Op die oog af lyk hulle soos doodgewone jong mans wat dalk jou buurman of kollega kon wees, maar albei staan tereg vir afgryslike misdade wat die land laat gons. Terwyl albei nog in die hof verhoor moet word, wonder mense landwyd: Wat gaan in die beweerde oortreders se kop aan?

Maar in sake soos dié het die howe self ’n kritieke vraag wat eers beantwoord moet word: Is die beskuldigde toerekeningsvatbaar? Met ander woorde: Is hy in ’n sodanige geestelike toestand dat hy vir sy dade aanspreeklik gehou kan word?

Dié antwoord kan die verloop en uitkoms van die regsproses bepaal.

Om dié rede is die Stellamoordverdagte, Xander Bylsma (19), en die beweerde Drosverkragter, Nicholas Ninow (20), onlangs albei vir psigiatriese evaluasie verwys.

Xander Bylsma

Xander word daarvan aangekla dat hy in Mei vanjaar sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar vriendin Marna Engelbrecht (16) in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis vermoor het, maar is onlangs na die Sterkfontein- Psigiatriese Hospitaal in Krugersdorp verwys.

Nicholas is in die badkamer van ’n Drosrestaurant in Pretoria betrap saam met ’n sewejarige meisie wat hy na bewering verkrag het. ’n Video van hom in die badkamer, kaal en bebloed nadat hy glo deur woedende klante bygedam is, het ’n opskudding in die sosiale media veroorsaak.

Hy is na die Weskoppies-Psigiatriese Hospitaal in Pretoria verwys. Die verslae van die evaluasiepaneel kan dalk bepaal of dié twee se verhore sal voortgaan – en wat hul lot sal wees.

“Indien die staat onseker is oor iemand se geestestoestand tydens die pleeg van die misdaad, sal die persoon vir psigiatriese observasie en evaluasie gestuur word,” sê dr. Christiaan Bezuidenhout, professor in kriminologie aan die Universiteit van Pretoria.

Volgens hom is evaluasie algemeen in “bisarre” misdaadsake soos moorde wat buitengewoon gewelddadig en grusaam was. “Dan wil die staat weet waarom iemand so sou optree.”

Maar wat gebeur agter die mure van dié psigiatriese inrigtings? Watter invloed het die sielkundige verslae op die howe? En kan ’n oortreder skotvry daarvan afkom?

WAT WIL DIE HOWE WEET?

In ’n neutedop wil die howe weet of die beskuldigde toerekeningsvatbaar is of nie, sê prof. Dap Louw, ’n forensiese kriminoloog aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Met ander woorde, het hierdie persoon aan enige betekenisvolle psigiatriese of sielkundige versteurdheid gely tydens die pleeg van die misdaad? Indien wel, het die toestand ’n rol gespeel?”

Nog ’n kernvraag is oor die beskuldigde se vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei.

Nicholas Ninow

Vir antwoorde word die beskuldigde vir evaluering na ’n psigiatriese hospitaal verwys. As ’n geestesteuring gediagnoseer word, moet bepaal word of die beskuldigde bevoeg is om die hofgebeure te volg en te verstaan.

Dit sal bepaal of hy met behulp van sy regspan homself behoorlik sal kan verdedig, sê Dap.

AGTER DIE MURE VAN DIE PSIGIATRIESE HOSPITALE

“Die atmosfeer in psigiatriese hospitale is eerder dié van ’n staatshospitaal as van ’n tronk,” vertel Christiaan. Elke beskuldigde wat vir evaluasie opgeneem word, bly in ’n aparte kamer in ’n spesiale vleuel weg van “gewone” staatspasiënte, sê Ronel Ludick, skakelbeampte van Weskoppies.

Die polisie is verantwoordelik vir sekuriteit in die evaluasievleuel. Die kamers word 24 uur per dag met kameras gemonitor.

Bedags kom die pasiënt op vasgestelde tye uit sy kamer om die gedeelde stortgeriewe te gebruik, aan verpligte psigiatriese sessies deel te neem of eetsaal toe te gaan. Hulle kry drie gebalanseerde maaltye per dag en voorsiening word gemaak vir byvoorbeeld die dieetvoorskrifte van diabeteslyers.

“Hulle het ook vrye tyd bedags wanneer hulle byvoorbeeld bord-speletjies of snoeker in ’n algemene ontspanningsarea kan speel,” sê sy. Maar snags word die evaluasiepasiënte in hul enkelkamers toegesluit.

Sharnelle Hough (links) en Marna Engelbrecht, van wie se moorde Xander Bylsma beskuldig word.

“Dit is maar soos ’n tronk,” sê sy.

Volgens Ronel mag pasiënte onder streng voorwaardes op Sondae en vakansiedae besoek van direkte familie en hul regspan ontvang.

“Geen besoekers word toegelaat sonder voorafreëlings met die hospitaal nie.”

HOE WERK PSIGIATRIESE WAARNEMING?

Volgens dr. Larissa Panieri-Peter, ’n onafhanklike forensiese psigiater van Kaapstad, lyk die deursnee-evaluasiepaneel so: ’n staatspsigiater, ’n psigiater vir die verdediging, ’n mediese dokter en ’n sielkundige.

Algemene hospitaalpersoneel monitor die beskuldigde se daaglikse bewegings en doen verslag daaroor. Op grond van onderhoude, psigiatriese toetse, die beskuldigde se sielkundige geskiedenis en observasie van sy gedrag word ’n volledige kliniese assessering gedoen en ’n profiel opgetrek, sê Larissa.

Dit is maar soos ’n tronk.

Selfs mediese ondersoeke, soos bloed- en breintoetse, kan gedoen word. Volgens Christiaan is die standaardtydperk vir observasie 30 dae, “maar soms sal die paneel die hof om uitstel vra en aanhou tot ’n diagnose bereik word”.

Daarna word ’n sielkundige verslag vir die hof geskryf. “Die verslag bevat aanbevelings, maar die hof behou hom die reg voor om te besluit of die vermeende oortreder billik verhoor kan word of nie.”

NIE GESKIK VIR VERHOOR NIE – WAT NOU?

As die hof op grond van die sielkundige verslag besluit die beskuldigde is nie toerekeningsvatbaar nie, word hy ’n staatspresidentspasiënt, sê Larissa. Die staatspresidentspasiënt word dan in ’n maksimumsekuriteitseenheid van ’n psigiatriese inrigting opgeneem, waar hy behandeling ontvang.

“Tronke het nie die kapasiteit om mense met geestestoestande te huisves en te behandel nie,” sê sy.

Afhangend van die erns van die pasiënt se geestestoestand en die misdaad, sal die persoon waarskynlik nooit ontslaan word nie – al reageer hy goed op behandeling.

Christiaan verduidelik hulle word as deel van hul behandeling, wat medikasie en terapie kan insluit, voltyds gemonitor en deurlopend geëvalueer. Dus is daar nie jaarlikse herevaluasieprosesse nie.

Afhangend van die erns van die pasiënt se geestestoestand en die misdaad, sal die persoon waarskynlik nooit ontslaan word nie – al reageer hy goed op behandeling.

Staatspresidentspasiënte kan mettertyd aansoek doen om ontslag, maar dit word baie selde goedgekeur.

“Dit is belangrik om te verstaan dat ’n beskuldigde met ’n geestestoestand wat ’n staatspresidentspasiënt word ’n gevaar vir die gemeenskap en vir homself is. Die kans om uit te kom is bitter skraal,” sê Christiaan.

WEGKOM MET MISDAAD?

Dr. Llewelyn Curlewis, ’n regskenner aan die Universiteit van Pretoria, sê dit gebeur selde dat daar bevind word ’n beskuldigde is nie toerekeningsvatbaar nie en daarom nie geskik om verhoor te word nie.

“En of jy lewenslank in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word en of jy teregstaan op die misdaad, jy gaan nie so maklik met ’n misdaad wegkom nie.”

’n Veroordeelde misdadiger kan danksy goeie gedrag op parool vrygelaat word nadat hy ’n gedeelte van sy vonnis uitgedien het, maar dit gebeur selde vir staatspresidentspasiënte, bevestig Larissa.

Die tronkdeure kan dalk eendag oopswaai, maar vir staatspresidentspasiënte bly psigiatriese eenhede se deure meestal toe. 

UITKOMS VAN ANDER HOËPROFIELBESKULDIGDES SE EVALUASIE

Oscar Pistorius
  • Oscar Pistorius is in Mei 2014 deur regter Thokozile Masipa vir psigiatriese evaluasie na Wes- koppies in Pretoria gestuur. Oscar se advokaat, Barry Roux, het onder meer aangevoer Oscar het uit ’n diepgewortelde vrees vir misdaad – verhoog deur sy kwesbaarheid as parapleeg – opgetree toe hy Reeva Steenkamp in 2013 deur die toe badkamerdeur van sy woonplek geskiet het. Die hof het beslis sy verhoor kan voortgaan nadat spesialiste bevind het hy is wel toerekeningsvatbaar. Hy dien tans in Pretoria se Atteridgevilletronk tronkstraf uit weens moord.
Johan Kotzé
  • Die Modimolle-monster, Johan Kotzé, is vir evaluasie na Weskoppies gestuur nadat hy sy eksvrou, Ina Bonnette, deur drie mans laat verkrag en haar tienerseun, Conrad, vermoor het. Die paneel het bevind hy is ’n primêre psigopaat. Hy het ’n persoonlikheidsteuring, nie ’n geestesteuring nie. Hy kon tussen reg en verkeerd onderskei. Hy is in 2013 lewenslank tronk toe gestuur.
Springsmonster
  • Die sogenaamde Springsmonster is tydens evaluasie daarmee gediagnoseer dat hy ’n sadistiese psigopaat is, maar is as toerekeningsvatbaar beskou. In Oktober vanjaar is hy vir 35 jaar tronk toe gestuur nadat die hof bevind het hy het sy minderjarige kinders mishandel en sy tienerdogter verkrag. Hulpeloseslagoffersindroom is by sy eksvrou, ’n medebeskuldigde, gediagnoseer. Sy is verhoor en skuldig bevind, maar haar vonnis is opgeskort omdat sy ook deur haar man mishandel en gemanipuleer is.
Dimitri Tsafendas
  • Dimitri Tsafendas, moordenaar van oudpremier Hendrik Verwoerd, was Suid-Afrika se bekendste staatspresidentspasiënt. Hy is verhoor, maar skisofrenie is by hom gediagnoseer. In sy boek, The Man Who Killed Apartheid, beweer Harris Dousemetzis Tsafendas het uit teenkanting teen sosiale ongeregtigheid opgetree. Hy sê die apartheidsregering het voorgegee Tsafendas was waansinnig om hulself verleentheid te spaar.
FOTO'S: GALLO IMAGES/NETWERK24/SIMON SONNEKUS, GALLO IMAGES/NETWERK24/DEAAN VIVIER, INSTAGRAM/@MARNAENGELBRECHT, GALLO IMAGES/REUTERS, GALLO IMAGES/FOTO24/HERMAN VERWEY, GALLO IMAGES/NETWERK24/DEAAN VIVIER, DIE BURGER/MEDIA24