Haar lang hare blink in die lenteson en is netjies teruggebind. Aan haar wange is ’n gesonde blos, haar blou oë glinster en sy glimlag warm. Met die eerste oog­opslag sou ’n mens maklik kon dink Landi Lategan* is net nog ’n 21-jarige vrou wat die toekoms hoopvol tegemoetgaan.

Tog dra sy die letsels – fisiek en emo­sioneel – van jare lange mishandeling in die sogenaamde huis van gruwels aan die hand van haar eie pa.

Hy het as die Springs-monster bekend geword toe sy en haar vier jonger sibbes in Mei 2014 uit sy kloue gered is en die marteling en verwaarlosing wat hulle daar verduur het die land met afgryse vervul het.

“Hy’s veel erger as ’n monster,” sê Landi in ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot waarin sy self oor die gruweldade praat waarvoor haar pa nou ’n vonnis van 67 jaar tronkstraf uitdien.

‘Hy het beloof hy sal jou kry as jy probeer vlug,
‘Hy het beloof hy sal jou kry as jy probeer vlug, en dán sal jy jammer wees. Hy het ons oortuig daar is monsters buite.’ Foto: Lubabalo Lesolle

Al is dit vir haar moeilik om die pynlike herinnerings op te roep, het sy besluit om haar verhaal te vertel, ook in ’n boek wat pas verskyn het, Huis van gruwels – My 16 jaar in die Springs-hel, soos vertel aan Susan Cilliers, ’n voormalige Huis­genoot-joernalis.

Want Landi se verhaal is ook een van hoop; oor genesing ná die seer, oor hande wat liefdevol na haar uitreik ná dié wat haar so wreed mishandel het –  oor woede wat vir vergifnis plek gemaak het. 

“Ek moes leer ek kan nie vir die res van my lewe kwaad wees nie. Ek moes met my lewe aangaan om heel te word. Maar joeg . . . vergifnis kom moeilik,” erken sy.

Soms kry sy nog nagmerries oor daardie swaarkryjare.

“Daar was ’n stadium toe die nagmerries my aand ná aand geteister het. Maar nou duik dit net af en toe op.”

Want vandag, vyf jaar nadat sy en haar sibbes uit die huis van gruwels bevry is, is sy oplaas heel, sê Landi. Sy het nie ná haar beproewing sielkundige hulp ontvang nie, maar die liefdevolle ouerpaar wat haar aangeneem het, het ’n groot bydrae tot haar eindelike genesing ge­­lewer, vertel sy.

“Hulle het ’n stukkende mens in­geneem, vir haar liefde gegee en haar help heel word. Hulle het my altyd vertroos of my net verseker hulle is daar; dat ek geen rede meer het om bang te wees nie.”

Maar die grootste genesing het sy in haar geloof gevind, vertel sy.

“In daardie huis het ek altyd geweet van God. Maar my ouers het nooit met my oor Hom gepraat nie. My aanneemouers het my eerste aan God se hart bekendgestel. Hy het vir my mense gegee wat vir my omgee en vir my lief is. Hy het my weer ’n lewe met ’n doel gegee.”

Ook die werk aan haar boek was vir haar terapeuties. Met haar verhaal wil sy ander inspireer.

“Ek hoop iemand wat seer, kwaad of gebroke is, lees die boek en besef: Jy kan opstaan; jy kan aangaan, ongeag wat jou omstandighede is.”

Haar ouers het saam in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Pretoria gestaan toe regter Eben Jordaan in Augustus verlede jaar haar pa (nou 40) aan verkragting, poging tot moord, kindermishandeling en dwelmbesit skuldig bevind het.

Sy eksvrou (40), wat volgens ’n paneel kenners aan mishandelde-­vrou-sindroom ly, is skuldig bevind aan kinderverwaarlosing en regsverydeling en het ’n opgeskorte vonnis gekry. Hul name mag nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul minder­jarige kinders te beskerm.

“My ma was nooit ’n ma nie. Sy het haar nooit oor ons ontferm nie. Sy het nie ’n enkele hou probeer afweer nie,” vertel Landi, wat as ousus die jonger kinders teen hul gewelddadige pa probeer beskerm het.

“As daar ’n ma in die huis was, was dit ek.”

Al vyf kinders is gedwing om op een vuil matras te
Al vyf kinders is gedwing om op een vuil matras te slaap, al het die huis agt slaapkamers gehad. Foto: Lizmarie Richardson/Verskaf

Sy is self op die ergste maniere denkbaar mishandel; ook seksueel.

Haar pa het haar onder meer verkrag, elektriese skokgolwe deur haar brose liggaam gestuur, haar gewurg tot sy haar bewussyn verloor het; haar vir tot drie dae in ’n donker hangkas sonder kos of water toegesluit en haar met ’n rottang bygedam.

“Kyk,” wys sy na ’n letsel aan haar regter­boarm.

“Dis toe die rottang my vleis oopgekloof het,” vertel sy waar sy in die skadu van ’n doringboom sit.

Maar ek het dit altyd verwag – daardie hou wat my lewe sou beëindig.

Ons gesels op ’n geheime bestemming met Landi, wat deesdae ’n geestelike oorbruggings­program in Gauteng volg.

“Ek het nooit geweet wanneer hy een hou te veel gaan gee nie. Maar ek het dit altyd verwag – daardie hou wat my lewe sou beëindig. Elke keer wanneer die houe val en die bloed uit nog ’n wond stroom, het ek gebid: ‘Here, help.’

“Maar al was die pyn onuithoudbaar, het ek geweet: Ek kon nie doodgaan en die kinders agterlaat nie. Ek was hul ma, of ten minste die enigste ma-figuur wat hulle geken het.

“Dis vir hulle dat ek moes bly leef.”

Sy hoor gereeld die vraag: Hoekom het jy nie gevlug nie?

“Ons was gebreek, fisiek, ja, maar ook geestelik,” sê sy.

“Geen mens sal dit verstaan as jy nie self in die huis was nie. Ons ‘normaal’ was dit wat binne die huis gebeur het, ’n pa vir wie dit lekker was om sy kinders wreed te mishandel.

“Hy het beloof hy sal jou kry as jy probeer vlug, en dán sal jy jammer wees. Hy het ons oortuig daar is monsters buite. En ons het hom geglo. Dit terwyl ons heeltyd onder die monster se dak was.”

Dié jong vrou sê haar pa was erger as ’n monster;
Dié jong vrou sê haar pa was erger as ’n monster; tog het sy die pynlike pad gestap om hom te vergewe. Foto: Lubabalo Lesolle

Selfs wanneer hy bedags by sy werk as gebruiktemotorhandelaar was, kon hy hulle met ’n arendsoog dophou. Alte­saam 37 kringtelevisiekameras was met ’n skerm in sy kantoor verbind.

“Ek het êrens gehoor iemand verwys daarna as Big Brother. En dis presies hoe dit was. Hy het ons heeldag dopgehou. Elke beweging; elke ding wat jy doen.”

Sy het van jongs af met die vrees en wreedheid saamgeleef.

“Ek weet ek is nog altyd mishandel. Maar ek sukkel met vroeë herinnerings. My geheue vat my telkens terug na waar die jonger kinders reeds gebore is.”

Sy was nog klein toe haar broer, die naas­oudste, gebore is.

“Die mishandeling het wreder geword en gereelder gebeur,” onthou sy van dié tyd. “Dit was asof my broer se geboorte ’n donker wreedheid in hom (haar pa) wakker gemaak het.”

Sy was nog jonk toe die gesin uit Springs na Tzaneen in Limpopo verhuis het. Nadat Landi hier te midde van die moeilike huislike omstandighede ’n laer­skooljaar gedruip het, is sy nooit weer terug skool toe nie, ook toe die gesin later  terug is Springs toe.

Sy sou haar dae agter slot en grendel moes deurbring, het haar pa gesê. Anders merk iemand dalk haar kneusmerke op.

Bedags moes Landi en haar broer die agtslaapkamer-siersteenhuis alleen skoonmaak.

“Eintlik het ons dit maar net aan die kant probeer maak; altyd net die oppervlak. Want die huis was smerig en vuil. Daar was ’n plaag rotte. Alles was deurweek van rook omdat hulle (die ouers) gedurig gerook het. Die reuk maak my vandag nog naar.”

Die huis was smerig en vuil, en rotte het binne di
Die huis was smerig en vuil, en rotte het binne die huis en op die erf rondgeskarrel. Foto: Lizmarie Richardson/Verskaf

Haar ma het elke oggend om seweuur saam met haar pa werk toe gegaan.

“Hy het haar nooit alleen met ons vertrou nie. Ek weet nie of sy werklik wou vlug of hulp kry nie. Sy het soveel kere toegekyk hoe ons vermink word.”

Landi en haar broer was in daardie moeilike tyd glad nie na aan mekaar nie.

“Ons het albei geveg vir oorlewing en nooit regtig oor die mishandeling gepraat nie. Ons het wel ’n game plan gehad: As my pa hom gryp, êrens heen sleep en begin martel, het ek na daardie vertrek gegaan en sy aandag afgetrek. Dan het ek van die houe vir hom gevat.

“Maar dit het nie gewerk nie. Soms het hy so kwaad geword – vir iets onbenulligs soos ’n los papiertjie op die grond of net omdat jy rondstaan – dat jy sweer hy gaan jou doodslaan.

“Ons het toe ooreengekom om die game plan te laat vaar. Ek wou seker maak ek kan so lank moontlik vir die ander kinders daar wees.”

Soms het die houe geval juis omdat sy een van die jonger kinders wou beskerm. En elke keer het haar ma gevlug.

“Ek dink sy was die grootsus en ek die ma,” sê Landi.

Soms, onthou sy, het haar pa haar ma geslaan en haar vir ure aan die bed vasgeboei. Dan het Landi skelm vir haar ma water geneem.

“Maar net omdat ek vir haar jammer gevoel het. Nie omdat sy dieselfde empatie met ons getoon het nie,” sê sy skor.

Die onstsnapping

Die keerpunt het op ’n winterdag in 2014 gekom. Haar pa was geïrriteerd. Hy wou vir hom ’n wegneemete gaan koop, maar kon nie sy motorsleutels opspoor nie.

“Hy het humeurig geraak en weer my broer geteiken. Maar iets op dié dag was anders. My broer het uit die huis gehardloop en gaan wegkruip. My pa het my beveel om hom te gaan soek.

“Ek het hom by die grensmuur aan­getref. Hy wou nie terugkom nie. Hy’t gesê my pa gaan hom doodslaan. Ek het hom gesmeek, maar toe ek omdraai, spring hy.

“Ek kon hom vasgryp. Hy het net ’n hemp aangehad. In die stoeiery het sy maag stukkend geskaaf. Ek was so bang – bang vir hoeveel houe ek sou moes verduur. Maar dis asof iets vir my gesê het: ‘Los hom.’ En ek het.”

Die seun is na die bure toe. Maar sy pa het hom daar gaan haal en hom terug­gebring huis toe.

“My pa het hom op sy rug op die grond laat lê. Hy het sy hande met sy knieë vasgepen. En toe val die vuishoue, en die bloed spat. Toe sê hy: ‘Julle is volgende.’ ”

Maar die volgende oggend was die welsyn en die polisie by hul voordeur. Die kinders is weggeneem, behalwe die seun. Die polisie het hom ’n week later – potblou en stukkend – op Warden in die Vrystaat gekry waar die pa hom by ’n familielid gaan wegsteek het.

Nadat die kinders uit die huis gered is, was Landi eers in ’n kinderhuis, maar sy is toe aangeneem. Die ander kinders se omstandighede mag nie bekendgemaak word nie omdat hulle minderjarig is.

“Ek onthou toe ek my aanneempa die eerste keer ontmoet het. Hoe bang ek was. Een aand het ek, hy en my ma televisie gekyk. Ek was so ontroer deur die fliek, ek het begin snik. My pa het my in sy arms geneem, op sy skoot laat sit en getroos. Ek kon net huil.

“Dit was die heel eerste keer dat ek veilig in die arms van ’n man gevoel het.”

Ook vir haar aanneemma is sy ont­settend lief, sê Landi.

“Eens in my lewe het ek ’n ma gehad wat nie werklik ’n ma was nie. Ons het verby mekaar geleef; die een het nie geweet of die ander een sou leef nie.

“Maar my aanneemma het my gewys wat liefde is. Soms sal ons net staan en kos maak en gesels, dan besef ek hoe gelukkig ek is omdat ek nooit gedink het ek sou ooit so ’n verhouding hê met iemand wat my belange en veiligheid en liefde bo alles stel nie.”

Terug skool toe

Haar aanneemouers het haar aan­gemoedig om haar skoolloopbaan te hervat.

“Dit was vir my wonderlik om skool toe te gaan ná al die jare. Die onderwysers het heelwat ekstra moeite ingesit omdat ek baie agter was en soveel moes inhaal.”

Maar dit was nie vir my moeilik om aan te pas nie; dit het vir my gevoel ek hoort daar. En dit is vir my belangrik om iets met my lewe te doen,” sê Landi. Sy wil vorentoe graag somatologie, die studie van die menslike liggaam en sy funksionering, op universiteit gaan studeer.

Sy behou kontak met haar ander ­sibbes.

“Ons sien mekaar dikwels, en dit gaan goed met hulle. Daar is ook mense wat vir hulle lief is, hul belange eerste stel en vir hulle omgee. En dit maak my hart ontsettend bly.”

Ons het albei baie seergekry omdat ons die grootste teikens van my pa se mishandeling was.

Ook sy en haar broer is nou “ongelooflik na aan mekaar” nadat hulle vroeër “ ’n goor verhouding” gehad het.

“Ons het albei baie seergekry omdat ons die grootste teikens van my pa se mishandeling was,” verduidelik sy.

“Ek onthou hoe kwaad ek was omdat hy (haar broer) na die bure gevlug het. Ek was bang dat ons weer in daardie huis gaan eindig. My pa het mos gesê hy sal ons kry. Eers in die afgelope jaar het ek op ’n dag vir hom verskoning gevra omdat ek hom verkwalik het.”

Sy praat ook af en toe met haar biologiese ma. Toe haar pa verlede Oktober gevonnis is en haar ma ’n opgeskorte vonnis gekry het, was Landi woedend.

“Ek wou hê hulle moes saam met daardie donker trap afstap. Ek wou hê hulle albei moes sit. Maar ek moes leer vergeef; ek moes leer aanvaar.”

En het sy vergewe?

“My ma? Nee. Ek weet nie wanneer ek daartoe in staat gaan wees nie. Sy het my soveel jare geestelik en emosioneel verwerp. Ek het haar nooit as ’n ma beskou nie.”

En haar pa, die Springs-monster?

“Ek kan dit vir jou oor en oor sê: Ek het hom vergeef. Ek weet nie hoekom dit vir my makliker was nie. Dalk omdat hy boet en sy nie. Ek wil hom in die tronk gaan sien. Ek verwag nie ’n jammer nie; ek verwag niks van hom nie. Ek wil vir hom sê: Dis oukei; ek vergewe jou. Maar dit beteken nie ek het hom lief nie.

“Ek weet nie of ek vir ’n verhouding met enige van hulle kans sien nie,” sê Landi oor haar biologiese ouers.

“Om te vergeef is een ding. Dis moeilik. Dis seer. Maar dit sou my nie pla om nie ’n verhouding te hê nie.”

Sy gaan nie daaroor tob nie, sê sy, ook nie oor die verlede nie. Want op 21 is sy reg om te leef – om elke verlore dag in te haal.

“Mense vra my dikwels of ek sal trou. Dalk sou ek jare gelede nee gesê het omdat ek toe nie meer kon vertrou nie. Nou is my antwoord ja: Ek wil trou; ek wil kinders hê; ek wil ’n kind aanneem; ek wil die wêreld vol reis; ek wil my eie onderneming open.

“Ek wil net gelukkig wees – en vergeet van die dinge wat al jare lank soos ’n swaard oor my kop hang.”

* Skuilnaam.
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • Huis van gruwels – My 16 jaar in die Springs-hel, soos vertel aan Susan Cilliers (Lapa, R229 by Takealot.com).
  • Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.