter Eben Jordaan reeds aan verskeie ernstige aanklagte skuldig bevind, het Huisgenoot vroeër berig.

Die klagte teen die man het poging tot moord op sy oudste seun (toe 11), die verkragting van sy oudste dogter (toe 16) asook kindermishandeling en kinderverwaarlosing van hul vyf minderjarige kinders ingesluit. Hy is ook van  dwelmbesit en regsverydeling skuldig bevind.

Die vrou is eindelik slegs aan kinderverwaarlosing en regsverydeling skuldig bevind.

Die egpaar se name word sedert hulle in Mei 2014 weens die misdrywe aangekeer is weerhou om die identiteit van hul kinders te beskerm. Dit was in dié sogenaamde Huis van Gruwels aan die Oos-Rand waar die pa sy vrou en kinders as ’t ware as gevangenes aangehou het.

Die polisie is ontbied nadat die oudste seuntjie daarin geslaag het om te ontsnap en die bure se hulp te ontbied.

Ekstra bronne:
The Star, Netwerk24