Henri van Breda het nie gedink dis nodig om by sy ouers te gaan sit en hulle te troos terwyl hy vir ’n ambulans gewag het nie. 

Nee, hy was van mening dat sy pogings om ’n ambulans te ontbied terwyl hy drie sigarette rook is genoeg. Hy het wel terselfdertyd sy gewese meisie vyf keer op sy selfoon probeer bel terwyl die oproep na die nooddienste op die gesin se koordlose telefoon gedoen is.

“Ek het gedoen wat ek gedink het die beste is.” 

Galloway opper die lys van noodnommers wat teen die gesin se yskas in die kombuis was. Op daardie lys is daar twee noodnommers wat 24 uur beskikbaar is, naamlik die sekerheidskantoor van die landgoed en die gesin se mediese dokter.

Op ’n vraag waarom hy nie iemand in die landgoed vir hulp ontbied nie, het hy gereageer deur te sê hy het nie gedink iemand sonder mediese agtergrond sal iets vir hulle kon doen nie.

Volgens Henri se getuienis het hulle in Australië ook geleer wanneer nooddienste ingelig word iemand het 'n kopwond opgedoen, hul reaksietyd aansienlik vinniger sal wees.

Hy was betreklik deeglik met die aanwysings wat hy aan die nooddiens-oproepsentrum verskaf het. Henri getuig hy het die inligting van sy selfoon af gekry.

Dít was Maandag deel van sy getuienis in die Kaapse Hooggeregshof waar hy vir die vierde dag onder kruisverhoor was.

Hy staan tereg op aanklagte van ’n driedubbele moord en poging tot moord. In Januarie 2015 is sy ouers, Martin (55) en Teresa (54) van Breda en broer Rudi (22), wreed met ’n byl vermoor. Sy suster Marli (19) het die aanval met ernstige kopbeserings oorleef. Henri word ook van regsverydeling aangekla.

Die jongman in die netjies grysbloupak het deurentyd water gedrink en het in ’n stadium ’n lang gaap gegee. Sy oom, André du Toit, het die oggendsessie bygewoon, maar was na middagete nie meer in sig nie.

Die staatsaanklaer, Susan Galloway, het hom onder meer ook uitgevra oor die gesinshond, Sasha, en waar sy tydens die aanvalle was, waarom sy sokkies so te sê niks bloed op gehad het nie en oor teenstrydighede in sy aanvanklike verklaring teenoor dit wat hy in die hof getuig het.

Sy vra Henri om te verduidelik hoekom hy nie homself as 'n beseerde aangedui het tydens die oproep na die nooddienste nie. Hy het verwys na sy gesin wat aangeval is, alhoewel hy self ook 'n slagoffer was.

Henri het telkemale getuig dat hy dele van die aand nie presies kan onthou nie en dat hy nie ’n verduideliking het vir baie van die vrae nie.

Dit het onder meer ingesluit waarom daar niks van Sasha se poot-afdrukke in die bloedplasse in die huis was nie en hoe Rudi van sy bed tot op die grond aan die voetenent van die bed beland het.

Sy stel dit aan hom dat Sasha in die motorhuis toegesluit was en dit verhoed het dat die gesin se hond in die bloed kon trap. Henri ontken dit.

Galloway wou ook weet hoe die mes wat in die aanval gebruik is gedeeltelik onder Rudi se bed beland het.

Henri beweer sy broer, Rudi, kon moontlik die mes onder die bed laat inskuif het.

“Rudi kon dit daar ingestoot het,” het Henri gesê. 

Sy het ook vir hom gevra of dit moontlik is dat hy en Marli in ’n struweling betrokke was by die ingang van die seuns se kamerdeur en dat dit die stamp teen sy kop en beserings op sy rug kan verduidelik. Henri het dit ontken. In hierdie stadium het Henri duidelik gesukkel om sy emosies onder beheer te hou.

"Toe jy vir Marli aangeval het, het sy haarself verdedig. Die knop op jou kop is 'n stomp voorwerp-besering – moontlik 'n vuis – en Marli het tekens op haar regterhand gehad wat van 'n vuisgeveg vertel," het Galloway aan hom gesê.

Sy het saam met hom deur sy verklaring gegaan en gevra om presies uit te lig wat daarin nie akkuraat is nie.

Hy het onder meer gesê dat hy nie kan onthou dat hy vroeër die aand ’n whiskey gedrink het nie, dat hy melding gemaak het daarvan dat daar ’n tweede aanvaller was, maar dat dit nie so in sy verklaring aangeteken is nie.

Ook dat hy sigarette gerook het terwyl hy nooddienste gebel het en nie terwyl hy vir hulle gewag het soos in dieselfde verklaring staan nie.

Galloway het hom daarvan beskuldig dat hy selektiewe geheueverlies het en dat hy slegs details vergeet wat te doen het met die inkriminerende aspekte van die staat se saak teen hom. 

Kruisondervraging is Maandagmiddag afgehandel.