Pramodini Roul (28), oftewel Rani soos almal haar ken, was nog net 'n tiener van 17 jaar toe sy die soldaat se huweliksaanbod van die hand wys.

Maar daardie besluit 12 jaar gelede sou haar hele lewe verander.

Uit wraak het die parlementêre soldaat, Santosh Kumar Bedant (toe 28), suur in haar gesig gegooi.

Die aanval het haar met onooglike letsels en verswakte sig gelaat.

Die dappere jong Rani het egter nie gaan lê nie. Om die waarheid te sê, haar moedige pogings het daartoe gelei dat haar paaie in 2014 met die liefde van haar lewe sou kruis . . .

Toe sy onlangs in haar tuisstad Jagatsinghpur in Indië afhaak, was mede-oorlewendes van suuraanvalle onder die meer as 1 000 gaste wat die gelukkige geleentheid meegemaak het.

“Ek voel so geseënd om met Saroj getroud te wees. Dis ’n wonderlike gevoel,” sê Rani. “Ons het so baie gaste gehad om ons spesiale dag saam met ons te vier.”

'n Spesiale ontmoeting

Rani se ouers het nie destyds 'n troue met die soldaat goedgekeur nie. Sy was te jonk en hulle wou hê sy moes haar studies voortsit. 

“Ek het daarvan gedroom om onafhanklik te wees en my familie te ondersteun, maar (ná die aanval) het my lewe soos ’n grap gevoel,” het sy in die sosiale media geskryf.  Dit verbyster haar steeds dat so-iets kon gebeur het.

“Net omdat ek ’n seun se aanbod geweier het? Hy was ’n goed opgevoede jong man van die weermag. Iemand wat ek vertrou om my te beskerm, het my lewe geruïneer.”

Ná die aanval in 2009 het Rani vier maande in ’n waakeenheid deurgebring. Daar het sy vyf rekonstruktiewe operasies ondergaan, onder meer een om gedeeltelike sig in haar linkeroog te herstel. Sy was ook vir vyf jaar by die huis bedlêend. 

Rani en Saroj het mekaar in Maart 2014 ontmoet in ’n privaat hospitaal waar sy opgeneem is nadat sy ’n infeksie opgedoen en dit haar bene aangetas het. 

Die infeksie wat haar weer in die hospitaal laat beland het, het as gevolg van ’n veloorplanting ontstaan. Dokters het vel van haar bene verwyder en dit op haar gesig oorgeplant. Maar net die helfte van haar beenwonde het genees – die res het ernstig ontsteek.

Dokters het gemeen dit sou minstens vier jaar wees voor sy weer sou kon loop en Rani het in ’n depressie verval. Maar toe ontmoet sy Saroj in die hospitaal. Hy was vriende met die verpleegster wat Rani versorg het en het eendag vir haar gaan kuier. Hy het Rani se ma raakgeloop, wat oor haar dogter gehuil het, en aan haar ’n belofte gemaak.

“Hy het vir haar gesê hy sou alles moontlik doen om my aan die loop te kry,” sê Rani. Saroj, ’n mediese verteenwoordiger, het begin om Rani elke dag te besoek om haar op te beur en het later uit sy werk bedank om aan haar sy te wees. 


 Pramodini het onlangs met die liefde van haar lew
Pramodini het onlangs met die liefde van haar lewe, Saroj Sahoo getrou. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Van agt tot 12 soggens en vier tot agt saans was hy daar by my. Dit het ’n roetine geword,” sê Rani. “Hy sou vir ure met my gesels en my motiveer.”

Stadig maar seker het haar bene begin genees.

“Met behandeling en oefening en met sy hulp en steun het ek my selfvertroue teruggekry. En nou is ek op die been en kan ek weer loop,” sê sy. 


Tydens haar herstel het Rani ook gevoelens vir Saroj begin ontwikkel. “Maar ek het dit nie vir hom gesê nie. Ek het gedink ‘Ek is nie eens bevoeg om na myself te kyk nie – hoe kan ek hoop om iemand anders gelukkig te maak?’ 

“Maar hy het my bly aanmoedig en vir my gesê ek moenie te veel dink nie. Hy het my verseker ’n dag sou kom wanneer ek gereed sou voel om ander mense gelukkig te maak,” sê sy. 

Saroj het ook verlief geraak en in 2018 het hy die jawoord gevra. Die twee wou in April 2020 trou, maar die coronavirus het hulle verplig om hul planne uit te stel. Maar op 1 Maart, met die pandemie onder beheer in Indië, het hul groot dag eindelik aangebreek.

Rani het ’n pruik gedra en asemrowend gelyk in ’n rooi-en-mosterdgeel sari en Saroj het aantreklik gelyk in ’n bypassende sherwani.

“Niks beter kon met my gebeur het as om met Saroj te trou nie,” sê Rani. “Hy is nie net vandag my man nie, maar my voortdurende krag in al my hoogte- en laagtepunte.”

Die egpaar het ’n steunorganisasie vir oorlewendes van suuraanvalle begin wat geld vir chirurgie en rehabilitasie help reël.

“My boodskap aan elke suuraanval-oorlewende is: Moenie wanhopig voel nie. Staan op en droom groot, want jy is nou niks minder as wat jy ooit was nie.” 

Ekstra bronne: Daily Mail, The Sun, The New Indian Express, Indian Times