Dis stikdonker en snerpend koud, maar tienduisende drawwers staan skouer teen skouer en wag vir die oomblik waarvoor hulle so hard gewerk het. In sitkamers reg oor die land sit gesinne met bekers stomende koffie met ewe veel afwagting voor die televisie.

Die opgewondenheid styg wanneer die hoendervelklanke van “Chariots of Fire” oor die atlete spoel. Dan kraai die hoenderhaan en met ’n gejuig begin die see van mense deur die strate stroom. Dis die begin van nog ’n Comrades-marathon, Suid-Afrika se weergalose sportskouspel wat vanjaar ’n eeu oud is.

Dis 90 km van bloed, sweet en trane, ongelooflike drama en heldedade. Een jaar afdraand van Pietermaritzburg na Durban, die volgende jaar opdraand. Teen moordende bulte soos Polly Shortts en Cowies Hill word atlete gebreek en legendes gebore. Wally Hayward, Bruce Fordyce, Frith van der Merwe, Nick Bester, David Gatebe . . . 

“Die Comrades is uniek in soveel opsigte,” vertel Cheryl Winn, voorsitter van die Comrades Marathon Association (CMA) en die 1982-vrouekampioen. “Die oudste, grootste en beroemdste wedloop in Suid-Afrika geniet die respek van hardlopers oral.”

Comrades Marathon Association
Comrades Marathon Association

Maar dis nie die kampioene wat aanhangers so begeester nie. Die hardste toejuiging is vir gewone deelnemers wat, fisies geknak, soms letterlik oor die eindstreep kruip. Ons word ontroer deur onselfsugtige atlete wat ander na die einde sleepdra; en jy huil saam met dié wat net-net die afsnytyd misloop. 

Die Comrades-held Nick Bester reken dis die groot gros gewone deelnemers “wat in die donker begin hardloop en in die donker klaarmaak” wat dié ultramarathon so glorieryk maak. 

“Die son brand jou, jou tone raak stukkend, jou skene pyn, jy’s honger en dors, dalk gedehidreer, maar jy maak klaar. Dis dié ouens wat regtig die wedloop maak,” beklemtoon Nick. 

Want daardie Comrades-medalje verteenwoordig die triomf van die menslike gees bo geweldige uitdagings – nes ’n Suid-Afrikaanse oorlogsveteraan dit 10 dekades gelede beoog het. 

Op 13 Junie vanjaar sou die 95ste Comrades “af” na Durban gehardloop word – volgens gesoute Comrades-atlete erger as om “op” te hardloop. 

Toe kom die coronakrisis en pootjie als. Maar in die ware gees van die marathon word ’n virtuele, meer inklusi 100 jaar se trane, triomf en glorie.

UIT DIE PUIN VAN OORLOG

ewe wedloop gereël vir al die duisende vaardige langasems, doodgewone geesdriftiges en dromers reg oor die wêreld wat bo die pandemie wil uitstyg. 

Want in die woorde van Louis Massyn (70), die houer van die meeste Comrades-medaljes ooit: “Daar’s regtig net een woord vir die Comrades: kameraadskap.”

Ons kyk na 100 jaar se trane, triomf en glorie.

UIT DIE PUIN VAN OORLOG

Die Comrades was die geesteskind van Vic Clapham, ’n veteraan van die Eerste Wêreldoorlog wat ’n lewende eerbewys wou skep vir die Suid-Afrikaanse soldate wat in daardie konflik dood is.

Stigter: Die Eerste Wêreldoorlog-veteraan Vic Clap
Stigter: Die Eerste Wêreldoorlog-veteraan Vic Clapham het met die Comrades-idee vorendag gekom. Foto: Wikimedia Commons

As soldaat moes hy en sy kamerade ’n uitmergelende 2 700 km ver te voet aflê deur die onherbergsame en snikhete Duits-Oos-Afrika terwyl hulle Duitse koloniale troepe agternasit.

As hulle as troepe belaai met wapens, ammunisie en ander voorraad dit kon doen, het Vic geredeneer, sou opgeleide atlete sekerlik 90 km ver kon hardloop. Want dit was die punt: ’n weergalose toets van deelnemers se uithouvermoë.

Die wedloop se naam, Comrades, is verleen aan die kameraadskap van soldate wat saam beproewings deurgemaak het. Die eerste marathon is op 24 Mei 1921 gehou en daarna jaarliks met die uitsondering van die Tweede Wêreldoorlog-jare 1941-1945, en die afgelope twee jaar weens covid. 

Die eerste wedloop het net 34 manlike deelnemers gehad, waarvan 16 die afstand voltooi het. Die eerste wenner, Bill Rowan, se 8:59 bly die stadigste wentyd vir mans.

Bill Rowan. Foto: Comrades Marathon Association
Bill Rowan. Foto: Comrades Marathon Association

DIE EEUVIERING

Die virtuele Comrades Centenary Hope Challenge – wat kort na ons saktyd sou plaasvind – is meer as net ’n eeuviering, sê Cheryl Winn. 

“Dit versinnebeeld hoop te midde van soveel swaarkry, verlies en die groot ontwrigting van ons lewens. Ons maak voorsiening vir mense van alle vermoëns wat kan hardloop, stap of selfs in ’n rystoel aan afstande van 5 km, 10 km, 21,1 km, 45 km of 90 km deelneem, en 24 uur sal hê om hul verkose afstand te voltooi.”

Comrades-legendes by die CMA-gedenkfunksie op 24 M
Comrades-legendes by die CMA-gedenkfunksie op 24 Mei: Boysie van Staden (40 medaljes), oudkampioen Alan Robb, Barry Holland (47 medaljes), Kim Pain (30 medaljes) en oudkampioene Nick Bester, Bruce Fordyce en Vladimir Kotov. Foto: Comrades Marathon Association

Die 2020-Comrades was ook virtueel en meer as 43 700 mense het daaraan deelgeneem. Vanjaar se Hope Challenge sou Sondagoggend, 13 Junie, om 00:01 begin en om 23:59 eindig. Deelnemers kon tot op die dag registreer vir die uitdaging van hul keuse en dan hul wedloopdata laai – alles op die Comrades-webtuiste. 

En jy stap of hardloop dit waar jy wil: in jou woonbuurt, in jou tuin, op ’n trapmeul . . . solank jy covid- en padregulasies eerbiedig. 

DIE YSTERS VERTEL

BRUCE FORDYCE

Negemalige wenner en “grootste onder die grotes”

Gallo Images/Wessel Oosthuizen
Gallo Images/Wessel Oosthuizen

Die Comrades is vir hom uniek omdat dit “meer as twee marathons in een is, met hengse heuwels. En dan al die tradisies daarvan – van die groen nommer tot al die beroemde karakters,” sê hy.

“Dit alles het bymekaargekom om die gebeurtenis as ’n blote marathon te transendeer; dit het ’n ikoniese kulturele gebeurtenis geword. 

“My eerste wen in 1981 sal altyd ’n spesiale Comrades-oomblik wees. En waar 1986 se af my vinnigste tyd was (5:24:07), was ek eintlik beter in die op-wedlope.” 

Sy beste tyd in die oppe (5:27:42 in 1988) was syns insiens dus ’n beter prestasie, verduidelik die Comrades-koning, wat in vyf van sy nege oorwinnings die rekord verbeter het.

“Tog dink ek nie ek was die grootse Comrades-atleet nie. Wally Hayward was. Hy het vyf gewen en nooit verloor nie en het ook die wedloop voltooi toe hy 80 en 81 was.”

Sy taaiste Comrades? “My 1982-resies teen Alan Robb. Ons het voluit gegaan. Ek het hom eindelik geklop, maar teen ’n groot fisieke prys vir myself.”

Verlede jaar en vanjaar het hy ingeskryf vir die 10 km-opsie in die virtuele marathon. “Saam met my gesin, sommer net rondom ons voorstad. Ek dink ons moet vorentoe elke jaar die virtuele wedloop ook hê. Dis die enigste goeie ding uit die pandemie.” 

GERDA STEYN

Huidige vrouekampioen en houer van die op-rekord

Gallo Images/Anesh Debiky
Gallo Images/Anesh Debiky

Die Comrades is waar sy haar “passie vir hardloop ontdek het”, vertel die bourekenaar. “Dit het my loopbaan, my hele lewe verander.”

Gerda was vierde in 2017 en tweede in 2018 voordat sy – met 5:58:53 – die eerste vrou geword het wat die opwedloop in minder as ses uur voltooi en die Rus Elena Nurgalieva se 13 jaar oue rekord verpletter het.

“Ek kry nou nog hoendervel oor daardie dag in 2019.” 

Die een naam wat vir haar steeds onder almal uitstaan, is Frith van der Merwe. “Haar af-rekord van 1989 staan nog altyd. Sy was baie ver voor die res in haar era. Ons kyk op na haar.”

Sy is ewe positief oor die virtuele wedloop. “Ons sou natuurlik veral die honderdste jaar baie graag tussen duisende ander met ons tekkies op die pad wou vier. Maar ek het in laasjaar se virtuele wedloop die 21 km saam met ’n klein groepie vriende gedoen en sal vanjaar dieselfde doen.”

Vir haar is die virtuele wedloop ook deel van haar voorbereiding vir die Tokio-Spele.

“Die ondersteuners is vir my nog ’n ding wat van die Comrades uitstaan. In gewone jare sien jy hulle van 1 tot 90 km langs die pad. 

“Daardie afstand teen daardie pas maak dit ’n baie intense resies. Dit vat jou regtig deur oppe en awwe. In die loop van die resies kan jy baie sleg voel en dan weer goed, dit kan weer beter gaan, nes in die lewe.” 

NICK BESTER

1991-kampioen en topbreier van SA se hardlooptalent

Media24
Media24

Die voormalige Comrades-, ysterman- en bergfietskampioen en Springbok-driekampatleet was al by baie wêreldatletiekbyeenkomste. Maar geeneen het ooit vir hom dieselfde gevoel en atmosfeer as die Comrades nie.

“Ná 60 km kan jy voel hoe jou lyf omtrent met elke tree ingee. Jy’s waarskynlik te fiks om moeg te word, so dit gaan oor die ou wat die meeste pyn kan vat.”

Nick was ook drie keer die naaswenner en het eindelik nege goue medaljes (die eerste 10 deelnemers kry goud) gewen. 

Hy het vandag stellig sy lewe te danke aan dít wat die Comrades versinnebeeld. Verlede jaar is hy vir ’n tweede keer deur rowers aangeval. Die booswigte het hom oorval terwyl hy in die Magaliesberg geoefen het. 

“Hulle het my klippe aangerand, bene in my gesig en van my ribbebene gebreek, my hande en voete styf vasgebind en my daar gelos asof ek nooit daar sou afkom nie. 

“Was dit nie vir my fikse lyf en sterk Comrades-kop nie, daardie vasbyt wat so ’n ultrawedloop by jou kweek, was ek waarskynlik dood.”

DAVID GATEBE

Die afdraand-koning 

Gallo Images
Gallo Images

Hy het die af-rekord vernietig, verpletter, vermorsel, verklaar die CMA. 

David het met 5:18:19 die Rus Leonid Shvetsov se vorige beste met meer as twee minute en 22 sekondes verbeter. In ’n era waar rekords gewoonlik met breukdele van ’n sekonde verbeter word, het hy dus ’n merk gestel wat nog jare buite die bereik van aspirantwenners kan wees.

“Dit gaan alles oor harde werk en geduld,” sê David uit Noordwes. “Jy moet geestelik sterk wees en jou volle toewyding gee.

“Die Comrades het my my ware potensiaal help bereik,” sê die voormalige petroljoggie wat vandag as sportbeampte vir Impala Mines werk.

Dié pa van ’n 10- en sesjarige geniet dit om opkomende atlete te slyp. “Ek wil hê die ouens wat ek afrig moet ervaar wat ek ervaar het.”

Die Kroonstadse boorling oorweeg dit ook sterk om aan die virtuele wedloop deel te neem toe hy met ons gesels – dalk ’n stewige ent tussen Rustenburg, waar hy deesdae woon, en Lichtenburg.

ALAN ROBB

Viermalige wenner

Gallo Images/Sarel van der Walt
Gallo Images/Sarel van der Walt

Hy hou steeds die Comrades-rekord vir die meeste goue medaljes (12). 

Van sy spesiaalste oomblikke was “toe ek in 1978 die eerste ou word wat die 5 uur en 30 minute-grens breek (met 5:29:14). En my 40ste Comrades – een van die warmste wedloopdae ooit – toe twee ouens my oor die eindstreep gehelp het.

“Ons het nie regtig enige soort dieet gehad nie. Jy kry vandag al hierdie mengsels, maar in my vroeë dae het die ouens net water en Coke gedrink, en daar was geen vloeistofpunte nie. Jy’t op vriende staatgemaak om vir jou drinkgoed saam te ry.”

Spesiale kos? “Ek sou voor die wedloop net ’n toasted cheese gryp, en glad nie in die hardloop eet nie."

Die 1970’s-Comrades-koning is ook bekend oor sy sokkies: “Toe ek begin hardloop, kon ek eendag nie die gebruiklike wit sokkies kry nie. Ek’s in my pa se kas in, maar kon net ’n paar rooies ry kry en trek hulle toe maar aan.” Sy medehardlopers het baie te sê gehad, en net daar besluit hy dis voortaan net rooi sokkies.

LOUIS MASSYN

Die hardloper met die meeste Comrades-medaljes

Facebook/Louis Massyn
Facebook/Louis Massyn

Praat van ’n medaljevraat – hy het 47 medaljes verdien. En dit nogal agtereenvolgend! 

Tegnies het Barry Holland ewe veel Comrades-medaljes, maar Louis (70) kry daardie ekstra krediet omdat hy boonop 44 keer die Twee Oseane-marathon voltooi het.

“My grootste motivering is my medeatlete, en om vir hulle ’n motivering te wees,” vertel die menslike hardloopmasjien. 

Dis altyd vir hom 'n baie emosionele oomblik om met “Chariots of Fire” in jou ore by die Comrades weg te spring.

“En natuurlik die oomblik wanneer jou voete naby aan die einde aan daardie stadiongras raak – dit is onbeskryflik.”

Louis het verlede jaar vir die virtuele 45 km ingeskryf, maar toe “48 km gehardloop omdat dit my 48ste Comrades sou wees.”

Vanjaar het hy en sy plaaslike klublede weer vir die virtuele 45 km ingeskryf. Maar hy gaan 49 km aflê, wat dit sou immers sy 49ste Comrades wees.

MYLPALE GESKRYF IN SWEET EN TRANE

Arthur Newton

Arthur begin met sy eerste deelname en sege in 1922 sy heerskappy as die aanvanklike Comrades-koning.

Maar die Springbok-rugbyspeler Bill Payn sorg dieselfde jaar vir een van die mees vertelde Comrades-staaltjies: Bill – Arthur se gasheer die aand voor die wedloop – is ná ’n paar stywe doppe oorreed om ook deel te neem. Hy het in sy rugbytoks by die wegspring opgedaag, en by Hillcrest aangekom eers die pas vir ’n spek-en-eiers-brekfis markeer.

Nie veel verder nie het hy ’n uitnodiging vir hoenderkerrie van ’n mnr. Wade aanvaar. By Drummond het Bill eers die halfpadmerk met ’n bier by die hotel gevier. ’n Vrouetoeskouer het hom sy energievlakke help handhaaf met water, tee, lemoene – en perskebrandewyn!

Dit alles het skynbaar gewerk, want Bill het toe die agste plek behaal.

Die volgende dag het hy boonop uitgedraf vir ’n rugbywedstryd – in tekkies, want hy had te veel blase vir rugbystewels.

Vyfmalige-kampioene: Die 1920’s-held Arthur Newton
Vyfmalige-kampioene: Die 1920’s-held Arthur Newton gee raad aan Jack Mekler, wat van 1958-1968 oorheers het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Frances Hayward

Sy was in 1923 die eerste vrouedeelnemer, maar haar inskrywing was geweier en sy het nie ’n medalje ontvang nie. Ander atlete en toeskouers het haar met ’n silwerteestel en ’n roosbak vereer.

Comrades Marathon Association
Comrades Marathon Association

Hartseerste einde

Die jaar 1967 het waarskynlik vir die hartverskeurendste einde gesorg. Manie Kuhn is voor Tommy Malone oor die wenstreep nadat laasgenoemde op die nipper weens krampe gestruikel het.

1967: Tommy Malone was skynbaar die wenner… toe st
1967: Tommy Malone was skynbaar die wenner… toe struikel hy met krampe en Manie Kuhn bars verby. Foto: Comrades Marathon Association

Nog merkwaardige mylpale

  • In 1975 is die wedloop vir almal oopgestel en kon swart atlete en vroue ook amptelik deelneem.
  • In 1989 het Sam Tshabalala vir Willie Mtolo geklop om die eerste swart wenner te word. Terselfdertyd het die vyfmalige wenner Wally Hayward weke voor sy 81ste verjaardag sy laaste Comrades voltooi.
  • In 1997 is die deelnemers, organiseerders en ondersteuningspanne geroer deur die destydse pres. Nelson Mandela se verrassingsbesoek.

EIESOORTIGE TRADISIES VAN ’N SPESIALE WEDLOOP

Groen nommer

Hardlopers wat 10 wedlope voltooi het, kry ’n groen nommer wat permanent aan hulle toegeken word vir alle toekomstige deelnames aan die Comrades. 

Die hanekraai

In 1948 het die wedstrydbeampte Max Trimborn ’n hanekraai uit volle bors nageboots, eerder as om die gewone afsitterspistool te vuur. Hoe dan nou anders voor sonop? Dit word vandag steeds so gedoen danksy ’n stemopname van Max.

“Chariots of Fire”

Buiten ons landslied is Vangelis se Oscar-bekroonde temalied vir die Britse hardloopfliek ’n jaarlikse treffer.

DIE COMRADES IN SYFERS

Rekordtye: Mans

Af-wedloop

David Gatebe (Suid-Afrika) in 2016 – 5:18:19

Op-wedloop

Leonid Shvetsov (Rusland) in 2008 – 5:24:49

Gallo Images/Getty Images
Gallo Images/Getty Images

Rekordtye: Vroue

Af-wedloop

Frith van der Merwe (Suid-Afrika) in 1989 – 5:54:43

Gallo Images/Wessel Oosthuizen
Gallo Images/Wessel Oosthuizen

Op-wedloop

Gerda Steyn (Suid-Afrika) in 2019 – 5:58:53

Gallo Images/Getty Images
Gallo Images/Getty Images

Meeste oorwinnings

Mans

Gallo Images/Darren Stewart
Gallo Images/Darren Stewart
  • Bruce Fordyce – 9
  • Arthur Newton, Hardy Ballington, Wally Hayward, Jack Mekler (ook almal van Suid-Afrika) – 5
  • Alan Robb (Suid-Afrika) – 4

Vroue

Gallo Images/Getty Images
Gallo Images/Getty Images
  • Elena Nurgalieva (Rusland) – 8
  • Lettie van Zyl, Helen Lucre en Frith van der Merwe (almal van Suid-Afrika) asook Maria Bak (Duitsland) – 3
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe