Die 21-jarige Xander Bylsma het Vrydag met 'n bont blou- en groen-masker en sy groen oë strak voor hom uitgestaar terwyl die regter sy oordeel in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes gefel het.

Regter Ronald Hendricks het met sy bloedrooi toga in 'n gematigde stemtoon Xander se dade as “skandelik en afskuwelik” beskryf voordat hy hom kort voor middagete tot dubbele lewenslange tronkstraf gevonnis het.

Hy het Xander nie net op die beplande moord van Sharnelle lewenslank gevonnis nie, maar ook van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar op Marna afgewyk.

Ook vir haar moord het hy hom lewenslank gevonnis.


Marna se pa, Stefaans, het sy hande in die lug gegooi van verligting. Hendricks het in sy uitspraak gesê die geweld wat Xander gepleeg het, kom in ’n tyd wat die land steier onder geslagsgebaseerde geweld op weerlose vroue en kinders.

“Dit kan nie meer besigheid soos gewoonlik wees nie. Die geweld moet stop. Die reg op lewe het net te goedkoop geraak in ons land. Die brutaliteit en koelbloedige aard van die moorde kan nie geïgnoreer word nie.”

Xander was net 19 jaar oud toe hy gevul deur wraak en jaloesie in die oggendure van Saterdag 26 Mei 2018, sy jag op sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17) in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella, op Stella, in Noordwes kom maak het.

“Jy het geen respek teenoor hulle gewys nie.”

Hendricks het in sy vonnis uitspraak gesê die dag toe Xander die dubbele moorde gepleeg het, het hy die ouers se drome vir hul kinders verpletter.

Xander se ma en pa, Mercia en Monté het Xander net vlugtig gegroet voordat hy dadelik by die hofsaal uit is.

Mercia was in trane en Monté was woedend.

Met die verrigtinge het hulle agter in die hof gesit en voor die tyd oudergewoonte vir hom klere gebring, terwyl hulle hom kort voor die tyd moed ingepraat het.

Xander by sy ma, Mercia, en sy pa, Monté Bylsma. F
Xander by sy ma, Mercia, en sy pa, Monté Bylsma. Foto: Jana van der Merwe
Xander by sy ma, Mercia, en sy pa, Monté Bylsma. F
Xander by sy ma, Mercia, en sy pa, Monté Bylsma. Foto: Jana van der Merwe
Mercia help Xander met sy masker. Foto: Jana van d
Mercia help Xander met sy masker. Foto: Jana van der Merwe

Xander het nie teneergedruk of gespanne voorgekom nie.

Stefaans Engelbrecht, het met 'n groot foto van sy vermoorde dogter, Marna (16) langs hom in die hof gesit en kort voor die verrigtinge begin het, gesê: "Ons gaan aan. Ek is bly die dag is hierso."

Op 'n vraag oor hoekom hy die foto saam gebring het: "Ek wil hom herinner aan wat hy van my af weggeneem het."

Stefaans Engelbrecht, Marna se pa in die hof. Foto
Stefaans Engelbrecht, Marna se pa in die hof. Foto: Luba Lesolle

Net meer as twee jaar het verloop sedert die moorde wat die land geskok het.

Hy wou nie aanvaar dat Sharnelle, met wie sy verhouding sowat twee maande tevore skipbreuk gelei het, aanbeweeg het nie.

Marna Engelbrecht (16), haar boesemvriendin, sou egter die eerste wees om in die spervuur te beland. Die hof het in Februarie Xander daaraan skuldig bevind dat hy in die ingewing van die oomblik eerste vir haar in die badkamer doodgewurg het.

Hy het immers genoeg motief gehad. Dié meisie, wat ook sy kleinniggie was, was lank reeds 'n doring in sy vlees omdat sy teen sy stormagtige liefdesverhouding met Sharnelle, gekant was.

Xander Bylsma word op Vrydag 7 Augustus 2020 gevon
Xander Bylsma word op Vrydag 7 Augustus 2020 gevonnis. Foto: Jana van der Merwe

Die staat sou in sy slotbetoë Woensdag aanvoer, sonder dat hy homself sou bedink, het Xander aangegaan om sy fynbeplande moordplan uit te voer.

Dit sou die getuienis van nóg 'n voormalige vriendin van Xander in die verhoor wees dat Xander in die dae voor die moorde aan haar gesê het hy gaan Sharnelle se lewe so hel maak, dat hy haar tot "selfdood sou dryf".

Die toneel waarop eers die koshuismoeder en later die polisie sou afkom, is ontwerp om soos 'n dubbele selfdood te lyk. Sharnelle se lyk sou aan die trapreling hang. Marna was in die badkamer met 'n handsakband om haar nek. Die vermoede was egter dadelik daar dat nie een van hierdie sterftes self toegedien was nie.

Netwerk24 het Woensdag berig die maatskaplike werker, Portia Pedinyane, wat Xander se voorvonnisverslag opgestel het, het getuig Xander sou tot die einde volhou hy is onskuldig.

Luister hier na Huisgenoot se podcast oor die storie agter die Stella-moordsaak