Die beheerliggaamvoorsitter, Richard Hopson, sê dit gaan goed met die leerlinge onder die omstandighede. 

“Hulle ontvang nog berading. Sommige kry individuele berading,” sê hy. 

Hy sê die skool word deur die beraders gelei oor hoe lank die berading nodig gaan wees en hoe intensief dit gaan wees. 

Marna en Sharnelle is Saterdagoggend na bewering in die Hoërskool Stella se koshuis in Noordwes vermoor. Sharnelle, of Lalla soos vriende en geliefdes haar ken, se ekskêrel Xander Bylsma is in verband met die moorde in hegtenis geneem. 

Sharnelle se liggaam is deur die koshuismatrone gevind waar sy aan die koshuistrap gehang het. Luidens die nadoodse ondersoekverslag is sy verwurg. Marna se lyk is later deur die polisie in die koshuis se badkamer gevind. Volgens die polisie is sy met ’n handsak se band verwurg. 

Kapt. Charlize van der Linden, woordvoerder van die polisie op Vryburg, het vroeër aan Huisgenoot bevestig Bylsma het ’n bekentenis gemaak. Hy is die enigste verdagte. 

Stilswye heers op die plattelandse dorpie en bitter min mense is bereid om enigiets oor die voorval te sê. 

Bylsma het reeds in die Vryburg-landdroshof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek tot Augustus uitgestel.