Hendricks het in fyn besonderhede die getuienis teen Xander herhaal voordat hy Xander (20) onomwonde skuldig bevind het. 

Hy het met erns en sekerheid bevind Xander se weergawe kan nie geglo word nie.

Hendricks het bevind Xander het inderdaad sy dade vooruit beplan voordat hy vir Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in die oggendure van Saterdag, 26 Mei 2018 wreed in die skool se koshuis gaan verwurg het en die toneel soos selfdood laat lyk het.

Regter Hendricks het Xander as ’n onbetroubare getuie bestempel, en bevind dat sy weergawe deurtrek is met teenstrydighede.

Hy het wel die getuienis van Anastasia Visser, ook ’n eksvriendin van Xander, asook Brandon Victor, Sharnelle se volgende kêrel, aanvaar. Hy het Xander se weergawe dat Brandon “dalk” Sharnelle kon vermoor het as baie “vergesog” bestempel.

Hy het die getuienis deur die loop van die verhoor teen Xander as “oorweldigend” bestempel. 

Die beweringe oor halfnaakte foto’s het deurentyd ’n rol gespeel en daar was net “te veel toevallighede”.

Regter Hendricks het gesê in die dae voor die moorde het Xander reeds gesê hy sal Sharnelle na selfdood dryf, dat hy die onvanpaste foto’s wat Sharnelle van haarself geneem het vir haar pa sal stuur.

Die regter meen dit was net “te veel van ’n toevalligheid” dat die foto die oggend van die moorde na Ronnie gestuur is, dat die toneel soos selfdood gelyk en Xander ook melding daarvan in sy bekentenis gemaak het. Baie van dit is feite wat net iemand wat op die toneel was van sou geweet het.

Hy meen met sy weergawe het Xander deurentyd afstand probeer skep van die feit dat hy die foto kon gestuur het ná 04:00 die oggend.

Hy het bevind Xander was daardie nag “in geen haas” om by Sharnelle uit te kom om te versoen nie. Die regter voer aan dit is omdat hy geweet het hy moes wag tot almal slaap voordat hy sy planne kon uitvoer.

“Ek bevind Xander het nadat hy by Sharnelle weg is haar nooit weer gebel het nie, nie eens om te hoor hoe het sy geslaap nie, omdat hy geweet het sy is dood.”

Die verdediging het aangedui hulle gaan eers tyd nodig het om voorvonnisverslae op te stel voordat die vonnisoplegging kan begin.