Hy is brandmaer waar hy in die beskuldigde­bank met sy rug na die regter toe staan. Hy’t pas die woorde gehoor wat sy naastes al maande lank vrees, maar oor sy gesig flits geen sweempie emosie nie.

Kiertsregop staan hy met sy hande in sy broeksakke en wag sy ma in wat vorentoe hardloop om hom te omhels. Sy druk haar enigste kind styf teen haar vas.

Bylsma se seun, ­Xander, skul­dig bevind is aan d
Emosionele tonele het in die hof afgespeel kort voor Monte en Mercia Bylsma se seun, ­Xander, skul­dig bevind is aan dubbele moord. Foto: Papi Morake

En dan is dit hý wat gerusstellend met die snikkende vrou praat terwyl hy haar hande styf tussen syne vashou.

Xander en sy ma, Mercia. Foto: Papi Morake
Xander en sy ma, Mercia. Foto: Papi Morake
Mercia was in trane. Foto: Papi Morake
Mercia was in trane. Foto: Papi Morake

Hier in die snikhete hofgebou in Mmabatho in Noordwes het die skokkende Stella-moordsaak pas ’n dramatiese ­einde bereik.

Met die eentonige gedruis van ’n enkele waaier as klankbaan het regter Ronald Hendricks saaklik sy ­bevinding uitgelees: Xander Bylsma (20) is skuldig op twee aanklagte van moord.

Hy hét sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en haar boesemvriendin, Marna ­Engelbrecht (16), in die vroeë ure van ­Saterdag 26 Mei 2018 in die meisies­koshuis van die Hoërskool Stella op dié dorp in Noordwes vermoor.

Die boesemvriendinne Marna Engelbrecht (links) en
Die boesemvriendinne Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough was onafskeidbaar voor hulle op Saterdag 26 Mei 2018 vermoor is.

Jaloesie en wraaklus het hom gedryf om die ondenkbare te doen – hy het die tienermeisies eers met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en hulle daarna doodgewurg.

Agter hom in die beskuldigdebank het Xander se oupa John Tapuch soos ’n gebroke man gelyk waar hy heeltyd met sy gesig verskuil agter ’n tydskrif na die verdoemende uitspraak geluister het.

Hier waar Xander nou in sy ­netjiese ligblou hemp en vlootblou das staan terwyl die regter die hof verlaat, lyk hy egter heeltemal in beheer van sy emosies. So asof hy glo dis nog nie die einde van die saak nie . . .

’n Strak Xander wag op die regter se uitspraak. Fo
’n Strak Xander wag op die regter se uitspraak. Foto: Papi Morake

Hy plaas sy hande op sy ma, Mercia, se skouers, staar haar stip in die oë en praat weer ernstig met haar. Sy knik instemmend en staan dan ’n paar treë weg sodat hy sy pa, Monte, en ander familelede met ’n handdruk kan groet. Tussen die mans word daar min gesê; almal lyk stroef en ernstig.

Die hof loop gou leeg en ons stap na Xander toe. Van naderby is hy duidelik moeg en sy oë is rooi, asof hy sleg geslaap of gehuil het.

Hoe voel hy oor die uitspraak? Wat volgende?

Hy antwoord eers met ’n skor “huh” asof hy keel skoonmaak. En toe: “Ek is orraait, Tannie . . . Ek wag net vir my appèl.”

Dan draai hy gedwee na die polisie­beamptes wat wag om hom na die selle te neem.

In die swetende voorportaal buite die hofgebou kook die spanning van die afgelope 21 maande in dié klein Noordwes-­boeregemeenskap egter eindelik oor.

Ten aanskoue van almal wat pas in die hof was, bestorm Xander se pa die onder­soekbeampte in die moordsaak, kapt. Marcus Ferreira, en slaan hom met die vuis. Die hou tref sy onderlip.

Terwyl ander omstanders hom bedwing, kyk die woedende Monte Bylsma in die rigting van Chris Saunders, die ­privaat speurder wat kort ná die moorde ’n omstrede bekentenis deur Xander op sy selfoon opgeneem het.

Chris gesels met Ronnie Hough (links), Sharnelle s
Chris gesels met Ronnie Hough (links), Sharnelle se pa, en Stefaans. Foto: Papi Morake

En hy snou vir Chris toe: “Ek kom vir jou ook . . .”

Want vir Monte is die skok net te groot, en die seer oor sy seun nog net te rou.

Die dag ná Xander se skuldigbevinding en Huisgenoot se saktyd sou hy in die hof hoor wanneer sy vonnis­oplegging sou begin. Die regter het vroeër aangedui dat hy moontlik twee lewenslange vonnisse in die gesig staar.

Maar vir die verpletterde families van sy twee jong slagoffers, wat mekaar by die hof op die tipies plattelandse manier met handdrukke en piksoene gegroet het, was die skuldigbevinding en die vooruitsig van lang tronkstraf vir die moordenaar van die twee lewenslustige en geliefde hoërskoolmeisies skrale troos.

Geregtigheid het geseëvier, ja. En hulle is dankbaar daarvoor.

Maar dit gaan nie hul kinders, wie se lewens nog voor hulle uitgestrek het, aan hulle terugbesorg nie . . .

Sharnelle se blonde ma, Sonja, het aanvanklik nie beplan om die regter se uitspraak by te woon nie.

Vervoer vanaf die vakansieoord op Koster waar sy werk, was ’n probleem en sy sou net vir die volgende dag se verwagte vonnisoplegging deurkom. Maar hier is sy nou, in ’n helder rooi bloes, danksy twee vriendinne wat plan gemaak het om haar in Mmabatho te kry.

Toe ons voor die uitspraak buite die hof praat, rem die spanning merkbaar aan haar skouers en mondhoeke.

“Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, wat ek voel en wat deur my kop aangaan nie. ­Alles het verander in my lewe. Alles . . .”

Ná die skuldigbevinding sê sy: “Ek is bly.” Maar haar gesig bly strak.

Sonja buite die hof. Foto: Papi Morake
Sonja buite die hof. Foto: Papi Morake

Sharnelle se pa, Ronnie – wat jare ­gelede van Sonja geskei is – lyk ouer en moeër as toe Huisgenoot hom destyds kort ná die moorde ontmoet het. Die sterk boer groet met sy gewone stewige handdruk, maar wil nie baie praat nie.

“Ek glo nie die uitspraak sal vir my afsluiting bring nie. ’n Fout is gemaak wat nie reggemaak kan word nie. Dit sal niks verander nie,” sê hy.

“Ek en my dogter het in ons lewe ’n lang, swaar pad gestap. Die vreugde in ons huis is weg . . .

“Elke dag as ek opstaan, wil ek net aangaan en die dag agter die rug kry. Ek kom huis toe en ek gaan werk toe. Naweke het ons altyd dinge gedoen; ons sou by my broers gaan braai, dam toe gaan. Ons doen dit nie meer nie. Ek het nie meer die krag nie.”

Sharnelle se dood het Ronnie geknak, bevestig Anna, met wie Ronnie ses jaar gelede getrou het. Die lig in sy blou oë het verdof.

“Ronnie het oud geword,” vertel sy hartseer. “Jy kan sien hy is moeg. Dit het hom vernietig. Sewe jaar lank het sy dogter by hom grootgeword. Jy kan amper sê hy het sy lewe verloor.

“Niks wat hy en Sharnelle saam vir haar toekoms beplan het, gaan gebeur nie. Toe haar vriendinne einde verlede jaar matriekafskeid toe is, toe van haar maats nou universiteit toe is, kon ek sien Ronnie vat dit baie sleg.

“Al haar drome, alles waarna sy so ­uitgesien het, niks gaan meer realiseer nie . . .”

Buite die hof vertel Sharnelle se oom Christi Hough en neef Junior ook van die pyn wat nooit wyk nie.

“As hegte familie is dit vir ons almal baie swaar,” sê Christi.

Junior vertel hy en Sharnelle – wat nege jaar jonger was – was erg oor mekaar. “Lallie se leemte sal altyd bly.”

Die pyn oor die “lelike dinge en leuens” wat hulle in die hof oor Sharnelle gehoor het, sal ook nie sommer deur die skuldigbevinding uitgewis word nie.

“Soos Xander se getuienis dat sy wou doodgaan . . . Lallie het altyd gelag,” sê ­Junior. “Sy was ’n sprankelende sonskyn­kind, die middelpunt van ons bestaan.”

Maar die twee stem saam: Lallie sou nie wou hê hulle moet haat in hulle dra nie.

En Marna se geliefdes?

“Hoe kan ek aangaan met my lewe?” vra haar pa, Stefaans Engelbrecht.

Van links is Rianet en Stefaans, Marna se ouers, s
Van links is Rianet en Stefaans, Marna se ouers, saam met haar ousus, Riané. Foto: Papi Morake

“My kind is dood. Ek wil net alles agter die rug kry. Ek wil net sien dat hy (Xander) sy pak kry. Alles het verander. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Niks het verander nie . . . Hy lewe immers nog.”

Brandon Victor

Brandon Victor.

En Brandon Victor (19), die nuwe kêrel in Sharnelle se lewe aan die vooraand van haar wrede en ontydige dood?

Hy het ná sy getuienis in November verlede jaar nie weer die hofsaak bygewoon nie en lewe so stil moontlik op Middelburg, Mpumalanga, waar mense hom nie op straat herken as die een na wie Xander in sy verweer die vinger probeer wys het nie.

“Ek probeer nie daaraan dink nie. Ek probeer net aangaan met my lewe,” vertel hy telefonies toe hy by Huisgenoot verneem Xander is skuldig bevind aan die dubbele moord.

“Ek het geweet die waarheid sal uitkom,” sê hy. “Ek is net bly dit is van my skouers af en nou kan ek finally vorentoe lewe my toekoms in . . . sonder om te worry of daar nog ’n hofsaak gaan wees of nie.”

Hy het ná die moorde berading gekry, vertel hy.

“Ek was by twee dominees en ’n sielkundige. Maar niemand, geen pille, kan daai seer wegvat nie.

“Dit sal vir altyd bly. Iemand vir wie ek lief was, is van my weggevat . . .

“Ek sit nog met die woede binne my.”

En dan tref dit hom weer: “Ek was die laaste een om hulle lewend te sien. Ek probeer hulle onthou soos hulle was daardie aand . . .”

Chris Saunders

Chris Saunders het Xander na die polisiekantoor op Vryburg geneem waar hy ’n bekentenis afgelê het.

Die forse privaat speurder Chris Saunders, van Crime Busters Security Harts­water, het met ’n swaar gemoed by die hof opgedaag vir die uitspraak in die saak wat die afgelope byna twee jaar sy lewe oorheers het.

Toe die beheerliggaamvoorsitter van die skool, Richard Hobson, hom daardie Saterdagoggend in 2018 gebel het, het hy nie ’n idee gehad wat op hom wag nie.

“Dit was die eerste keer in my lewe dat ek langs die lyke van twee jong meisies gestaan het,” sê dié pa van vier in sy rasperstem. “Ek is self ’n ouer en hier staan ek langs die lyke van twee meisies wat nog hul hele toekoms voor hulle gehad het . . .”

Daardie Saterdagmiddag, nadat hy by die afgryslike moordtonele in die koshuis was, is hy na Monte se plaas in die Louwna-­distrik. En daar tref hy toe vir Xander alleen aan, in ’n angstige toestand.

Aan die hof het Chris getuig dat hy Xander toe oorreed het om die 80 km saam met hom te ry van die plaas na die Vryburg-­polisiekantoor. Onderweg het Xander aan hom gebieg oor die moorde.

By die Vryburg-polisiekantoor het Xander ’n amptelike bekentenis gemaak wat later deur Xander onttrek is, maar eindelik deur die hof aanvaar is.

“Baie mense het my gekruisig,” sê Chris oor die feit dat hy ’n sleutelrol in die saak gespeel het.

Chris Saunders, in die swart pak, privaat speurder
Chris Saunders, in die swart pak, privaat speurder van Crime Busters Security op Hartswater, was ’n sleutelgetuie in die moordsaak teen Xander. Op die agtergrond is (van links) Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, haar ouer suster, Riané, en Sharnelle se ma, Sonja Hough. Foto: Papi Morake

“Ek verstaan Xander se ouers het óók seer. Maar Xander het homself op die ­toneel geplaas. Ek het daardie dag gedoen wat ek moes en het daarna nog lank die saak ondersoek, net om dood­seker te wees.

“Mense weet dit nie, maar ek het baie nagte ná Xander se bekentenis wakker gelê daaroor . . .”

Xander se familie is nie spraaksaam toe hulle by die hof in Mmabatho opdaag vir die uitspraak nie. Pa Monte glimlag soos altyd toe hy groet.

Die gesiene, forse boer lyk dapper, maar op die vraag hoe dit gaan, antwoord hy net stug: “Haal asem.”

Hy en Sharnelle se pa, Ronnie, kyk ­mekaar in die oë, maar die twee families gaan sit later apart op die harde geelhoutbanke. Hul lewens is nou vir altyd vervleg met mekaar, maar die kloof ­tussen hulle het byna onoorbrugbaar geword . . .

Toe Xander met sy gewone ligblou hemp instap, gee Monte oudergewoonte vir hom die vlootblou das wat hy altyd met sy hofverskynings dra. “Sterk staan, my seun,” sê hy.

Monte het oudergewoonte sy seun se das gebring omd
Monte het oudergewoonte sy seun se das gebring omdat dasse nie agter tralies toegelaat word nie. Foto: Papi Morake

Terwyl die sweet almal in die dik ­atmosfeer van Hof C aftap, lees regter Hendricks die verslag deur die patoloog: Marna is met ’n band verwurg; sy het ook trauma aan haar kop gehad, veroorsaak deur ’n stomp voorwerp. Sharnelle is ook met ’n stomp voorwerp geslaan. Sy is daarna ook verwurg.

En dan herhaal die regter die patoloog se bevinding: “Dr. Els het bevind Sharnelle wou nie doodgaan nie. Sy het hard teen haar aanvaller baklei . . .”

Die waaier dreun; die sekondes tik ­verby.

En toe bevind die regter Xander skuldig, en skielik is die opspraakwekkende verhoor verby.

Vir die eerste keer in maande het die boeregemeenskap antwoorde op die vrae waarmee hulle so lank moes worstel.

Ja, Xander hét die moorde gepleeg.

En in daardie nag op Stella hét die ondenkbare gebeur . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.