Xander (20) is Maandag skuldig bevind aan die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) op 26 Mei 2018 in die koshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes. Hy het kalm gelyk.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, en sy vrou was in die hof asook Xander se ma, Mercia, en haar pa, John Tapuch. Mercia het aan Xander ’n rooi das gegee om by sy netjiese langmouhemp te dra.

Monté Bylsma, Xander se pa, was nie by die hof nie. Hy word moontlik deur drie strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar nadat hy glo Maandag die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Markus Ferreira, kort ná die uitspraak in die gesig geslaan het.

Foto: Jana van der Merwe
Foto: Jana van der Merwe

Hy het na bewering ook twee getuies in die saak, kol. Corrie Kochlan, wat Xander se bekentenis afgeneem het, en Chris Saunders, die privaat speurder wat hom die dag aan die polisie oorgegee het, onderskeidelik rondgepluk en gedreig.

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het dit Maandag in die rekord ingelees en adv. Sakkie Nel het Xander versoek om met Monté daaroor te praat. 

Foto: Jana van der Merwe
Foto: Jana van der Merwe

Regter Ronald Hendricks het die saak tot 18 tot 20 Mei uitgestel vir vonnisoplegging.

Xander se regspan het vir uitstel gevra om voorvonnisverslae te laat opstel wat ter strafversagting gebruik gaan word.

Hendricks het Maandag bevind die staat het bo redelike twyfel bewys Xander is skuldig aan die moorde en ook dat hy dit vooraf beplan het.

Hy het bevind Xander het danksy jaloesie en wraak die motief gehad om Sharnelle en Marna te wil vermoor nadat Sharnelle nuwe liefde by Brandon Victor gevind het. Ook omdat Marna nie ten gunste daarvan was dat Sharnelle met Xander opmaak nie.

Foto: Jana van der Merwe
Foto: Jana van der Merwe

Hendricks het bevind die bekentenis wat Xander aan die polisie gemaak het, het gestrook met die getuienis wat in die hof aangehoor is. 

Sharnelle is verwurg voor sy aan ’n tou oor die trapreling laat sak is. Marna is waarskynlik met die einste handsakband verwurg wat om haar nek in die badkamer gevind is.