“Dit was ’n moeilike dag.”

Dít is al wat Stefaans Engelbrecht wou sê nadat sy dogter se vermeende moordenaar, Xander Bylsma (19), gister in die landdroshof op Vryburg verskyn het.

Xander het voorgekom op twee aanklagte van moord ná die dood van Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle Hough (17). Hul lyke is op 26 Mei in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis aangetref. Sharnelle en Xander het sowat ’n maand voor die moorde uitgemaak. Marna was Xander se kleinniggie.

Stefaans het onlangs in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot gesê hy sal by elkeen van Xander se hofverskynings wees.

Hy het by sy woord gehou en gister in die eerste ry gesit, reg agter die beskuldigdebank waar Xander gestaan het. Langs hom het Ronnie Hough, Sharnelle se pa, gesit.

Vriende, familie en ondersteuners het vir Xander se tweede verskyning in T-hemde opgedaag met die twee vriendinne Marna en Sharnelle se foto daarop gedruk.

Daar was ook vlaggies met die tienermeisies se foto’s op. 

Sharnelle se lyk het aan ’n springtou van die trapreling in die koshuis afgehang. Haar bene het tussen die fietse gehang. Marna se lyk is in die badkamer op die grondverdieping gekry.

Nadat Xander se saak tot volgende maande uitgestel is, het Stefaans almal op Facebook vir hul ondersteuning bedank.

“Ek dink nie julle besef wat julle vir ons beteken nie! Lief julle almal!” het Stefaans geskryf.

Vir Stefaans het die lewe vandag soos gewoonlik aangegaan, al breek sy hart in stukke. 

“Ek is oukei, dankie,” sê hy. Maar op Facebook het hy geskryf: “Pappa se hart brand! Ek mis jou Marna!”

Dit is steeds net te moeilik om oor sy Marna-muis en Sharnelle Hough se dood te praat. Tydens die onderhoud met Huisgenoot, het Stefaans gesê hy sukkel steeds om vrede te maak met sy dogter en haar vriendin se moord. 

“Dit het so onwerklik gevoel. Ek was bef**. Ek is nou nog bef**. Dis nie wat veronderstel is om met jou kind te gebeur nie. 

“Vir ’n ouer om ’n kind te verloor is ’n ander storie. By my was sy veilig, maar nou ja, dit was uit my hande.”